<< Chapter < Page Chapter >> Page >

Toe ons weer sien sweef Engela in die lug, in die middel van die sfeer.

"Nou kan jy jou hou in watter postuur jy wil, Engela - sit of lê of staan of hang, dis alles eners. En voel jy? Daar is geen stuk onder of bo nie."

"Ai, maar dis heerlik!" sê Engela. En sy draai haar na alle koerse toe. "So 'n sagte rusplek is daar op die aarde nergens te kry nie. Ek is soos 'n swewende seepblasie, gewieg in die lug."

Loeloeraai raadpleeg 'n instrument aan die muur. "Ons sfeer is nie meer in die lug nie. Gelukkig het ons lug hierbinne in voorraad. Jy voel nie dat dit bedompig is nie, Kerneels?"

"O nee. Die lug is soos die varse geur as die donderweer oorkom, soos in die vroeë oggend aan die seekus."

"Osone," sê Loeloeraai. "Ons sal dit so hou. Maar in alle geval, ons het die lug daarbuite verlaat - ons is al 'n vierhonderd myl bokant die oppervlakte van die aarde - as ons nog van 'bokant' kan praat. Ek kan nou die luike verwissel vir ruite."

"Gaan jy hulle één vir één oopdraai?" vra ou Stoffel.

"O nee, dan is ons dadelik dood. Die lug wat hier in is sou in 'n oomblik uitstroom. Ek skroef eers die glase in hulle plek, en dan laat ek die luikskywe binne in die muur wegrol."

Toe die eerste venster oop was, kyk ons uit. Daar was niks as die stikste donker nag waarin ons uitsien uit die heldere lig van binne. Ek kon nie help om te ril nie. Die eensame nag en weg van mens en mensewoning, weg van alles wat om en by ons was van ons wieg af, swerwende swewende in die uiterste duisternis.

"Maar waar is die sterre dan, Loeloeraai?"

"Nie in daardie rigting sigbaar nie, Stoffel. Ons is in die nag van die aarde af weg, ons is nog altyd in sy skaduwee. Ons kyk nou vas teen sy donker kant nes julle gewénd is om teen die nuwe maan te kyk. Die maan maak nie die hemel donker nie omdat hy te vér is om 'n merkbare deel daarvan te bedek. Maar onthou, ons is nog sommer hier vlak by die aarde. Hy sluit vir ons na hierdie kant toe alles weg. Ook natuurlik bedek hy die son vir ons. Maar wag, ek sal na die ander kant toe oopmaak."

En toe daardie ruit in was en die skyf rol weg voor die glas, bars ons almal uit van verrukking. So 'n gesig het geen aardbewoner nog ooit gesien nie. Immers van die aarde af sien ons die sterre dof deur die dikke lae van die lug. Ons bou sterrewagte op hoë berge, maar nog is ons soos moddervisse wat deur troebel water opkyk na liggies wat van bo deur hulle medium inskyn.

Toe ons hier uitkyk, was daar een glorieglans van sterre teen mekaar gepak, skitterende met 'n heerlikheid wat byna verblindend was. En hulle had kleure hier - groenes, rooies, bloues, geles en tussenin spierwittes, almal vonkelend van lewe asof dit 'n roerende panorama was.

"En tog," sê Loeloeraai, "julle mense op die aarde is nog hoog bevoorreg. Julle eerste wetenskap, veral julle eerste begrippe van die beginsels van die matesis, het by die waarneming van die sterre begin, duisende jare gelede. Was die sterre altyd vir die menslike oog bedek, watter barbare was julle nie nog vandag nie."

"Is die sterre dan nie van al die planete af sigbaar nie, Loeloeraai?"

Get Jobilize Job Search Mobile App in your pocket Now!

Get it on Google Play Download on the App Store Now




Source:  OpenStax, Afrikaans huistaal graad 7. OpenStax CNX. Sep 09, 2009 Download for free at http://cnx.org/content/col11016/1.1
Google Play and the Google Play logo are trademarks of Google Inc.

Notification Switch

Would you like to follow the 'Afrikaans huistaal graad 7' conversation and receive update notifications?

Ask