<< Chapter < Page Chapter >> Page >

Afrikaans huistaal

Graad 5

Oom kowie en mister king

Module 13

Mondelinge tekste en rollees

AKTIWITEIT 1

OM NA ‘N MONDELINGE TEKS TE LUISTER EN GEPAS DAAROP TE REAGEER [LU 1.1]

OM KENMERKE VAN ‘N MONDELINGE TEKS (STRUKTUUR, TAAL, TOON, REGISTER) TE IDENTIFISEER [LU 1.3]

OM VERTELPERSPEKTIEF TE IDENTIFISEER EN TE BESPREEK [LU 3.8.1]

Hier volg ‘n uittreksel uit Abraham H. de Vries se “Kowie Brönn van Montagu”. Julle kan die volledige storie vind in Storie-sjêmpyn: 50 humoristiese vertellings , saamgestel deur Jan Vosloo (Tafelberg Uitgewers).

Die uittreksel is ook effens aangepas om dit vir julle makliker te maak. Volg dit terwyl jou opvoeder dit vir julle voorlees en luister veral mooi hoe die stem gebruik kan word.

Kowie Brönn van Montagu

Kowie Brönn vertel, hy sê, ek droom ek stap in Engeland en ek stap by Buckingham Palace verby, toe staan die bodeur oop, en daar trek darem ‘n rokie uit die skoorsteen uit. Slaap darem nie meer nie, dog ek.

Ek staan nog so, hier kyk die Prince of Wales oor die onderdeur, handevryf-handevryf. Toe sien hy my. Maar wás hy bly.

“Oom Kowie Brönn, maar dis mos Oom!” sê hy. “Kom in, Oom. Pa sal darem graag met Oom ‘n woordjie wou breek, hy skeer net gou.”

Ek daar in, hier kom die koning ook aan. Val my byna om die nek.

“Kowie Brönn van Montagu, waar in die wye wêreld kom jy vandaan?” vra die koning.

“Nee,” sê ek, “ek stap maar hier in Engeland rond. Ek is nou nie aangetrek nie, want ek het nie gedink ek sou aankom nie.”

Maak g’n niks saak nie,” sê die koning en hy vat my aan die arm. “Hoe gaan dit met Montagu? Leef ou Epsie nog?”

“Uitgespaar, die Jouberts almal,” berig ek.

“En met ou Tjops le Roux?”

“Ook,” sê ek. “Spekvet en gesond.”

“Ag, en met oumatjie Rachel Keet? Voel sy nog die badwater so met die elmboog?”

“Skop nog vas,” sê ek. “Bietjie rumatiek, maar sy vang hulle nog.”

“Toe ons daar was, was Liesbet en Magriet nog opgeskote. Ek is so jammer, want vandag se kleingoed mis so baie. Maar Kowie,” sê die koning, “van rumatiek gepraat, kom ons stap vorentoe, Buckingham Palace is lekker in die somer, maar in die winter trek die ou kasarmte. Trap net mooi, hulle het vanoggend die kombuisvloer gesmeer.”

Ek en hy daar af in die lang ou gang met die portrette weerskante teen die mure, die een koning na die ander, lewensgroot, en al die rame is dúúr, ingevoerde goed, dit kan jy sommer sien.

In die groot troonkamer, met die hoë goue solder en die kandelare wat so hang en nog honderde portrette teen die mure, gaan sit die koning op sy troon en hy trek die springbokvelletjie met sy swart kerkskoen haaks.

Ek vat ‘n bokstoeltjie en ek haal my hoed af en ek dog: Kowie, nou moet jy nie links laat lê nie, nou moet jy jou belangstelling wys.

“En hoe gaan dit met missus Liesbet?” vra ek.

“Bo by die hairdresser vir vanaand se ete,” sê die koning.

“En met Ouma Mary?” verneem ek.

“Ag Kowie, die oumens raak oud, sy help nou en dan met ietsie in die kombuis, met die kokery, maar meestal is sy bo in die kamer. Maar, jong, Kowie, voor ons verder gesels, sê vir my wat wil jy drink? Warm port of koue port? The choice is yours.”

Get Jobilize Job Search Mobile App in your pocket Now!

Get it on Google Play Download on the App Store Now




Source:  OpenStax, Afrikaans huistaal graad 5. OpenStax CNX. Sep 22, 2009 Download for free at http://cnx.org/content/col10989/1.2
Google Play and the Google Play logo are trademarks of Google Inc.

Notification Switch

Would you like to follow the 'Afrikaans huistaal graad 5' conversation and receive update notifications?

Ask