<< Chapter < Page Chapter >> Page >

Afrikaans eerste addisionele taal

Graad 9

Module 3

Om mediatekste krities te ontleed

AKTIWITEIT 1

Om vir inligting te kan lees en mediatekste krities te kan ontleed.

  • Lees die onderstaande grappie en beantwoord dan die vrae wat daarop volg:

Hier kom Koos

Koos werk as kondukteur op die hooflyntrein. ’n Passasier klim in Johannesburg op en vra Koos om seker te maak hy klim op De Aar af. “Ek slaap verskriklik vas,” verduidelik die passasier, “en boonop gaan ek en my vrinne vanaand lekker op die trein kuier. Ek gee nie om hoe jy dit doen nie, kry my net op De Aar van die trein af.”

Die volgende oggend bevind die passasier hom op Kaapstad-stasie. Hy’s woedend vir Koos en dam hom by.

“Het ek jou nie @#!! gesê jy moet my op %$*!! De Aar van die trein afsit nie?! Wat de duiwel …” en hy vaar uit teenoor Koos.

Toe die man weg is, stap die inspekteur na Koos.

“Liewe aarde,” sê hy, “ek kan nie onthou wanneer laas ek sulke taal uit ’n man se mond gehoor het nie. En jy?”

“Gisteraand,” sug Koos, “toe ek sy medepassasier op De Aar van die trein afgesmyt het.”

Grappie uit Huisgenoot 26 April 2001

1. Haal uit die leesstukkie een woord vir die volgende omskrywings:

1.1 ’n Amptenaar wat toesig hou oor die passasiers op die trein.

1.2 Iemand wat per trein, boot of bus reis.

1.3 Iemand wat ondersoeke instel.

2. Watter atmosfeer word deur die gebruik van die woord “vrinne” teweeggebring? Noem nog ander woorde wat min of meer dieselfde betekenis het.

3. Wat kan moontlik met die volgende woorde bedoel word? “Ek en my vrinne gaan vanaand lekker op die trein kuier.”

4. Waarom, dink jy, was die passasier “woedend” toe hy hom op Kaapstad-stasie bevind?

5. Om watter moontlike redes woorde sekere woorde as @#!! en %$*!! weergee?

6. Wat word bedoel met “…hy vaar uit”?

7. Vervang die woord “uitgesmyt” met ’n woord wat min of meer dieselfde betekenis het.

8. Verduidelik wat werklik hier gebeur het.

LU 3.4 LU 3.5

AKTIWITEIT 2

Om vir inligting te kan lees en mediatekste krities te kan ontleed.

  • Die volgende vrae het op die leesstukkie TROMPETTER EN BOEM-BOEM betrekking:
  • LEESSTUK: TROMPETTER ….

Trompetter en boem-boem

Praat van ’n groot geraas – dis die swaarste orkes op aarde

Waar kry jy die swaarste orkes op aarde? In Thailand, want daar het hulle een waarin olifante die instrumente bespeel.

Die gewigtige orkes is die breinvrug van Richard Lair, ’n Amerikaner wat hom jare gelede in Thailand gevestig het. Hy is vandag een van die grootste kenners van die Indiese olifant ter wêreld en was al ’n konsultant op die stel van etlike rolprente waarin olifante speel.

Richard het ná ’n geselsie met Dave Soldier, ’n komponis van New York, op die gedagte gekom om ’n orkes van twaalf olifante te stig wat tradisionele Thai-instrumente speel.

Die instrumente is vanselfsprekend heelwat groter as die gewones wat deur mense bespeel word.

