<< Chapter < Page Chapter >> Page >

Lewensoriëntering

Graad 6

‘n gesonde leefwyse

Module 1

Toevoegings (bymiddels) tot kossoorte

Die gesondheidsimplikasies van toevoegings (bymiddels) in voedsel

Vir hierdie module is dit wenslik dat elke leerder ten minste een verwerkte kos-item skool toe bring, bv. ‘n pakkie aartappelskyfies, ‘n pakkie jellie en blikkieskos, bv. ingelegde perskes, geblikte ertjies, ens. Hierdie items moet verkieslik iets wees wat gereeld in hulle huishouding gebruik word.

(a) Wat is voedseltoevoegings (bymiddels)?

Vanaf die vroegste tye het mense gebruik gemaak van byvoegings in kos om die smaak te verbeter of die produk langer te laat hou. Van die eerste middels wat gebruik is, was sout, suiker en asyn. Dit is eers die afgelope 30 jaar met die produksie van geprosesseerde kos dat daar ‘n dramatiese toename in die gebruik van chemiese toevoegings in kos gekom het. Die meeste van hierdie byvoegings is veilig vir menslike gebruik, maar daar is chemiese produkte wat gebruik word wat toksies of karsinogenies van aard is. Dit beteken dat van hierdie chemiese middels skadelik is vir ‘n mens en kan veroorsaak dat jy later in jou lewe kanker opdoen. Dit is ook algemeen bekend dat sekere bymiddels hiperaktiwiteit by kinders kan veroorsaak, asook allergieë, asma en migraine. Die MSG (Monosodium Glutamate) wat bv. op sekere bekende pakkies aartappelskyfies verskyn, behoort jou twee keer te laat dink. Navorsing het getoon dat MSG moontlik hiperaktiwiteit, disleksie, depressie en ander skadelike gevolge veral onder kinders kan veroorsaak. Bensoësuur (benzoic acid), sodium siklamaat (Sodium cyclamate) en kleurmiddels in rooi aanmaakkoeldrank kan ook allergieë en ander negatiewe gevolge veroorsaak.

Bymiddels is bestanddele wat bygevoeg word in kos, kosmetiese middels en verpakkingsmateriaal met die doel om die natuurlike eienskappe te wysig om sodoende stabiliteit, smaak, onkoste of vermoëns te beïnvloed.

Die inligting wat jy in hierdie module gaan kry, is nie bedoel om jou benoud te maak oor elke happie kos wat jy in jou mond sit nie, maar om jou te leer om twee keer te dink voordat jy iets goedsmoeds verorber. Wanneer jy kos koop, moet jy nie net kyk na die prys van die produk nie, maar lees ook op die verpakking WAT jy besig is om te koop. Vervaardigers word deur gesondheidsowerhede verplig om sekere inligting op verpakking aan te bring. Wanneer jy weer ‘n supermark besoek, kyk gerus op hoeveel voedsel-verpakkings daar groot geskryf is dat dit geen MSG bevat nie. Daar is produkte wat skadelike chemiese byvoegings bevat of wat vir die verbruiker gesondheidsrisiko’s inhou (dink maar aan sigarette). Dit is jou eie dommigheid om jou nie te vergewis van hierdie inligting nie. Nie-skadelike toevoegings is daardie bymiddele wat van natuurlike kossoorte gemaak word. Lesitien word bv. van soja gemaak en vitamine C kom van suurlemoensap. Voedselbymiddels word soms van dierprodukte gemaak en dit hou ook implikasies in vir sekere geloofsgroepe. Die Moslems mag bv. nie produkte eet wat van varke afkomstig is of van sekere diere wat nie volgens die Islamitiese gebruik geslag is nie (Halaal).

In Europa word voedselvervaardigers volgens wet verplig om sg. E-nommers aan te bring op voedselverpakking wat aandui presies watter toevoegings gemaak is. Suid-Afrikaners behoort ook hierdie saak meer ernstig op te neem en aan te dring op volledige inligting op verwerkte produkte. Dit sal verstandig wees om die volgende bymiddels te vermy: sodiumnitraat, sakkarien, kaffeïen, oliesuur (olestra), acesulfame K, kunsmatige kleurstof en MSG.

Onthou, elke kok is eintlik ‘n wetenskaplike en die koek wat hy bak of pastagereg wat hy maak, is 'n wetenskapeksperiment. Koskook is chemie in aksie met die byvoordeel dat die eindproduk geëet kan word.

Aktiwiteit 1:

Om ‘n lys van voedseltoevoegings te maak

[LU 1.1]

Kyk mooi na die inligting wat op die blikkie of pakkie kos staan wat julle groep skool toe gebring het.

(a) Maak ‘n lys van die inligting wat op die verpakking voorkom. (Let wel: hierdie afdelings sal nie op elke etiket verskyn nie). In Suid-Afrika word die meeste inligting slegs in Engels aangedui en is dit dus nodig dat jy ook die terme in Engels verstaan:

Bestanddele (Ingredients)

Voedingsinformasie (Nutritional information)

(b) Onderstreep nou die volgende woorde in die lys:

Geurmiddels / Flavourants

Kleurmiddels / Colourants

Aansuurmiddels / Acidifying agents

Bymiddels / Additives

Preserveermiddels / Preservatives

Omkring woorde wat jy nie verstaan nie of wat vreemd klink, bv. sodium citrate, sucrose, ens.

(c) Kies nou vyf van hierdie woorde en soek hul betekenisse in ‘n verklarende woordeboek op. (Julle sal ‘n Afrikaanse en Engelse verklarende woordeboek moet gebruik). Indien jy byvoorbeeld die woord natriumbikarbonaat op die bakpoeierblikkie opsoek, sal jy die volgende verduideliking in die HAT vind: koeksoda.

(d) Probeer vasstel of hierdie byvoeging skadelik is. Klassifiseer woorde met die volgende tekens:

 Veilig

∀ Probeer sover moontlik uitsny uit dieet

Wees versigtig

 Sommige persone moet dit vermy

ρ Gevaarlik

Assessering

Leeruitkomstes(LUs)
LU 1
GESONDHEIDSBEVORDERINGDie leerder is in staat om ingeligte besluite oor persoonlike, gemeenskaps- en omgewingsgesondheid te neem.
Assesseringstandaarde(ASe)
Dit is duidelik wanneer die leerder:
1.1 maniere voorstel om die voedingswaarde van eie persoonlike dieet te verbeter;
1.2 optrede evalueer om ’n omgewingsgesondheidsprobleem te hanteer;
1.3 strategieë beskryf om met siektes, insluitend MIV/vigs, saam te leef;
1.4 die persoonlike gevoelens, gemeenskapsnorme, waardes en sosiale druk bespreek wat met seksualiteit gepaardgaan.

Get Jobilize Job Search Mobile App in your pocket Now!

Get it on Google Play Download on the App Store Now




Source:  OpenStax, Lewensorientering graad 6. OpenStax CNX. Sep 07, 2009 Download for free at http://cnx.org/content/col11001/1.1
Google Play and the Google Play logo are trademarks of Google Inc.

Notification Switch

Would you like to follow the 'Lewensorientering graad 6' conversation and receive update notifications?

Ask