<< Chapter < Page Chapter >> Page >

In die begin van die eeu was modes baie gekompliseerd. Klere kon nie maklik gedupliseer word nie, want fabrieke was in die beginstadium. Net rykes kon modeklere bekostig wat deur ontwerpers gemaak is. Gewone mense het maar hul eie klere gemaak.

In die Edwardiaanse Tydperk (1900 - 1918) was die modegier onder vroue die S-kurwe. 'n S-kurwige korset is onder rokke gedra wat hul boesem vorentoe en agterstewe agtertoe gestoot het. Rokke was voor laag gesny, die arms kaal en lang handskoene is gedra.

Die korset is gemaak van harde repe walvisbeen van die mond van 'n sekere walvis. Alle klere is geborduur met kant en sy. Hoede het die uitrustings afgerond en is versier met vere of nagemaakte blomme. Mansklere was in hierdie tydperk nie so ongemaklik soos vroue s'n nie, maar reëls i.v.m. korrekte kleredrag was baie streng. Brittanje se koning Edward VII (die tydperk is na hom vernoem) het gehelp dat die tradisies gehandhaaf word. Hy het somtyds die toe baie gewilde pak, vandag ons dagpak, gedra, maar (soos die meeste mans) gereeld 'n formele baadjie (jastipe) gedra wat laag af tot op die dybeen gestrek het. Die baadjie was dubbelbors en net in twee kleure, swart of donkergrys. Dit is gedra met 'n gestreepte broek of 'n broek met 'n blokpatroon. Hierby is 'n keil gedra. Hemde het 'n gestyselde kraag gehad en dit is afgerond met 'n strikdas. As hul gaan jag het, of 'n tydjie in die buitelug deurgebring het, was hul net so formeel. 'n Norfolk-baadjie is gedra. Die baadjie was van tweed (soort materiaal) en het 'n gordel gehad. Hierby is 'n kniebroek, lang sokkies en 'n pet gedra.

Vanaf 1918 tot 1929 (tydperk net na die Eerste Wêreldoorlog) moes vroue in fabrieke begin werk om oorlogsimplemente te vervaardig, want die mans moes veg. Vroueklere het gemakliker geword. Lang, los, vormlose baadjies by kuitlengte rompe is gedra. Hoede het breë rande gehad en was laag oor die voorkop. Meisies het soos seuns probeer lyk en die middel van hul klere was laag oor die heupe. Haarstyle was kort.

Vanaf 1920 - 1930 het sonbrand hoogmode geword. Voorheen was 'n wit vel hoogmode. Dit het beteken jy was 'n ware dame, want jy het nie nodig gehad om buite te werk nie. Nou was 'n netjiese gesonbrande vel 'n statussimbool. Die eenstuk baaikostuum het sy verskyning gemaak. Vanaf 1939 tot 1945 (tydperk van die Tweede Wêreldoorlog) het mans hoofsaaklik uniforms gedra en vroueklere was gemaklik en eenvoudig, want daar was 'n tekort aan materiaal vir modeklere.

Vroulikheid en elegansie was die mode in die 1950's. In 1946 was daar 'n atoomontploffing op die eiland Bikini Atol in die Noordelike Stille Oseaan. Die bikini, na die atoomontploffing genoem, het net so 'n ontploffing op die modefront in die vyftigerjare veroorsaak.

'n Rewolusie het op die modefront in die 1960's plaasgevind. Die modes begin op jongmense konsentreer. Die miniromp maak sy verskyning en ma's probeer nou soos hul dogters lyk. Mans dra nou kleurvolle hemde - groen, pers, blou, rooi, ens. Selfs pakke is nou beskikbaar in ander kleure as bloot swart en grys.

Get Jobilize Job Search Mobile App in your pocket Now!

Get it on Google Play Download on the App Store Now




Source:  OpenStax, Afrikaans huistaal graad 6. OpenStax CNX. Sep 07, 2009 Download for free at http://cnx.org/content/col10995/1.1
Google Play and the Google Play logo are trademarks of Google Inc.

Notification Switch

Would you like to follow the 'Afrikaans huistaal graad 6' conversation and receive update notifications?

Ask