Die olifant-orkes het verlede jaar sy eerste CD opgeneem. Die opbrengs word geskenk aan die Lampsang-sentrum vir olifante. Die CD is glo ’n reuse sukses … π

Uit Huisgenoot 26 April 2001

1. Verduidelik in jou eie woorde waarom daar van ’n “gewigtige orkes” gepraat word.

2. Wat word bedoel as daar gepraat word van “breinvrug” van Richard Lair?

3. Hoe weet ons dat Richard Lair ’n bekende olifantkenner is? Noem twee redes.

4. Hoe verskil ’n konsultant van ’n komponis?

5. Watter tipe instrumente speel die olifante?

6. Hoe verskil die instrumente van die gewone instrumente wat mense speel?

7. Waarvoor staan die afkorting CD? Verskaf ook TWEE Afrikaanse woorde wat in die algemene omgangstaal gebruik word.

8. Verduidelik hoe die laaste sin van die leesstukkie op twee verskillende maniere vertolk kan word.

LU 3.4 LU 3.5

AKTIWITEIT 3

Om vir ’n sosiale doel te kan skryf.

  • Skryf ’n opstel van ongeveer 200 tot 300 woorde oor een van die volgende onderwerpe:
  • Dieremaniere (Vertel watter snaakse/oulike dinge jou troeteldiere aanvang.)
  • Glo dit as jy wil… (Vertel ’n storie wat mense na hul asem laat snak. Onthou, die storie moet geloofwaardig wees.)
LU 4.2

Assessering

LU 3 LEES EN KYK
Die leerder is in staat om vir inligting en genot te lees en te kyk en krities op die estetiese, kulturele en emosionele waardes in tekste te reageer.
Dit word bewys as die leerder:
3.4 begrip toon van ’n wye verskeidenheid informatiewe tekste:
3.5 ontleed mediatekste krities (soos ’n kort koerantberig):
LU 4 SKRYF
Die leerder is in staat om verskillende soorte feitelike en verbeeldingsryke tekste vir ‘n wye verskeidenheid doeleindes te skryf.
Dit word bewys as die leerder:
4.2 ‘n verskeidenheid feitelike skriftelike en multimodale tekste vir verskeie doeleindes lewer deur waar gepas, visuele beelde en ontwerpe in die volgende te gebruik: boodskappe, verslae oor aktuele sake, advertensies, plakkate, boek- en filmresensies, ooggetuieverslae, koerantberigte, cv’s, persbriewe, aansoekbriewe, dekbriewe, agenda en notule van vergaderings;

Memorandum

AKTIWITEIT 1

1.1 kondukteur

1.2 passasier

1.3 inspekteur

2. gemoedelike atmosfeermaats/vriende/pêlle

3. Hulle gaan partytjie hou.

4. Hy het besef dat hy nie op De Aar afgeklim het nie.

5. Dit is vloekwoorde.

6. Hy is woedend.

7. uitgegooi

8. Koos het 'n ander passasier by die De Aar-stasie afgegooi en nie die een wat daar moes afklim nie.

AKTIWITEIT 2

1. Die woord sinspeel op die gewig van die olifant.

2. Hy het met die briljante plan vorendag gekom.

3. Hy is een van die grootste olifantkenners ter wêreld. Hy is konsultant vir 'n paar rolprente waarin olifante speel.

4. Konsultant – gespesialiseerde persoon wat mense van raad bedien.Komponis-skryf liedjies/musiek.

5. tradisionele Thai-instrumente

6. Die instrumente is heelwat groter as die gewones wat deur mense bespeel word.

7. Compact disk Laserskyf / kompakskyf

8. Die CD is werklik 'n groot sukses. Baie daarvan is verkoop."Reuse" kan ook sinspeel op die grootte van die olifante.

AKTIWITEIT 3

  • Opvoeder kan aangehegte assesseringsmatriks gebruik vir die assessering van die opstel.

Get Jobilize Job Search Mobile App in your pocket Now!

Get it on Google Play Download on the App Store Now




Source:  OpenStax, Afrikaans eerste addisionele taal graad 9. OpenStax CNX. Sep 14, 2009 Download for free at http://cnx.org/content/col11059/1.1
Google Play and the Google Play logo are trademarks of Google Inc.

Notification Switch

Would you like to follow the 'Afrikaans eerste addisionele taal graad 9' conversation and receive update notifications?

Ask