<< Chapter < Page Chapter >> Page >

Afrikaans huistaal

Graad 9

Module 13

Die gebruik van ‘n verklarende woordeboek

Aktiwiteit 1:

Om ‘n verklarende woordeboek te kan gebruik om die betekenis van sekere woorde uit te vind; om idiomatiese uitdrukkings te verstaan en te kan gebruik en om begrip van ‘n wye verskeidenheid informatiewe tekste te kan toon

[lu 6.1, 6.4]

Ons gaan die bogenoemde uitkomstes n.a.v. die onderstaande artikel, Suikerbekkies verfraai tuin , doen.

Suikerbekkies verfraai tuin
MORNÉ DU PLESSIS
  1. Ek moes daar onder die koraalboom in die snikhete Zimbabwiese lenteson aan die slaap geraak het. Want toe ek opkyk, raas die mees skouspelagtige kleursirkus bokant my asof ek onder ‘n kleuterskoolklimraam lê en die middelpunt van al die gekoggel en gekoes is.
  2. Maar eerder as wat ek myself probeer bluf dat dié besonderse spulletjie om my kom koek het, moet ek bieg dat hulle net oë en ore vir mekaar gehad het. Elke parmantige en oordrewe gekleurde mannetjie was besig om kolle koraalboomblomme te monopoliseer.
  3. En dit is nie sommer ‘n kwessie van rondstaan en kwaad lyk nie. Daar word gekyk, gefrons, gemik, gejaag en gegluur. Vir ‘n suikerbekkiemannetjie lê die geheim van sukses in die “eienaarskap” van ‘n nektarbron van hoë gehalte waarin die wyfies moontlik sal belang stel. As jy net die ander mannetjies uit jou spens kan uithou, sal die wyfies sommer gou-gou kom toustaan om af te haak.
  1. Suikerbekkiemannetjies is in die meeste gevalle uitspattig in ‘n eksotiese en glansende verekleed uitgetof. Daarteenoor is die wyfies weer onopvallend en vaal en is dit slegs die lang, krom bekkies en die liggaamsvorm wat hul suikerbekkie-“heid” aan ‘n mens verklik.
  2. Maar hoekom dan hierdie drastiese verskil in veredrag tussen die geslagte? Soos reeds beskryf, gee die mannetjies mekaar kwaai opdraand voor en gedurende die broeiseisoen. Dit is wanneer die jong wyfies wat vir die eerste keer broei, hul lewensmaat moet kies. En almal weet tog sekerlik dat dit die skoner geslag is wat die keuse doen! Wyfies moet ‘n betroubare manier hê om die gehalte van die verskillende hofmakers te bepaal. Dus word elke mannetjie se veredos en sy territoriale vernuf haarfyn oorweeg.
  3. ‘n Mannetjie wat onder voeding- of parasietstres is, het gewoonlik ‘n kleiner of dowwer borslap as gesonde voëls en sing ook minder. Die natuur het sulke verbasend logiese, dog ongelooflike meganismes waardeur daar verseker word dat slegs die beste gehalte-suikerbekkiegene na volgende geslagte oorgedra word.
  4. Nou hoekom dra die wyfies dan nie ook ‘n helder verekleed nie? By suikerbekkies is dit slegs die wyfies wat op die eiers sit en broei, en dit is dus noodsaaklik dat hulle so onopvallend moontlik in die omgewing van die nes lyk. Verdere ondersteuning vir hierdie teorie lê daarin dat die neste meestal ‘n fynbeplande gelas en gelap is om die buitelyne van die nes so goed moontlik te kamoefleer. Die nes is ‘n regop en kokonvormige bousel met ‘n sy-ingang en ‘n klein afdakkie oor laasgenoemde. Dit beteken die eiers is nie maklik van buite af sigbaar nie.
  5. Terwyl die buitekant van die nes redelik grof met baardmos, droë blare en stokkies afgewerk word – dit is natuurlik deel van die kamoefleerkuns – is die binnekant netjies uitgewerk met wollerige materiaal. Suikerbekkies gebruik ook baie spinnerakke om die verdigting en isolering van die neswand te bewerkstellig. Gewoonlik word ‘n paar los blare onder aan die nes gehang sodat die buitelyne gebreek word, en die nes neem uiteindelik sy roofdier-flousende “opdrifsel-voorkoms” aan.
  6. Slegs die wyfie bou aan die nes, maar die mannetjie hou die spulletjie gewoonlik fyn dop en vergesel die wyfie as sy heen en weer vlieg om die nesmateriaal aan te dra. Die nes is eger nie net ontwerp om potensiële nesrowers te flous nie, maar ook om die weerstoestande die hoof te bied.
  7. Baie van die suikerbekspesies het die skynbaar eienaardige gewoonte om gedurende die wintermaande te broei. Dit beteken natuurlik dat die eiers warm gehou moet word wanneer die buitetemperatuur gevaarlik naby vriespunt daal.
  8. Hoewel suikerbekkies met hul lang, krom bekkies fyn aangepas is om nektar uit blomkelkies op te suig – met suig bedoel ek eintlik dat die nektar deur middel van kapillêre aksie opdraand met die tong langs in die bek in oploop – vreet hulle tog ‘n groot aantal insekte.
  9. Met die algemene voorkoms van hierdie voëltjies in ons tuine, en die steeds geredelike gebruik van gifstowwe deur tuiniers, bestaan die geleentheid vir groot konflik tussen mens en voël. En dit is nie sommer ‘n spookstorie nie. Ek het al self ‘n volwassse swart suikerbekmannetjie in die tuin opgetel waar hy ná toediening van mytgif in ‘n roostuin doodstil op die grond bly lê het. Hoewel ‘n ligte dosis mytgif selde die regstreekse oorsaak van so ‘n voël se dood is, het dit ‘n tydelike verlammingseffek wat dit vir die huiskat ‘n goeie dag kan maak.

Get Jobilize Job Search Mobile App in your pocket Now!

Get it on Google Play Download on the App Store Now




Source:  OpenStax, Afrikaans huistaal graad 9. OpenStax CNX. Sep 14, 2009 Download for free at http://cnx.org/content/col11058/1.1
Google Play and the Google Play logo are trademarks of Google Inc.

Notification Switch

Would you like to follow the 'Afrikaans huistaal graad 9' conversation and receive update notifications?

Ask