<< Chapter < Page Chapter >> Page >

Die ding het moeilik gegaan, want die skroewe was baie vas, en dan gly die ellendige skroewedraaier ook ewig af. Die verf van die masjien ly wel ’n bietjie skade; maar wat is dit vergeleke met dié vername onderneming? Eindelik is die wiel losgeruk; nou aan die groot werk! Die spul is na ’n bietjie sukkel mooi agtermekaar: die vlerke staan deftig uit aan weerskante, die skroef (of “propeller,” soos hy dit genoem het) lyk glad nie te sleg nie, al is hy maar uit ’n ou sinkplaat gekap met die houtbyl en sommer met die hand reg gedraai. Die vlerke is gemaak van ou stukke goiingsak, met ’n raamwerk van dik draad van ’n agste duim; die hele spul lyk wel ’n bietjie swaar vir die perdekrag wat ’n paar hande kan produseer, maar Patrys het gehoor dat die lug in die onderveld baie dunner is as die lug langs die seekus. Nou wel, as die lug hierlangs ligter is, moet dit mos makliker gaan om deur so ’n lug te kom, nie waar nie? Veiligheidshalwe het hy ook Hans se opinie gevra oor die saak, en dié het dadelik die waarheid van hierdie wetenskaplike feit ingesien.

En nou die groot proefneming. Patrys het alles al haarfyn uitgedink. Klim hy op die kombuisdak en trek hy van daar af weg, dan vang die vlerke van sy vliegtuig maklik ’n tak van die vrugtebome wat daar naby staan, en dan beskadig hy miskien ’n boom – en hy onthou die strop nog goed. Van die koeistal af is dit ook nie wenslik nie, want moontlik skrik die kalf en verwurg – dus sal hy maar van die spits dak van die huis self af wegvlie. Maar hoe kom hy daar met sy masjien? Na beraad besluit hy om outa Moos se hulp in te roep.

Dadelik hardloop hy na die ou se kamer. Hy is nie daar nie – dus sal hy natuurlik in die tuin rondvroetel. Ja, daar staan hy ook en krap ’n onkruidjie uit.

“Outa Moos, is jy baie besig?”

“A ja, my basie, ekke werk vandag weer banja hard.”

Nou, Outa moet my asseblief eers help, toe, Outa?”

“Waarmee, my kleinbasie?”

“Ek wil hê jy moet my help om ’n ding op die dak te sit.”

Outa Moos kyk agterdogtig op. Die vabondse kleingoed het somtyds ’n lelike onhebbelikheid om die ou vir die gek te hou. “Dis mos nie pampoentyd nie,” sê hy.

“Nee, Outa, ek wil nie pampoene op die dak pak nie; ek wil ’n ander ding daar bring. Jy weet mos daardie ding wat ek die afgelope paar dae daar in die pakkamer gemaak het, nè?”

“Ja, my basie?” en die ou lyk belangstellend, want hy was al baie nuuskierig om te weet wat op aarde daardie ding moet wees; ’n nuwe soort planter, of iets om vrugte op te droog.

“Nou ja, outa Moos, ek gaan met hom vlie.”

“Hè, my kleinbasie?” Die ou kan sy ore nie glo nie.

“Ja, vlie soos ’n voël,” sê Patrys.

“Hegge-hegge-hegge-hegge,” lag ou Moos sy snaakse hoeslaggie. “My kleinbaas wil al weer grap maak met ou Moos, nè?”

Patrys word ongeduldig. “Nou ja, kom help gou, dan sal jy self sien.”

Kopskuddend volg Moos. Sowat het hy nog nie gehoor nie. (Hierdie gebeurtenis dateer uit die dae toe daar nog nie bra vliegtuie in die land was nie, en toe Suid-Afrika se vliegpionier, Weston, net begin het met sy proefnemings. Patrys gaan gereeld na die klein plaaslike biblioteek en deursnuffel die geïllustreerde blaaie, en daar het hy eendag ’n model van ’n vliegtuig gesien; ook het die meester al ’n paar slae daaroor gepraat. Maar ou Moos wis natuurlik niks van moderne tegniese vooruitgang nie, behalwe miskien iets van nuwe landbougereedskap.)

Get Jobilize Job Search Mobile App in your pocket Now!

Get it on Google Play Download on the App Store Now




Source:  OpenStax, Afrikaans huistaal graad 8. OpenStax CNX. Sep 11, 2009 Download for free at http://cnx.org/content/col11037/1.1
Google Play and the Google Play logo are trademarks of Google Inc.

Notification Switch

Would you like to follow the 'Afrikaans huistaal graad 8' conversation and receive update notifications?

Ask