<< Chapter < Page Chapter >> Page >

AFRIKAANS HUISTAAL

Graad 5

ARENDE VANG NIE VLIEË NIE

Module 11

LEESSTUK, WOORDE, UITDRUKKINGS

AKTIWITEIT 1

OM VOORSPELLINGS OOR DIE INHOUD EN SLOT VAN ‘N LEESSTUK TE MAAK

[LU 3.1.1]

‘n Arend vang nie vlieë nie

Wat beteken “‘n arend vang nie vlieë nie”? Dit is seker een van die minder bekende idiome in Afrikaans. Dit beteken dat iemand wat goed of edel is, hom / haar nie besig hou met onbenullige sake nie. Dit is amper soos wanneer iemand sê: “Ek hou my nie op met nonsies nie.”

Die leesstuk wat volg, handel oor Roland Schoeman, ons Olimpiese swemheld en wenner van talle goue medaljes in internasionale swemkompetisies. Roland is in 2005 baie miljoene rand aangebied om vir Katar, een van die state in die olieryke Verenigde Arabiese Emeritate, te swem, maar dan moes hy natuurlik eers sy Suid-Afrikaanse burgerskap prys gee. Lees eers slegs die opskrif van die leesstuk wat volg en skryf dan neer wat jy dink Roland besluit het oor Katar se aanbod.

AKTIWITEIT 2

OM TE SOEKLEES VIR SPESIFIEKE BESONDERHEDE

[LU 3.1.1]

Lees nou Marjolein van der Stad se berig oor die aanbod wat aan Roland gemaak is en beantwoord die vrae wat volg.

Roland se liefde vir SA laat hom nee sê vir Katar se miljoene

Marjolein van der Stad

JOHANNESBURG – Roland Schoeman is ‘n Afrikaan en spesifiek ‘n Suid-Afrikaner en sowat R40 miljoen aan salaris gaan hom nie Katar toe lok om vir dié land te swem nie.

Só het Schoeman gister in ‘n verklaring gesê wat deur Jace Naidoo, voorsitter van Swem Suid-Afrika (SSA), op ‘n nuuskonferensie voorgelees is.

Suid-Afrika is gelukkig nou nie een van sy sterkste swemmers kwyt nie. Dit is ook goeie nuus vir die Statebondspelespan, want die 4x100-vryslagaflosspan, wat goud by die Olimpiese Spele in Athene verower het, is nou weer op koers om die Australiërs op hul agterstoep te klop.

“Ek hou by my aanvanklike besluit om nie vir Katar te swem nie. Dit was nie ‘n maklike besluit nie. Ek weet wat dit geldelik vir my gaan beteken. Ek glo en vertrou dat die oplossings vir die probleem beslis in Suid-Afrika gevind gaan word,” het Schoeman gesê.

“Dit is vir my belangrik dat ek deel van ‘n lewendige, uitdagende, frustrerende, pragtige en hoopvolle land wil wees wat ek tuis noem. Elke goue medalje wat ek verower het, het soveel vir my beteken omdat ek ons volkslied gehoor het en daarna deel was van die vreugde van die mense in Suid-Afrika. Hoewel ek deesdae baie armer is as wat ek kon wees, voel ek geseënd dat dit Nkosi Sikelel’I-Afrika is wat gespeel sal word as ek ‘n goue medalje wen,” het hy gesê.

Naidoo het gesê SSA is verheug dat Schoeman besluit het om steeds vir Suid-Afrika te swem. “Dit is jammer dat SSA nie ons swemmers meer steun kan bied nie. Roland is een van die top swemmers in wêreld swem. Ons sal met die sakewêreld moet onderhandel dat die top-deelnemers beter beloon word.”

Mev. Geraldine Schoeman, ma van Roland, het gister gesê nog nie veel het aan Schoeman se geldelike posisie verander nie.

Dr. Sieg Heydenrych, ‘n Suid-Afrikaanse en Kanadese sakeman, het Schoeman gekontak met die oog daarop om hom te borg, maar daar is nie verdere verwikkelinge nie.

Get Jobilize Job Search Mobile App in your pocket Now!

Get it on Google Play Download on the App Store Now




Source:  OpenStax, Afrikaans huistaal graad 5. OpenStax CNX. Sep 22, 2009 Download for free at http://cnx.org/content/col10989/1.2
Google Play and the Google Play logo are trademarks of Google Inc.

Notification Switch

Would you like to follow the 'Afrikaans huistaal graad 5' conversation and receive update notifications?

Ask