<< Chapter < Page Chapter >> Page >

SOSIALE WETENSKAPPE: GESKIEDENIS

Graad 5

DIE ANTIEKE ROMEINSE RYK: 500 v.C. – 500 n.C.

Module 15

SKOLE EN KERKE IN DIE ROMEINSE RYK

Skole

Dit was veral die ryker mense se kinders wat gereeld skoolgegaan het. Meestal is van Griekse onderwysers, wat die kinders streng behandel het, gebruik gemaak. Tug is streng toegepas deur die swak betaalde skoolmeesters. Skole het soggens vroeg begin en tot laatmiddag geduur. Seuns en meisies tussen 7 en 12 jaar moes aparte laerskole bywoon om te leer lees, skryf en reken. Hulle het met 'n rietpen (stilus) op was of op 'n houtbord geskryf. Die tale was Latyn en Grieks.

Meisies het die skool op 13 verlaat en het daarna tuis geleer hoe om goeie tuisteskeppers te wees. Die seuns is na 'n tipe praktiese hoërskool, die grammaticius, gestuur waar daar aandag gegee is aan boeke, gedigte, praktiese wiskunde, musiek en openbare redenaarskuns, asook indiensopleiding in die leër. Die kinders was ook lief om speletjies soos "Blindemol, Koning, Regter" of "Swaardvegter" te speel. Soms het hulle ook met hoepels, poppe of maskers gespeel en het graag in hulle vrye tyd die openbare badhuise besoek.

AKTIWITEIT 1

OM DIE GESKIEDENIS VAN DIE ROMEINSE SKOLE TE REKONSTRUEER

[LU 2.3]

a) Ontwerp nou jou eie skoolrooster vir 'n antieke skool vir een dag. Gebruik die Romeinse alfabet en syferstelsel, asook dieselfde tipe skryfmateriaal (bv. rietpen, ink.)

Rietpen

Ink (roet gemeng met water)

Papirus

Probleemoplossingsessie!

b) Hoe sou Romeinse kinders van die antieke tydperk die volgende probleem opgelos het? Daar is drie moontlike oplossings!

Die mense van Rome is baie ontevrede omdat broodpryse weer gestyg het en baie van hulle dit nie meer kan bekostig nie.

Gee die weermag se broodvoorrade vir Rome.
Bou 'n nuwe hawe sodat meer vragskepe met graan kan vasmeer.
Vra alle bakkers om vir 'n week lank gratis brode te bak.

c) As opgeleide argitek word jy nou gevra om nog 'n groot stad, amper soos Rome, te help beplan. Meegaande sleutel en vierkant behoort jou te help. In die simboolkolom staan hoeveel ruimte (vierkante) gebruik moet word. Gebruik die inligting van die daguitstappie in Rome in 'n vorige module. VOORSPOED MET DIÉ GROOT OPDRAG!

(By die simbole word die aantal strukture ook aangedui.)

AKTIWITEIT 2

OM BRONNE OOR DIE KERK TE GEBRUIK EN VERSLAG DAAROOR TE DOEN

[LU 2.2; 2.3]

Die Romeine het die Griekse gode oorgeneem, maar hul gode was minder menslik en meer verhewe. Hulle het ook in towerkuns geglo. In die meeste huise was daar 'n altaar vir die lare en penate – die gesin se huisgode (bron 1). Gedurende openbare geleenthede is offers aan die gode gebring. Aan die begin was daar vir elke god 'n tempel. Priesters en hoofamptenare het die plegtighede waargeneem. Gewone mense kon ook tempeldienste bywoon, al het hulle nie werklik 'n belangrike rol daarin gespeel nie. As 'n siek of beseerde liggaamsdeel gesond geword of herstel het, is 'n model daarvan gemaak en uit dankbaarheid aan die gode gewy.

Al hoe minder burgers (veral opgeleide Romeine) het in gode geglo, en baie tempels het verwaarloos geraak. Daar was egter nog steeds 'n tempel (bron 2) waar mense vir gode gunste kon vra in ruil vir geskenke. Vandaar het die tradisie in die tyd van keiser Augustus (27 v.C. – 14 n.C.) ontstaan om die keiser soos 'n god te eer. Die mense moes hul lojaliteit toon deur wierook voor 'n beeld van die keiser te brand.

Get Jobilize Job Search Mobile App in your pocket Now!

Get it on Google Play Download on the App Store Now




Source:  OpenStax, Sosiale wetenskappe: geskiedenis graad 5. OpenStax CNX. Sep 23, 2009 Download for free at http://cnx.org/content/col10987/1.2
Google Play and the Google Play logo are trademarks of Google Inc.

Notification Switch

Would you like to follow the 'Sosiale wetenskappe: geskiedenis graad 5' conversation and receive update notifications?

Ask