<< Chapter < Page Chapter >> Page >

Ekonomiese en bestuurswetenskappe

Graad 6

Die sakeplan

Module 10

Die finansies van die besigheid

Die finansies van die besigheid

Hierdie is seker die belangrikste komponent van enige besigheid. Jy wil tog ‘n besigheid begin sodat jy kan geld maak, reg? Die finansiële beplanning, indien dit deeglik gedoen is, behoort ‘n baie goeie aanduiding te gee of daar wel geld gemaak gaan word. Daar is veral drie baie belangrike dinge in verband met finansies wat onthou moet word:

  • Jy moet weet hoeveel geld benodig gaan word om die besigheid mee te begin. Hoeveel daarvan kan jy self voorsien en hoeveel sal geleen moet word? Gaan daar rente betaal moet word op die geld wat geleen word, en hoeveel?
  • Jy moet weet of die besigheid ‘n wins gaan toon of nie, m.a.w. gaan die totale inkomste hoër wees as die totale uitgawes? Probeer om ten minste vir 12 maande vooruit te projekteer (skat) op ‘n maandelikse basis.
  • Jy moet weet of die geld vinnig genoeg sal inkom ten einde die uitgawes te betaal. Dit word die kontantvloei van die besigheid genoem. Kontantvloei is nie dieselfde as wins nie. Indien daar nie genoeg kontant is nie, hoe gaan die agterstand weer ingehaal word?.
  • Begingeld (aanvangskapitaal)

Enige nuwe besigheid het geld nodig om te begin. Dit hoef nie noodwendig baie te wees nie. So, byvoorbeeld, sal Peter vir sy grassnybesigheid aan die begin slegs genoeg geld moet uitlê vir ‘n goeie grassnymasjien en randsnyer.

Ander besighede weer, soos ‘n motorhersteldiens, moet baie gespesialiseerde apparaat aankoop ten einde goeie diens te kan lewer.

  • Gaan die besigheid ‘n wins toon?

‘n Besigheidsplan behoort baie duidelik te toon of die bestaande of voorgenome besigheid winsgewend is of gaan wees. Daar is geen sin daarin om ‘n besigheid te begin wat nie geld gaan maak nie!

In die besigheidsplan behoort winsvooruitskatting vir ten minste 12 maande vooruit gemaak te word.

  • Sal die besigheid genoeg kontant genereer?

Onthou, ons het mos reeds vroeër in die module genoem dat daar ‘n verskil tussen kontantvloei en wins is

Die besigheidsplan moet nie slegs aandui of dit ‘n winsgewende besigheid gaan wees nie; dit moet ook aandui wat die kontantposisie gaan wees. Die kontantvloei van ‘n besigheid is hoe die kontant binne ‘n maand inkom en uitgaan uit die besigheid.

Opdrag

Kom ons bestudeer die volgende voorbeeld wat hierdie konsepte baie goed illustreer:

Peter se grasversorgingsdiens het een addisionele werker wat R500 per maand verdien. Sy grassnyer het gebreek en die herstel en onderdeel kos hom R800, wat hy binne 60 dae moet betaal. Gedurende die spesifieke maand ontvang Peter R2500 vir al die grasperke wat hy versorg het. Hy ontvang egter betaling hiervoor eers op die derde dag van die volgende maand. Voorts moet hy R300 vir brandstof betaal.

Kom ons kyk hoe die wins en kontantvloeisituasie aan die einde van die maand lyk:

WINS KONTANTVLOEI
Diensverkope R 2 500,00 Kontant in: R 0,00
Masjienherstelwerk R 800,00
Bruto wins R 1 700,00 Kontant uit:
Salaris R 500,00
Uitgawes Brandstof R 300,00
Salaris R 500,00
Brandstof R 300,00
Totale uitgawes R 800,00
Netto wins:R 1 700,00 - R 800,00 = R 900,00 Kontantvloei:Kontant in - Kontant uit = R800,00

Dus, al het die besigheid ‘n wins van R900,00 vir die maand getoon, is daar steeds ‘n tekort van R800,00 aan die einde van daardie maand. Die besigheid toon ‘n goeie wins, maar Peter het finansiering nodig om hom met sy kontantvloeiprobleem te help.

