<< Chapter < Page Chapter >> Page >

Die maer man is baie bly, sit sy boompie en takkies neer, maak sy broeksakke vol appeltjies en tel sy bondeltjies weer op.

“Totsiens, en baie dankie Meneer,” sê hy.

“Totsiens,” sê die ou man. “’n Geseënde Kersfees vir jou!”

“Dieselfde vir u Meneer!” Die maer man draai om om huis toe te gaan.

“Gee my liefde vir jou kinders!”

“Wie sal ek sê stuur die liefde?”

“Ag, sê maar net ‘n vrolike, ou man,” en hy lag.

Die maer man kom uiteindelik by die huis. Nadat sy kinders bed toe is, maak hy ‘n ou kartondoos vol grond en plant die boompie daarin. Hy sit ‘n kers heelbo in die boompie, en versier die takkies met die klimop en takkies met bessies. Daarna maak hy ‘n stukkie tou vas aan elke appeltjie se stingeltjie en hang hulle ook aan die boompie.

Op Kersoggend is die kinders vreeslik opgewonde toe hulle die boom sien. Hulle dans om die boom en klap hulle hande. Hulle sê die volgende terwyl hulle om die boom dans:

“O, hoe pragtig! O, hoe pragtig!

Ons het ‘n boom,

‘n Mooier boom kry jy nêrens nie,

O, ons het ook ‘n boom”!

“Ons moenie die ou man vergeet wat die appeltjies gekry het nie. Hy het sy liefde ook vir julle gestuur.”

“Wie is dit, Pappa?” vra die kinders.

“Ag , sommer net ’n vrolike ou man,” sê hy.

“Dankie, vrolike ou man!” skree die kinders.

Dit is ’n vrolike dag, al het hulle net koolsop en brood om te eet en geen presente nie.

“Wanneer kan ons die appeltjies eet?” vra die kinders.

“Kom ons wag ‘n paar dae,” sê hulle pa.

Daardie aand, voordat hy gaan slaap, kyk die man weer na die appeltjies. Hulle lyk vir hom tog groter. Elke aand, voordat hy gaan slaap, kyk hy na die appeltjies, en elke aand is hulle groter. ‘n Paar dae later is die appels só groot dat die denneboompie se takke amper breek van die gewig.

“Kinders, vandag gaan ons hierdie appels eet. Hulle is nou só groot dat hulle nie meer langer kan hang nie. Ons kan vandag elkeen ‘n halwe appel eet.”

“Nee, nee, ‘n hele appel!” skree die kinders, “asseblief Pappa.”

“Wel, kom ons begin met ‘n halwe appel elk,” sê hulle pa.

Die man vat ‘n mes en begin om een van die appels middeldeur te sny. Die mes sny deur die sappige appel en die kinders gil van opgewondenheid. Skielik sny die mes nie verder nie, want daar is iets baie hard in die appel – dit keer die mes. Die man draai die appel om en probeer van die ander kant af sny, maar dieselfde gebeur. Wat kan dit wees?

“Wat is verkeerd Pappa?”

“Ek weet nie, hier is ‘n harde ding binne-in die appel.”

Die man sit die mes neer en breek die appel sommer verder met sy hande oop.

“Oe, haai, wat is dit?”

Daar heers doodse stilte, want in die middel van hierdie appel is daar . . . .

[LU 3.6.1]

Skriftelike werk

Hoe het hierdie storie geëindig? Glad nie bevredigend nie, nè! Julle moet nou self die laaste twee paragrawe (of meer) skryf om te sê hoe hierdie storie geëindig het. Skryf minstens twee, maar nie meer as vier, paragrawe nie en vertel hoe jy dink hierdie storie geëindig het.

Begin só:

In die middel van die appel is daar __

[LU 4.3.1]

Mondeling

Verdeel nou weer in groepe. Elke groeplid lees nou sy weergawe van die storie se slot voor. Die groep besluit nou saam wie se slot die beste is.

Get Jobilize Job Search Mobile App in your pocket Now!

Get it on Google Play Download on the App Store Now




Source:  OpenStax, Afrikaans eerste addisionele taal graad 5. OpenStax CNX. Sep 22, 2009 Download for free at http://cnx.org/content/col10990/1.2
Google Play and the Google Play logo are trademarks of Google Inc.

Notification Switch

Would you like to follow the 'Afrikaans eerste addisionele taal graad 5' conversation and receive update notifications?

Ask