<< Chapter < Page Chapter >> Page >

Op lugfoto’s word swart, wit en grys tinte gesien. Die tint hang af van die hoeveelheid lig wat deur die gefotografeerde voorwerp weerkaats word. Ligte kleure vertoon gewoonlik as ligte grys en donker kleure as skakerings van donkerder grys.

Die tint van water kan tussen wit en swart wissel. Helder water lyk donkerder as modderwater, omdat modderwater meer sonlig weerkaats. Vogtige grondoppervlaktes vertoon ook donkerder as sanderige grond.

Plantegroei kan volgens die voorkoms daarvan op lugfoto’s in twee tipes verdeel word:

  • Natuurlike plantegroei soos woude en grasvelde is maklik herkenbaar as gevolg van hul verspreide patroon. Bome het gewoonlik ‘n donkerder tint.
  • Aangeplante boorde en verboude gewasse is ook maklik herkenbaar as gevolg van die reëlmatige rye waarin dit voorkom. Die tint van ‘n bewerkte land hang af van die hoogte van die plante. ‘n Land met hoë mielieplante sal donkerder voorkom as ‘n land met jong, klein mielieplante. Die hoë mielieplante absorbeer meer sonlig as die kleintjies. Bewerkte landerye vertoon ook gewoonlik soos ‘n lappieskombers van donker en ligte tinte. Hange wat na die son gekeer is, weerkaats meer lig en vertoon dus ligter as hange wat aan die suidekant van ‘n berg geleë is.
  • Tekstuur van voorwerpe

Dit dui op die algemene indruk wat voorwerpe maak en kan beskryf word as GLAD, FYN, GROF, RU of GESTIPPELD. Op lugfoto’s het water en bewerkte landerye ‘n fyn, gladde voorkoms. Struike en bosveldplantegroei het ‘n gestippelde voorkoms, terwyl onherbergsame bergreekse ru voorkom.

  • Skaduwees

Lugfoto’s word gewoonlik tussen 10:00 en 14:00 geneem wanneer skaduwees op hul kortste is. Skaduwees is ‘n groot hulp by die uitken van voorwerpe. Skaduwees wat buitentoe val, dui gewoonlik op ‘n hoërliggende area soos ‘n heuwel, ‘n berg of ‘n hoë gebou. Skaduwees wat binnetoe val, dui op laagtes soos diep riviervalleie of uitgrawings.

  • Patrone

As mens ‘n lugfoto ontleed, is patrone baie insiggewend. Sekere patrone is kenmerkend van spesifieke voorwerpe of verskynsels. Bosveldplantegroei vertoon ‘n willekeurige, verspreide patroon, maar sitrusboorde of wingerde sal ‘n reglynige patroon hê.

Die rangskikking van geboue en strate dui ‘n tipiese stedelike nedersettingspatroon aan. Die ouer, sentrale sakekern sal ‘n roosterpatroon hê, terwyl die nuwer woonbuurtes eerder ‘n konsentriese patroon sal vertoon.

Daar is dus twee belangrike patroontipes wat op lugfoto’s onderskei kan word:

  • dié van die fisiese landskap, en
  • dié van die kulturele landskap.
  • Wenke vir die lees en ontleed van vertikale lugfoto’s en ortofotokaarte
  • Merk die algemene patrone wat duidelik op die foto voorkom. Dit word gewoonlik gedoen deur aftrekpapier op die foto te plaas en die buitelyne van patrone daarop af te trek. Die name van die verskillende kenmerke word benoem.
  • Kyk goed na die vorm, grootte, skaduwee, tint en tekstuur van die samehangende kenmerke om voorwerpe uit te ken.
  • Stel sekere soorte vrae wat sal help met die ontleding van die foto:

Reliëfkenmerke

  • Is daar berge, heuwels en valleie?
  • Hoe steil is die hange?
  • Is daar riviere?
  • Hoe wyd is die riviervalleie of vlaktes?
  • In watter rigting vloei die rivier?
  • Is die rivier standhoudend of nie-standhoudend?

Get Jobilize Job Search Mobile App in your pocket Now!

Get it on Google Play Download on the App Store Now




Source:  OpenStax, Aardrykskunde graad 7. OpenStax CNX. Sep 09, 2009 Download for free at http://cnx.org/content/col11020/1.1
Google Play and the Google Play logo are trademarks of Google Inc.

Notification Switch

Would you like to follow the 'Aardrykskunde graad 7' conversation and receive update notifications?

Ask