<< Chapter < Page Chapter >> Page >

Natuurwetenskappe

Graad 9

Die aarde, sterrestelsels en ruimteprogramme

Module 16

Komete en ander ruimtereisigers

Komete is stukke ys en rots wat in wentelbane rondom die son beweeg. Wetenskaplikes reken dis oorblyfsels van die ontstaan van ons sonnestelsel. Die meeste oorblyfsels naby aan die son is egter vernietig. Slegs dié in die koue dele agter Neptunus en Pluto bestaan nog. Hulle kom uit ’n gebied wat Kuiper se Gordel genoem word.

’n Komeet bestaan uit drie dele:

  • ’n kern (meestal rots, ys en koolstof)
  • ’n newelomtrek of koma
  • ’n stert (veroorsaak deur verhittting en sonstrale se weerkaatsing)

Astronome word vereer deur hulle name te koppel aan ’n komeet, indien hulle so ’n ruimtereisiger vir die eerste keer sou opteken. So byvoorbeeld het komeet Hale-Bopp sy naam gekry toe Alan Hale en Thomas Bopp dit op dieselfde tydstip gesien en geregistreer het. In 1997 het hierdie komeet naby die aarde verby beweeg en het groot opspraak verwek, veral aangesien sy kern 40 km in deursnit was.

Komete beweeg in ovale bane om die son en word as gevolg van die aantrekkingskrag om die son geswaai. Soms wanneer wentelbane kruis, kan groot botsings plaasvind.

So het komeet Shoemaker-Levy 9 die planeet Jupiter in Julie 1994 met fragmente bestook. Dit is op televisie uitgesaai en miljoene mense het na hierdie fenomeen gekyk. ( www.dustbunny.com/afk/planets/jupiter/jupimpact.htm )

Halley se komeet is ook in 1986 hier in Suid-Afrika dopgehou. Dit neem 76 jaar om om die son te wentel.

Komete het na alle waarskynlikheid bygedra tot die vorming van ons planeet en het waarskynlik koolstof en water na ons planeet gebring.

Meteoriete

  • Partikels wat deur die ruimte beweeg, noem ons meteoriete. Wanneer groter meteoriete planete tref, veroorsaak dit groot kraters. So is die kraters op die maan gevorm. Van ons grootste kraters is die een by Pretoria, die Tswaing-krater, asook die Vredefort-koepel in Noordwes.
  • Duisende tonne klein meteoriete tref gewoonlik die aarde elke dag, maar meeste is so klein soos sandkorrels. Wanneer hulle egter die aarde se atmosfeer binnedring, noem ons hulle METEORE. Party is groot genoeg om met die blote oog gesien te word en dan praat ons van verskietende sterre.
  • Meteore wat so helder soos Venus is, noem ons vuurballe (“fire balls”).
  • Die grootste meteoor-asteroïede wat die aarde nog getref het, is bekend as Hoba. Dit het Namibië getref en het sowat 60 ton geweeg. Jy kan dit vandag nog naby Grootfontein besigtig.

Asteroïedes

  • Asteroïedes is reusemeteoriete met ’n deursnee van tot een kilometer. Ongeveer 40 000 asteroïedes wentel om die son, tussen die planete Mars en Jupiter – daarom noem ons dit die asteroïede-gordel.
  • Ceres is die grootste een en het ’n deursnit van sowat 1 000 km.
  • Baie glo dat dit so ’n enorme asteroïede was wat die aarde getref en stofwol­ke veroorsaak het wat alle ligstrale uitblokkeer het en veroorsaak het dat die dinosourusse 65 miljoen jaar gelede uitgesterf het.
  • Die laaste groot asteroïede het die aarde in 1908 in Siberië getref.
  • Wetenskaplikes reken dat die aarde elke paar honderd jaar getref behoort te word. Hulle meen dus dat ons maar die ruimte bokant ons moet dophou.
  • Duisende amateurs reg oor die aarde kyk elke aand getrou en rapporteer alle “nuwe” voorwerpe. Daar word na hierdie voorwerpe as “near earth objects” of NEO’s verwys.
  • Daar word gereken dat daar sowat ’n duisend in die ruimtes relatief naby aan ons is en dat slegs die helfte hiervan al ontdek is.
  • Komete is egter die voorwerpe wat slegs enkele maande voordat hulle vir ons ’n bedreiging inhou, sigbaar is.
  • Marvin Kilgore, ’n Amerikaner, het tans die grootste versameling asteroïede fragmente en verduidelik dat asteroïedes ongelooflike minerale samestellings het wat, indien die mens die tegnologie gehad het, ontgin sou kon word!

Op die WEB:

Kyk gerus na die volgende webruimtes:

  • neo.jpl.nasa.gov/neo.html
  • planet.dm.unipi.it/neodys/
  • impact.arc.nasa.gov

Kyk hoe die ruimte bokant ons deur wetenskaplikes gemonitor word!

Aktiwiteit:

Om jou kennis oor die ruimte te toets

1. Wat is:

a) ’n komeet?

b) ’n asteroïede?

c) ’n verskietende ster?

d) ’n krater?

2. Watter komeet het:

a) impak op Jupiter gehad?

b) was in 1986 in ons lugruim?

  1. Waar is voorbeelde van kraters wat deur ruimteliggame veroorsaak is in Suidelike Afrika?

4. Waar is:

a) Kuiper se gordel?

b) die asteroïedegordel?

5. Wat is die naam van die grootste asteroïede in die asteroïedegordel?

Assessering van VRAE - KOMETE:

Het jy die vrae korrek beantwoord?

[LU 2.4]

Assessering

LU 2

Konstruksie van Wetenskapkennis

Die leerder ken, interpreteer en pas wetenskaplike, tegnologiese en omgewings- kennis toe.

Dit word bewys as die leerder:

2.1 betekenisvolle inligting kan oproep;

2.2 inligting kan kategoriseer;

2.3 inligting kan interpreteer;

2.4 kennis kan toepas.

Memorandum

Komete en ander ruimtereisigers

AKTIWITEIT: VRAE

1. a) Stukke ys en rots wat om die son wentel

b) reuse-meteoriete

c) meteore

d) impakgate

2. a) Shoemaker - Levy 9

b) Halley

3. Tswaing naby Pretoria, Vredefortkoepel, Hoba in Namibië

4. a) Kuiper se gordel – koue dele agter Neptunus en Pluto

b) tussen Mars en Jupiter

5. Ceres

Get Jobilize Job Search Mobile App in your pocket Now!

Get it on Google Play Download on the App Store Now




Source:  OpenStax, Natuurwetenskappe graad 9. OpenStax CNX. Sep 15, 2009 Download for free at http://cnx.org/content/col11068/1.1
Google Play and the Google Play logo are trademarks of Google Inc.

Notification Switch

Would you like to follow the 'Natuurwetenskappe graad 9' conversation and receive update notifications?

Ask