Gebruik nou die volgende voorbeeld om ‘n wins/kontantvloeitabel op te stel:

Mnr. Alfa besit sy eie motorhersteldiens. Hy het twee werktuigkundiges wat vir hom werk. Hul salarisse is onderskeidelik R1 800,00 en R2 600,00 per maand. Hy koop motoronderdele vir R2 100,00 wat hy binne 90 dae moet betaal. Hy herstel 9 motors gedurende die maand en maak R10 400,00 daaruit. R3 200,00 daarvan ontvang hy egter eers op die tiende dag van die volgende maand.

Hy huur ‘n werkswinkel teen R900,00 per maand en betaal vir ‘n telefoon en elektrisiteit ‘n bedrag van R450,00 per maand.

WINS KONTANTVLOEI
Netto wins: Kontantvloei:

Baie winsgewende besighede sluit, bloot omdat hulle nie hulle kontantvloeiprobleme kan beheer nie. ‘n Goeie sakeplan sal hierdie probleem duidelik uitwys sodat daar probeer kan word om dit te voorkom.

LU 4.4

Samevatting

‘N GOEIE SAKEPLAN DEK HOOFSAAKLIK DRIE AREAS.

  1. Die entrepreneur:

Die sakeplan moet vir ons aandui wie die entrepreneur is en wat sy/haar ondervinding is. Dit sal duidelik aantoon op watter manier die entrepreneur by die besigheid betrokke is, byvoorbeeld as ‘n alleeneienaar, vennoot of aandeelhouer.

  1. Die besigheid:

Die sakeplan moet die naam van die besigheid aandui, sê waaroor die besigheid gaan (watter produk/diens dit aan die kliënte lewer en hoe), waar dit geleë gaan wees en waarom die verbruiker by die produk/diens sal baat.

Dit moet baie duidelik uitspel waarom die kliënt in die produk sal belangstel en waarom hy dit by jou en nie by jou kompetisie sal koop nie. Dit sal ook voldoende inligting oor die potensiële mark oordra.

  1. Die finansies:

Hierdie afdeling van die sakeplan is baie belangrik. Die verskeidenheid finansiële state sal aandui of daar genoeg geld is om die besigheid mee te begin, of dit winsgewend sal wees en of dit genoeg kontant sal genereer om dit van maand tot maand te dra.

Nou is ons gereed om ‘n eie sakeplan op te stel. Besluit solank op die aard van die besigheid, en in die volgende module sal julle genoeg leiding ontvang ten einde ‘n baie volledige sakeplan op te stel.

Assessering

LU 4
ENTREPRENEURSKENNIS EN -VAARDIGHEDEDie leerder is in staat om entrepreneurskennis, -vaardighede en -houdings te ontwikkel.
Ons weet dit as die leerder die volgende doen :
4.2 identifiseer ‘n verskeidenheid moontlike sakegeleenthede in die gemeenskap (skoolkoöperasies, sport, vermaak, toerisme);
4.3 ontwerp ‘n reklameveldtog as promosie vir ‘n produk wat winsgewend sal wees;
4.4 ontwikkel en implementeer ‘n eenvoudige sakeplan vir ‘n handels- of diensonderneming wat van die huis of die skool bedryf kan word;
4.5 beskryf hoe die vier elemente van die bemarkingsamestelling in ‘n eenvoudige sakeaktiwiteit gekombineer word.

Get Jobilize Job Search Mobile App in your pocket Now!

Get it on Google Play Download on the App Store Now




Source:  OpenStax, Ekonomiese en bestuurswetenskappe graad 6. OpenStax CNX. Sep 08, 2009 Download for free at http://cnx.org/content/col11012/1.1
Google Play and the Google Play logo are trademarks of Google Inc.

Notification Switch

Would you like to follow the 'Ekonomiese en bestuurswetenskappe graad 6' conversation and receive update notifications?

Ask