<< Chapter < Page Chapter >> Page >

Hulle staan en bekyk die masjien; en Patrys stoot onbewus sy bors uit by die gedagte: “Dis my werk dié!”

“Kyk, outa, hierdie goed is die vlerke.”

“Nou ja, my kleinbasie; laat hulle dan ’n bietjie klap,” sê die ou.

“Nee, ou Moos, hulle kan mos nie klap nie; hulle staan maar al die tyd doodstil.”

“Haikôna,” sê ou Moos. “As die vlerk hy nie klap nie, die voël hy bly op die grond.”

“Nee, ou Moos, jy verstaan die ding nie. Jy sien, ek maak die vlerke onder my arms vas, en dan draai ek hierdie stuk sinkplaat wat so ’n swaai in hom het, en dis hy wat my sal laat trek deur die lug.”

Ou Moos kyk ongelowig. “Daardie ding? Ek glo hom nie.”

“Ag, kan jy dan nie sien hoe die ding werk nie?” vra Patrys ongeduldig. “Ek draai hierdie wiel wat ek van die nooi se masjien afgehaal het; sy riem draai daardie klein wiel waar die propeller aan vas is, en hy draai hom so vinnig dat ek in die lug sal intrek. Wag maar, jy sal sien.”

Kopskuddend staan ou Moos nog die ding en bekyk. “Daardie prekant in die lokasie hy sê as ek nie steel nie en ek doen nie kwaad nie, dan kry ek vlerke as ek dood is. Ek sal maar wag vir daardie vlerke, want dan kan ek my nie meer doodval nie.”

Patrys lag oor hierdie teologiese opvatting. “En wat sal jy dan wees?” vra hy, net om verder wysheid uit te lok, “’n mens of ’n voël?”

“Kleinbasie, ek weet nog nie. Maar die moroetie sê so, en hy is ’n banja slim man, en hy dra swart klere op Sondag, net soos oubaas Freek.”

Oom Freek Visasie is ’n ouderling met ’n manel wat amper op sy voete hang.

“Nou, vat aan, outa,” sê Patrys.

Maar Moos wil nog iets weet. “Waar gaan my kleinbasie weer afkom uit die lug?” vra hy.

“Ek weet nog nie, outa; die beste sal seker wees om hier voor die huis in die straat te land. Maar kom nou!”

Die leer staan al klaar teen die huis, en sukkel-sukkel kry hulle die affêre op die dak. Daar bo bind Patrys die masjien aan sy bolyf vas met stukkies tou en rieme – en nou is alles agtermekaar. Hy staan versigtig op, want dis op die beste tyd moeilik om op so ’n dak se nok te staan. Net toe hy staan, kom daar ’n windjie wat hom byna vooroor gooi op die druiweprieel. Gou gaan hy weer sit.

“Hè!” sê ou Moos wat vol verwagting daar staan. “Hy lig hom stert al! Hy mik al! Auk, my kleinbasie!”

Daar bo-op die dak voel Patrys skielik effens kleingelowig; die wêreld is tog maar taamlik ver onder hom as daar miskien ’n riem losgaan! Maar hy voel die ou voortrekkersbloed in hom bruis, en met ’n harde “Hoerê!” begin hy die wiel te draai. Die “propeller” gee naderhand al ’n klank soos ’n sieklike woer-woer.

“Bulperd, bulperd!” sê ou Moos met innige bewondering.

“Totsiens, outa!” roep Patrys, en hy gee ’n geweldige sprong vorentoe. Net op dié oomblik kom daar ook skielik weer ’n rukwindjie wat die masjien onder sy vlerke vat en skoon oor die prieel dra. Pardoems! val Patrys in die heining voor die huis. “Auk!” sê outa Moos, “maar hy vlieg gou klaar!” En hy stap so vinnig as wat sy ou gebeente dit toelaat, om te kyk wat die vlieër nou gaan doen.

In die straat aangekom, sien hy die gevaarte in ’n ontredderde toestand in die heining hang, en af en toe kom daar ’n steun uit die verwarde hoop. Kan daar miskien iets verkeerd gegaan het? Maar nee, sy kleinbasie het mos gesê hy sal hier voor die huis land. Tog probeer hy ’n draffie aan te slaan om gouer by die hand te wees in geval sy hulp tog nodig mag wees.

Get Jobilize Job Search Mobile App in your pocket Now!

Get it on Google Play Download on the App Store Now




Source:  OpenStax, Afrikaans huistaal graad 8. OpenStax CNX. Sep 11, 2009 Download for free at http://cnx.org/content/col11037/1.1
Google Play and the Google Play logo are trademarks of Google Inc.

Notification Switch

Would you like to follow the 'Afrikaans huistaal graad 8' conversation and receive update notifications?

Ask