<< Chapter < Page Chapter >> Page >

Afrikaans eerste addisionele taal

Graad 8

Module 5

Om vir inligting te lees

Aktiwiteit 1

Om vir inligting en genot te lees

  • Lees die volgende teks en voer die opdrag uit soos aangedui:

Dit is nogal vreemd om te dink dat daar soogdiere in die see kan wees. Maar, soos julle weet, is daar tog sulke diere, ook aan die Kaapse kus.

Kaapse Pelsrobbe swem dikwels in die Tafelbaai-hawe rond, of in die Alfred-kom, en hulle is veral in die teel-seisoen in groot getalle op Duikereiland en Robeiland te sien. Toeriste onderneem graag bootuitstappies om hulle te gaan besigtig.

Die Noorkapper-walvis is die walvisspesie wat die meeste in die Kaapse waters voorkom. Die koeie is gemiddeld 14 meter lank, terwyl die bulle ongeveer 12 meter lank is. Die gemiddelde lengte van ’n pasgebore kalfie is 6 meter. ’n Mens sien hulle vanaf Julie tot November tussen Muizenberg en die Strand, maar die beste plek om hulle dop te hou, is langs Walkerbaai by Hermanus.

Die Kaapse Dolfyn (Eng.: Dusky Dolphin) is die algemeenste dolfynspesie aan die kus van die Kaapse Skiereiland en hulle is omtrent twee meter lank. Hierdie dolfyn het ’n gepunte snoet, m.a.w. nie ’n langerige bek nie, en ’n swart vin wat agterlangs konkaaf is.

Hierdie diere word deur Natuurbewaring beskerm en ons moet hulle met groot respek bejeën en sorg dat hulle nie op enige manier leed aangedoen word nie, want hulle is deel van ons erfenis.

  • Som die inligting wat in die bogenoemde teks gegee word, in ongeveer 65 woorde op. Dit moet in vloeiende prosavorm wees, m.a.w. dit moet nie puntsgewys neergeskryf word nie, maar soos ‘n kort storietjie.
LU 3.7 LU 3.4

Aktiwiteit 2

Om vir ’n sosiale doel te skryf, deur byvoorbeeld ’n mediateks te ontwerp

Kinders help protesmuur bou

KAAPSTAD. – Suid-Afrikaanse kinders kan vanjaar die eerste keer leerders uit 14 ander lande help om ’n protesmuur teen walvisjag op te rig.

Dié muur sal bestaan uit poskaarte wat die leerders self gemaak het, en gaan in Junie by die vergadering van die Internasionale Walviskommissie in Berlyn opgerig word.

Dit vorm deel van ’n bewusmakingsveldtog van die Internasionale Fonds vir Dierewelsyn (Ifaw).

Volgens me. Christina Pretorius, woordvoerder van Ifaw, bestaan die projek uit opvoedkundige stelle wat ’n video, leermateriaal oor walvisse en inligting oor die poskaartprojek insluit. Skole kan die stelle gratis bekom. Bel me. Christina Pretorius by tel. 021-4242086 vir nog inligting of e-pos haar by cp@unity.co.za.

Bron: Die Burger , 29 Januarie 2003(Let wel: Effens gewysig: e-posadres is fiktief.)

  • Skryf die teks van ’n e-posboodskap wat jy namens jou klas aan me. Pretorius wil stuur om die materiaal wat hierbo genoem word, te bestel.

Advertensie-ontwerp:

  • Soek ’n paar voorbeelde van treffende, eenvoudige advertensies en bring hulle saam skool toe. Jy moet ’n bietjie dink oor hoekom hulle vir jou “werk”.
  • Verbeel jou dat jou skool ook aan die walvisprojek deelneem.
  • Ontwerp nou ’n eenvoudige advertensie waarin jy leerlinge uitnooi om aan te sluit by die skool se Walvisprojek. Skep ’n naam vir die projek en gee al die nodige inligting op ’n bondige, maar treffende wyse. Die advertensie kan ook geïllustreer word om dit aanskoulik te maak. Dit moet op ’n aparte vel ingevoeg word.

Get Jobilize Job Search Mobile App in your pocket Now!

Get it on Google Play Download on the App Store Now




Source:  OpenStax, Afrikaans eerste addisionele taal graad 8. OpenStax CNX. Sep 11, 2009 Download for free at http://cnx.org/content/col11038/1.1
Google Play and the Google Play logo are trademarks of Google Inc.

Notification Switch

Would you like to follow the 'Afrikaans eerste addisionele taal graad 8' conversation and receive update notifications?

Ask