<< Chapter < Page Chapter >> Page >

Afrikaans huistaal

Graad 7

Module 6

Tyl uilspieël

Uilspieёl neem die dorp op horings

Op ‘n dag sê Tyl vir sy ma: “Ek gaan op ‘n tou loop soos hulle in die sirkus doen.”Wat makeer jou?” vra sy ma, verskrik .“Jy sal afval en jou nek breek.”

“Nee Ma, ek oefen lank reeds in die geheim op ons solder om op ‘n tou te loop. As ek dan ook boonop soos ‘n hanswors aantrek, en grappies maak, sal ek twee keer soveel geld maak.”

“En as jy afval?” vra sy ma benoud.

“Toemaar Ma, ek sal nie val nie, vir die veiligheid sal ons ‘n matras onder sit. Ek het reeds vir my maats belowe om môre vir hulle ‘n vertoning te lewer. Ek gaan ‘n tou bokant ons venster vasmaak, en dan weer oorkant die straat aan die bure se huis.”

“Ag Tyl, waarom is jy tog so stout?” sug sy ma, Maar hy steur hom nie aan haar nie. Hy het die tou gespan en daarop geklim.

As hy maar geweet het van die plan wat die bure in die mou gevoer het, het Tyl dit sekerlik nooit gewaag nie. Omdat hulle vir hom kwaad was oor die poets wat hy hulle vroeër gebak het, het hulle ‘n plan beraam om hom in eie munt terug te betaal.

Net toe Tyl op die tou op sy een been gaan staan en sy arms uitsteek om sy balans te behou, sny die bure se kinders skielik die tou af en daar tuimel hy neer. Gelukkig het hy op die matras geval, maar vir dae lank kon hy skaars sit of loop. Terwyl hy daar op die matras op sy rug lê, het hulle hom lekker uitgelag en gespot. Uilspieël het gemaak of hy hulle nie hoor nie, maar in die stilligheid het hy gedink: “Toemaar, ek sal julle terugkry.”

‘n Paar dae later kondig hy aan dat hy op die mark ‘n tweede vertoning gaan gee. Die dorp se mense is almal daar om die pret te aanskou. Uilspieël se vriende kom almal hand gee en sê met ‘n spotlaggie: “Ons hoop dat dit hierdie keer beter met jou sal gaan.”

“O, julle gaan verstom staan oor al die wonderlike toertjies wat ek vandag gaan uithaal,” belowe die voornemende koorddanser. “Maar voor ek begin, moet julle my help. As die toeskouers elkeen hul linkerskoene uittrek en vir my aangee, sal ek vandag sorg vir heerlike pret.”

Ewe onnosel voldoen die mense aan sy versoek en kort voor lank het Tyl ‘n hele klomp skoene bymekaar. Hy ryg hulle almal met ‘n tou aanmekaar en klim bo-op een van die hoë pale waaraan die tou vasgemaak is. Hy gaan sit op die paal en waai vrolik vir die mense.

“Toe nou,” skree die toeskouers ongeduldig. “Begin nou met jou grappies. Hoekom het ons dan ons skoene vir jou gegee?”

“O, ek wil hulle eers sit en bekyk,” skreeu Uilspieël bo van die paal af. “Hier is ou Ryk Soul se flentertoiings wat al seker honderd maal versool en gelap is. Dit is ‘n skande vir so ‘n ryk man. Hierdie blinkleer stewel behoort seker aan Fanie Fyntrap. Ek wonder of hy al ooit daarvoor betaal het.”

Een vir een bekyk hy die skoene soos ‘n bobbejaan. Die toeskouers word al kwater vir hom. Elkeen is doodbenoud dat sy skoen aan die beurt sal kom. “Ons was gekke om ons skoene vir die mannetjie te gee”, dink hulle.

Maar Tyl geniet homself gate uit. “Aan wie sou hierdie skeefgetrapte, slordige ou stewel behoort?” skreeu hy. “Tog nie aan Meester nie? Wat moet die skoolkinders van hom dink? En hierdie skoentjie met die fyn spitsneusie? Hoe sou Ellie Platvoet ooit haar breë platannas daarin kry?”

Get Jobilize Job Search Mobile App in your pocket Now!

Get it on Google Play Download on the App Store Now




Source:  OpenStax, Afrikaans huistaal graad 7. OpenStax CNX. Sep 09, 2009 Download for free at http://cnx.org/content/col11016/1.1
Google Play and the Google Play logo are trademarks of Google Inc.

Notification Switch

Would you like to follow the 'Afrikaans huistaal graad 7' conversation and receive update notifications?

Ask