<< Chapter < Page Chapter >> Page >

DANIE THERON

DIE BAASVERKENNER

“Dit was ‘n waagstuk wat ek hom voorgestel het om te doen soos wat nie oortref sou word in ons ganse bloedige stryd nie,” het generaal De Wet later omtrent die volgende stuk verkennerswerk van Danie Theron gesê, wat hy tussen 24 – 26 Februarie 1900 by Paardeberg onderneem het – net ‘n week na kolonel Hannay se dood op 18 Februarie.

Generaal Christiaan de Wet, die vurige Vrystaatse aanvoerder, is bekommerd. Aanvanklik het die Boere die vyand swaar verliese toegedien en veral één “swart week” lank die magtige Britse leër laat steier. Maar nou, ná vyf maande in die veld, is die Engelse besig om met hul getalle-oorwig alle teenstand voor hulle weg te vee. Oral stoot die groot seekat sy voelers in en wurg die Boere aan die keel. Hier by Paardeberg het hulle juis vir generaal Piet Cronjé met vierduisend burgers vasgekeer. As hulle moet swig, sal dit ‘n verpletterende slag vir die Republieke wees. Generaal De Wet peins en oorweeg. Die strydmag móét ontset word, en hy het ‘n plan om op twee punte ‘n pad vir hulle oop te skiet. Maar dan is dit noodsaaklik dat die vasgekeerdes weet waar en wanneer dit sal gebeur. Dis sy grootste probleem hoe om ‘n boodskap deur die vaste kordon van Engelse te kry.

Die Generaal tik nadenkend met sy handsambok teen sy rybroek. Hy hoor Danie Theron het gisternag van die Natalse front af in die laer aangekom – kaptein Danie Theron, en hy is glo ‘n bobaas-verkenner. Hier is geleentheid vir die jong Transvaler om te wys wat daar in hom steek. Generaal De Wet laat hom roep.

“Ek wil ‘n mondelinge boodskap na generaal Cronjé deurstuur, kaptein,” sê die Generaal. “Op skrif kan ek dit nie stel nie, want netnou val dit in Engelse hande. Sien jy kans om te probeer?”

“Ek sal gaan, Generaal,” antwoord Danie Theron beslis.

“Jy besef natuurlik die gevare?”

“Dis my werk, Generaal. Ek is ‘n verkenner.”

Die Generaal lê sy plan uit.

“Goed, Generaal.”

Danie Theron ry saam met twee van sy manne tot op ‘n veilige afstand van die Engelse linies om eers te verspied. Hy is hoof van die Wielryers-rapportgangerskorps, en hulle gebruik fietse waar en wanneer hulle kan omdat hulle op ‘n goeie pad vinniger daarmee as te perd oor die weg kan kom. Die kaptein bekyk die Engelse afdelings totdat hy genoeg gesien het. Toe gee hy sy fiets aan sy twee manskappe af.

“Kry my môreaand weer hier,” sê hy.

“Ons sal so maak, kaptein. Voorspoed!”

Die twee manne ry weg, en Danie Theron bly alleen agter. Nou wag hy vir die donker. Sy planne is agtermekaar. Hy wil vroegaand probeer deurkom, want dan sal die Engelse wagte seker nie so waaksaam wees soos in die stilte van die nanag nie.

Die son sak weg, en in die sterk skermerte beweeg Danie Theron behoedsaam nader aan die Engelse kampvure, wat soos ‘n veelogige monster om die vasgekeerde Boere opgekrul lê.

Hy is nog ‘n paar honderd tree weg toe hy moet begin kruip, want dis oop wêreld dié, en die vyand kan hom maklik teen die ligter hemel gewaar. Doringbosse ruk aan sy hande en klere. Skerp klippe sny sy knieë oop. Hy is nou so naby die Engelse brandwagte dat hy hulle op en neer kan sien loop: geweer oor die skouer, twee-twee na mekaar toe, en dan maak hulle ‘n regomkeer en stap terug.

