<< Chapter < Page Chapter >> Page >

NATUURWETENSKAPPE

Graad 5

DIE AARDE EN DIE HEELAL

Module 22

WAARUIT GROND BESTAAN

AKTIWITEIT 1:

OM VAS TE STEL WAARUIT GROND BESTAAN

[LU 1.2; 1.3]

Doen die volgende ondersoek self:

Skep ‘n handvol tuingrond uit julle tuin met ‘n geskikte houer wat deursigtig is.

Tap water by totdat die houer driekwart vol is.

Verseël die houer en skud baie goed.

Plaas die houer op ‘n vensterbank of enige plek waar jy dit kan dophou.

Teken jou waarnemings aan deur die volgende vrae te beantwoord:

1. Hoe lank het dit geneem voordat die water redelik helder was?

2. Die grond vorm lae wanneer dit afsak. Hoeveel lae kan jy onderskei?

3. Die grootte van die deeltjies in die verskillende lae verskil. Watter laag het die grofste voorkoms (grootste deeltjies)?

4. Watter laag het die fynste voorkoms (kleinste deeltjies)?

5. Wat dryf bo-op die water?

6. Lyk die grond in jou maats se houers presies soos joune? Beskryf.

AKTIWITEIT 2:

OM VERSKILLENDE SOORTE GROND TE ONDERSOEK EN OM TE KAN VERDUIDELIK HOEKOM PLANTE IN ‘N BEPAALDE SOORT GROND DIE BESTE GROEI

[LU 1.2; 1.3]

Verskillende soorte grond

Daar is hoofsaaklik drie soorte grond: sandgrond, leemgrond en kleigrond.

Die grondsoorte verskil ten opsigte van hulle vermoë om water in te laat, water te hou, en lug in te laat.

Die volgende ondersoek sal aantoon hoe die drie tipes grond in hierdie opsig van mekaar verskil:

Werk in groepies van drie elk.

Een groeplid bring kleigrond saam, ‘n ander sandgrond en die ander leemgrond.

Bring ook drie leë koeldrankbottels van dieselfde grootte waarvan die boonste helfte afgesny is, saam.

Maak elke houer een derde vol grond. Elke houer het ‘n ander soort grond. Stamp die grond vas.

Plaas die houers langs mekaar op ‘n tafel of enige gelyke vlak en gooi 250ml water stadig in elkeen.

Teken aan by watter soort grond die water die vinnigste wegsyfer.

Druk vinnig ses ewe groot gaatjies in die bodem van elke houer en plaas elkeen op ‘n glasbeker van dieselfde grootte.

Teken aan by watter houer die meeste water na ‘n bepaalde tyd in die glasbeker gedrup het.

Skryf jou gevolgtrekking neer. Noem al drie die grondsoorte.

Maak ‘n tekening van jou apparaat

Vraag: In watter tipe grond sal plante die beste groei?

Verduidelik:

AKTIWITEIT 3:

OM DIE VORMING VAN BOGROND TE ONDERSOEK

[LU 2.2]

Bestudeer die sketse hieronder en beantwoord die vrae wat daarop volg:

onverweerde rots

grond wat nog verweer

verweerde grond

1. Hoekom word die boonste laag as donker aangetoon?

2. Hoekom is die donker laag in die regterkantse skets dikker as in die middelste skets?

3. Hoe verskil die plante in die regterkantse skets van dié in die middelste skets? Verduidelik ook hoekom.

Kom ons pas jou antwoorde toe en maak ‘n paar belangrike afleidings:

Die boonste laag grond verskil van die dieper grond omdat dit meer humus (dooie plantmateriaal) bevat. Ons praat van bogrond wat vrugbaar is.

Daar is ‘n kringloop: plante maak grond vrugbaar en vrugbare grond laat plante beter groei.

Hoe dikker die bogrond, hoe dieper groei die plante se wortels.

Dit hou ‘n wedersydse voordeel in: hoe dieper die bogrond, hoe dieper kan die plant groei om kos en water uit die grond te haal, en hoe beter hou die plantwortels die grond vas sodat dit nie wegspoel as dit reën nie.

As daar geen plante is nie of as die plantwortels baie vlak groei, sal die grond wegspoel.

Assessering

LU 1

WETENSKAPLIKE ONDERSOEKDie leerder is in staat om met selfvertroue op weetgierigheid oor natuurlike verskynsels te reageer, en om binne die konteks van wetenskap, tegnologie en die omgewing verbande te ondersoek en probleme op te los.

Dit is duidelik wanneer die leerder:

1.1 ondersoeke beplan;

1.2 ondersoeke uitvoer en data versamel;

1.3 data evalueer en bevindinge kommunikeer.

LU 2

KONSTRUKSIE VAN WETENSKAPKENNISDie leerder ken, interpreteer en pas wetenskaplike, tegnologiese en omgewingskennis toe.

Dit is duidelik wanneer die leerder:

2.1 betekenisvolle inligting onthou;

2.2 inligting kategoriseer en eie reëls vir kategorisering verduidelik.

Memorandum

Aktiwiteit 1:

Hierdie eenvoudige eksperiment is beslis die moeite werd.

Antwoorde:

uit leerders se waarnemings

Vraag 5: dooie plantmateriaal

Aktiwiteit 2:

Maak seker dat die leerders almal dieselfde grootte houer gebruik. Leerders moet die vrae self na aanleiding van hul waarnemings beantwoord.

Plante groei die beste in leemgrond, omdat die grond los genoeg is sodat die wortels kan ingroei, water, organiese materiaal en suurstof kan inbeweeg, maar die water nie onmiddellik deursyfer en die voedingstowwe wegspoel en die grond droog laat nie. Dit anker ook die plant beter as bv. sandgrond.

Aktiwiteit 3:

Dit bevat organiese materiaal (veral plantreste).

Plante het al vir ‘n langer tydperk daarin gegroei.

Groter, dieper wortels. Kan beter anker en meer voedingstowwe en water opneem.

Get Jobilize Job Search Mobile App in your pocket Now!

Get it on Google Play Download on the App Store Now




Source:  OpenStax, Natuurwetenskappe graad 5. OpenStax CNX. Sep 23, 2009 Download for free at http://cnx.org/content/col10980/1.2
Google Play and the Google Play logo are trademarks of Google Inc.

Notification Switch

Would you like to follow the 'Natuurwetenskappe graad 5' conversation and receive update notifications?

Ask