<< Chapter < Page Chapter >> Page >

AFRIKAANS HUISTAAL

Graad 5

DIE ETE EN DIE ETER

Module 9

INFORMATIEWE TEKSTE

AKTIWITEIT 1

OM DIE HOOF- EN ONDERSTEUNENDE GEDAGTES IN ‘N INFORMATIEWE TEKS TE IDENTIFISEER

[LU 3.9.1]

Die volgende leesstuk is vir stillees bedoel. Wanneer jy dit klaar gelees het, moet jy probeer om die hoofgedagte in die stuk in een sin te skryf.

ONS EET SAAM

Gewoonlik is aandete die hoofmaaltyd vir die lede van ‘n huisgesin. In ons moderne, gejaagde tyd is dit egter nie altyd moontlik om al die gesinslede gelyktydig aan tafel te hê nie. Redes daarvoor kan byvoorbeeld wees dat ouers soms laat werk of kinders moet ‘n geleentheid by die skool bywoon.

Om te eet terwyl jy televisie kyk, moet die uitsondering eerder as die reël wees. Die ideaal is dat almal saam sal aansit, die televisie sal afskakel en mekaar se geselskap sal geniet terwyl geëet word. Dit het natuurlik wonderlike voordele: elkeen kan vertel hoe sy of haar dag verloop het en jy kan sommer hoor wat met die ander gedurende die dag gebeur het. Verder kry jy die wonderlike geleentheid om by jou ouers te leer wat goeie tafelmaniere is sonder dat daar met jou geraas word oor wat jy verkeerd doen – solank jy net gewillig is om te leer wat reg is! Weet jy hoe om tafel te dek? Help jy ooit opruim na ete?

Die verdere voordeel is natuurlik dat kos baie lekkerder smaak as daar ‘n gemoedelike atmosfeer om die tafel heers.

HOOFGEDAGTE

b) Aan water redes kan jy dink waarom ‘n gesin nie gereeld saam aan tafel eet nie?

So maak mens aan tafel

‘n Mens leer jou hele lewe lank. Wanneer jy nog jonk is, is daar meer om te leer, omdat daar meer dinge is wat jy nie weet nie of wat jy nog nie kan doen nie. Jy leer by die huis en jy leer by die skool, maar jy leer ook op ander plekke. Iets wat ons maar liewer moet leer terwyl ons nog jonk is, is goeie tafelmaniere. Miskien eet jy eendag saam met jou ouers of maats by ‘n restaurant of ‘n hotel. Watter vurk of mes of lepel gebruik jy vir die verskillende geregte? Iemand gaan beslis raaksien hoe jy jou aan tafel gedra en dan gaan dié persoon iets oor jou te sê hê. Kom ons maak seker dat dit iets moois sal wees. Aktiwiteit 1.2 sal ons daarmee kan help.

AKTIWITEIT 2

OM VRAE VIR ‘N ONDERHOUD OP TE STEL

[LU 5.2.1]

Jy gaan met iemand van jou keuse ‘n onderhoud voer oor tafelmaniere. Voordat jy daarby kom, probeer om eers minstens vyf van jou eie vrae op ‘n los vel papier te skryf. Al die vrae moet oor tafelmaniere handel, byvoorbeeld: Hoe behoort mens aan tafel te sit? Hoe kou ‘n mens? ensovoorts.

Wanneer julle daarmee klaar is, sal julle opvoeder toesien dat julle in groepe van so vier of vyf elk verdeel. Sit koppe bymekaar en kyk of julle saam ‘n lys van tien vrae oor tafelmaniere kan saamstel. Maak kort aantekeninge van almal se idees sodat jy jou eie lysie van vyf vrae kan aanvul.

Skryf nou die tien vrae onder mekaar neer. Nommer hulle (a) tot (j).

AKTIWITEIT 3

OM ‘N ONDERHOUD TE GERBRUIK OM INLIGTING TE VERKRY

[LU 5.2.2]

Reël ‘n onderhoud met ‘n volwasse persoon (verkieslik jou ma) ten minste twee dae vooruit. Sê vir haar waaroor die onderhoud gaan en hoeveel vrae jy het om vir haar te vra. Indien sy dit verkies, kan jy die vrae vir haar vooruit gee sodat sy kan weet wat jy gaan vra. Kom met haar ooreen ongeveer hoe lank die onderhoud sal duur (onthou, jy moet aantekeninge van haar antwoorde maak!) en wanneer dit sal plaasvind.

Get Jobilize Job Search Mobile App in your pocket Now!

Get it on Google Play Download on the App Store Now




Source:  OpenStax, Afrikaans huistaal graad 5. OpenStax CNX. Sep 22, 2009 Download for free at http://cnx.org/content/col10989/1.2
Google Play and the Google Play logo are trademarks of Google Inc.

Notification Switch

Would you like to follow the 'Afrikaans huistaal graad 5' conversation and receive update notifications?

Ask