<< Chapter < Page Chapter >> Page >

“Nie ek nie,” miaau die swart kat.

“Nie ek nie,” kwaak die wit eend.

“Nie ek nie,” snork die bruin vark.

“Nou goed dan,” sê sy, “dan sal ek self die grond spit, ek en my vyf klein kuikentjies.”

Sy roep haar vyf kuikentjies en gee vir elkeen ‘n graaf. En hulle skrop en spit en spit en skrop tot die grond goed omgespit is. Toe hardloop sy weer so vinnig as sy kan na die kat en die eend en die vark.

“Kyk, die grond is klaar omgespit. Wie sal my help om die graan te saai?” vra die rooi hennetjie.

“Nie ek nie,” miaau die swart kat.

“Nie ek nie,” kwaak die wit eend.

“Nie ek nie,” snork die bruin vark.

“Nou goed dan,” sê sy, “dan sal ek self die graan saai, ek en my vyf klein kuikentjies.”

Sy roep haar vyf klein kuikentjies en saam saai hulle die graan. Nie lank nie of die graan kom op, maar die onkruid ook. Toe hardloop sy weer so vinnig as sy kan na die kat en die eend en die vark.

“Kyk, die graan kom op, maar die onkruid kom net so vinnig op,” sê sy. “Wie sal my help om die land te eg?”

“Nie ek nie,” miaau die swart kat.

“Nie ek nie,” kwaak die wit eend.

“Nie ek nie,” snork die bruin vark.

“Nou goed,” sê sy, “dan sal ek self die land eg, ek en my vyf klein kuikentjies.”

Sy roep haar vyf kuikentjies en saam maak hulle die grond los en trek al die onkruid uit. Nie lank nie of die graan is ryp. Toe hardloop sy weer so vinnig as sy kan na die kat en die eend en die vark.

“Kyk, die graan is ryp. Wie sal my help om die graan te oes?” vra die rooi hennetjie.

“Nie ek nie,” miaau die swart kat.

“Nie ek nie,” kwaak die wit eend.

“Nie ek nie,” snork die bruin vark.

“Nou goed,” sê sy, “dan sal ek self die graan oes, ek en my vyf klein kuikentjies.”

Sy roep haar vyf kuikentjies en saam oes hulle die graan en gooi al die korreltjies in ‘n sakkie. Toe hardloop sy weer so vinnig as sy kan na die kat en die eend en die vark.

“Kyk my sakkie graan. Wie sal my help om die graan te maal?” vra die rooi hennetjie.

“Nie ek nie,” miaau die swart kat.

“Nie ek nie,” kwaak die wit eend.

“Nie ek nie,” snork die bruin vark.

“Nou goed dan,” sê sy, “dan sal ek self die graan na die meule dra, ek en my vyf klein kuikentjies.”

Sy roep haar vyf kuikentjies en saam dra hulle die sakkie graan by die hek uit en oor die bult tot by die meule.

“Meulenaar, maal asseblief vir my die sakkie graan,” vra die rooi hennetjie en die meulenaar maal vir haar ‘n sakkie fyn wit meel. Toe hardloop sy weer so vinnig as sy kan na die kat en die eend en die vark.

“Kyk my sakkie meel. Dit is fyn en wit, net reg vir koek. Wie sal my help om die koek te meng?” vra die rooi hennetjie.

“Nie ek nie,” miaau die swart kat.

“Nie ek nie,” kwaak die wit eend.

“Nie ek nie,” snork die bruin vark.

“Nou goed,” sê sy, “dan sal ek self die koek meng, ek en my vyf klein kuikentjies.”

Sy roep haar vyf kuikentjies en saam meng hulle die koek. Toe hardloop sy weer so vinnig as sy kan na die kat en die eend en die vark.

“Kyk, die koek is klaar gemeng. Wie sal my help om die koek te bak?” vra die rooi hennetjie.

“Nie ek nie,” miaau die swart kat.

“Nie ek nie,” kwaak die wit eend.

“Nie ek nie,” snork die bruin vark.

“Nou goed dan,” sê sy, “dan sal ek dit self bak, ek en my vyf klein kuikentjies.”

Sy roep haar vyf kuikentjies en saam bak hulle die koek. Nie lank nie of die koek is gaar. Toe hardloop sy weer so vinnig as sy kan na die kat en die eend en die vark.

“Kyk, die koek is klaar gebak. Wie sal my help om die koek te eet?” vra die rooi hennetjie.

“Ek sal,” miaau die swart kat.

“Ek sal,” kwaak die wit eend.

“Ek sal,” snork die bruin vark.

Maar die rooi hennetjie lag hulle uit en sê: “Kê-kê. Julle wou my nie help om die grond te spit, of die graan te saai, of die land te eg, of die graan te oes, of die sakkie graan te maal, of die koek te meng, of die koek te bak nie. Julle hoef my nou ook nie te help nie, dankie. Ek en my vyf klein kuikentjies sal self die koek opeet.”

Toe sny sy die koek in ses stukke en sy en haar vyf kleintjies eet dit smaaklik op. Daar het nie een krummeltjie oorgebly vir die kat of die eend of die vark nie.

Get Jobilize Job Search Mobile App in your pocket Now!

Get it on Google Play Download on the App Store Now




Source:  OpenStax, Lewensvaardighede. OpenStax CNX. Sep 21, 2009 Download for free at http://cnx.org/content/col11102/1.1
Google Play and the Google Play logo are trademarks of Google Inc.

Notification Switch

Would you like to follow the 'Lewensvaardighede' conversation and receive update notifications?

Ask