Die verkenner skuil agter ‘n paar los rotsblokke om eers te oorweeg. Hy kan opspring en deurhardloop sodra die twee wagte hier voor hom op die verste punt van mekaar verwyderd is en maar net hoop dat hulle hom nie sal raakskiet nie. Die gevaar is egter dat hy dan die soldate verder weg in die hoofkamp op sy spoor sal sit. Of hy kan een van die wagte byloop sodra hy halfpad van sy maat af is . . .

Geruisloos skuif Danie Theron oor die grond tot binne ‘n voet van die wagte se paadjie. Hy bly roerloos lê. Daar maak die twee Engelse die regsomkeer en stap weer weg van mekaar af. Die verskuilde verkenner hou elke beweging van die man dop wat nou feitlik reg op hom afpyl. Vyf tree. Vier. Drie. Twee. Een. Soos ‘n skaduwee rys Danie Theron van die grond af op en hou sy rewolwer dreigend voor hom uit. Die Engelsman het verbaas vas gesteek. “As jy ‘n geluid maak, is jy ‘n lyk,” fluister Danie Theron dringend in die wag se eie taal, want hy kan Engels soos ‘n Brit praat. “Laat my deur, en jy sal niks oorkom nie.”

Die wag aarsel en vervat sy geweer. Danie Theron stamp die rewolwer teen sy maag vas. “Stap aan en maak asof daar niks gebeur het nie,” fluister hy weer. “Ek is haastig.” Dis vir die wag duidelik dat hy met ‘n man te doen het wat nie sal huiwer om sy dreigement uit te voer nie. Sonder ‘n woord begin hy weer met afgemete pas marsjeer – ‘n bietjie haastiger as gewoonlik, want daar is verlore tyd om in te haal, en buitendien is dit beter om so gou as moontlik so ver as moontlik van hierdie plek af te kom.

Met lang hale verdwyn Danie Theron in die duisternis om dan weer op hande en knieë neer te val. Hy is deur die eerste versperring, maar dis nog glad nie veilig nie, want oral wemel dit van die Engelse met nog ‘n ry wagte tien tree uitmekaar opgestel. Danie Theron kruip voort. Bloed sypel uit snye en skaafplekke. Sy broek is lankal flenters. Growwe sand en gruisklippies dring deur vel en bly daar kleef. Elke tree is pynlik.

Die maan kom op en sak weg. Die môrester verbleek. “Werda?” roep ‘n stem, en Danie Theron weet dat hy tussen Boere is. Hy het generaal Cronjé se laer bereik.

UIT: P.W. Grobbelaar (e.a.) : Heldeverhale

Assessering

Assesseringstandaarde(ASe)
LEERUITKOMS 1: HISTORIESE ONDERSOEK – Die leerder is in staat om ondersoekvaardighede te gebruik om die verlede en die hede te ondersoek
1.1 Bekom die bronne
1.2 Gebruik die bronne
1.3 Kommunikeer inligting uit bronne (verslaggewing)

Memorandum

Aktiwiteit 1

Blaas gepantserde treine op; beleg van drie dorpe, verslaan Britte by nege veldslae (in een week drie keer!). Britte se strategieë en uniforms glad nie geskik vir plaaslike toestande nie.

(b)

Boere Britte
Klein groepies (kommando’s) Groot groepe – veg in linies
87 000 449 000
Outydse, swaar wapens Groot moderne wapens
Nie swaar toerusting – kan vinnig oor veld beweeg Swaar toerusting – moes per spoorlyn of waens vervoer word
Ken omgewing uitstekend, gewoond aan klimaat Ken omgewing glad nie – nie gewoond aan hitte en ruwe landskap
Van die 22 000 soldate wat gesneuwel het, is net 6 000 dood in gevegte – 16 000 is aan wonde of ander siektes dood

Get Jobilize Job Search Mobile App in your pocket Now!

Get it on Google Play Download on the App Store Now




Source:  OpenStax, Geskiedenis graad 7. OpenStax CNX. Sep 09, 2009 Download for free at http://cnx.org/content/col11022/1.1
Google Play and the Google Play logo are trademarks of Google Inc.

Notification Switch

Would you like to follow the 'Geskiedenis graad 7' conversation and receive update notifications?

Ask