<< Chapter < Page Chapter >> Page >

Afrikaans eerste addisionele taal

Graad 8

Module 3

Maak ‘n collage

Aktiwiteit 1

  • Julle en die ander lede van jul gesin/familie het dikwels prettige dinge wat julle deel.
  • Maak ’n collage (foto’s, prente, sketse) wat die volgende kan insluit:
  • Jul gunsteling-
  • motor
  • vakansieplek
  • eetplek
  • tydskrif
  • televisieprogram
  • tandepasta
  • sportsoort, ens.
  • Jy kan self ’n seleksie maak en nog ’n paar byvoeg, indien jy dit sou verkies!
LU 5.3

Aktiwiteit 2

  • Wys die collage aan die res van die klas/groep en bespreek dit kortliks.
  • Jou klasmaats mag ook een of twee vrae vra.
LU 1.4 LU 2.4

Aktiwiteit 3

  • Lees die kortverhaal, sorgvuldig deur en beantwoord die vrae wat daarop volg.

DIEF

Deur Elize de Bruyn

Toe Monique die videospeletjie-arkade binnegaan, vang die goudkleurige geskenkdoos met die rooi strik dadelik haar oog. Dit staan langs die tienjarige Braam van Greuning, ’n bleek outjie met rooi krulhare, se stoel. Dis duidelik iets wat hy vir iemand gekoop het. Die Van Greunings is ryk. Hulle kan koop net wat hulle wil. Hulle leef lekker. Jaloesie spoel warm oor haar.

Braam se broer, Theo, is dertien soos sy en in haar klas. ’n Regte “drip”. Hy groet haar nooit. Dit pla haar nie. Sy weet sy is skreeulelik. Dom en lui boonop. Smiddae hang sy in die video-arkade rond. Sy rook. En sy steel. Klein goedjies. Dis vir haar lekker. Sy en haar pa het niks nie. Hulle bly in ’n goedkoop munisipale woonstel. Alleen. Haar ma is lankal aan ’n hartsiekte dood.

Monique is kwaad vir die lewe. Maar haar pa is ’n gelowige man en raak vies as sy kla. Hy sê altyd elke mens het ’n probleem. Elke mens het ’n kruis om te dra ... Elke mens se kruis is vir hom swaar ... ’n Mens moet net nie jou eie kruis in die lewe word nie ...

Braam van Greuning speel ’n video-speletjie, sy oë vasgenael op die skerm, onbewus van die wêreld om hom. Die arkade is vol en lawaaierig. Monique kan maklik die goudkleurige doos vaslê. Sy haal die opgefrommelde inkopiesak waarin haar toebroodjies was uit haar skoolbaadjie se sak en beweeg nader, buk kastig om haar skoen vas te maak, vat die geskenkdoos end druk dit in die sak. Sy kyk rond. Niemand het haar gesien nie en sy glip vinnig by die arkade uit. Sy het weer daardie vreemde, tevrede gevoel asof ’n leë plek in haar binneste volgemaak is. In haar kamer maak sy die goudkleurige doos se deksel op en lig ’n groot skulp uit die watte. ’n Skulp! Daar is ’n kaartjie by.

Geluk met Mamma se verjaardag!

Liefde

Braam

Sy laat haar vingerpunte oor die riffels van die swaar, koel skulp gaan, ruik aan die skulp en kry die soutreuk van die see. Dis ’n mooi skulp, maar niks werd nie. En al haar moeite hiervoor! Sy sit die skulp terug in die doos, prop die doos in die sak en sit dit onder haar bed. Sy is teleurgesteld.

Daardie aand kan sy nie slaap nie. Sy voel skuldig oor die skulp. Dis volmaan en haar kamer is vol lig. Sy staan op en haal die skulp onder die bed uit. Buitekant is die skulp se riffels grof; binne is die skulp sag soos satyn. Sy druk die skulp teen haar oor en hoor die ruising van die see. Dis ‘n sussende geluid. Waar kom die skulp vandaan? Seker ’n ver strand want dié soort skulp tel jy nie sommer enige plek op nie. Sy bekyk die skulp in die maanlig. Die fat­soen is pragtig. En hoe meer sy na die skulp kyk, hoe mooier word dit. Die skulp kos miskien nie baie nie, maar Braam sou dit nie gekoop het as dit nie vir sy ma iets sou beteken nie. Sy gaan lê met die skulp teen haar oor en luister na die see. Dis asof die sagte ruising sê: gee terug ... gee terug .. gee terug ...

Get Jobilize Job Search Mobile App in your pocket Now!

Get it on Google Play Download on the App Store Now




Source:  OpenStax, Afrikaans eerste addisionele taal graad 8. OpenStax CNX. Sep 11, 2009 Download for free at http://cnx.org/content/col11038/1.1
Google Play and the Google Play logo are trademarks of Google Inc.

Notification Switch

Would you like to follow the 'Afrikaans eerste addisionele taal graad 8' conversation and receive update notifications?

Ask