<< Chapter < Page Chapter >> Page >

Aktiwiteit 3

Om in Afrikaans te kan dink en om woordeskat uit te brei

  • Skryf ’n definisie van elk van die volgende woorde soos hulle in bogenoemde stuk gebruik word, met ander woorde in hierdie konteks. Jy mag naslaanboeke gebruik, maar probeer om die definisie in jou eie woorde te skryf:
  • ’n trekpleister
  • skoonheid
  • ’n skiereiland
  • ’n herberg (met ’n kleinletter, m.a.w. nie as deel van die naam “Die Herberg van die See” nie)
  • ’n dagboek
  • Ken jy dalk ’n ander betekenis van “trekpleister”? Indien wel, skryf dit hier neer. Indien nie, probeer uitvind!
LU 5.2

Aktiwiteit 4

Om stories te verstaan en waardeer

Van hunks en die duiwel

  • Daar is baie mites en legendes omtrent Kaapstad. Een van hulle is die legende van Van Hunks en die duiwel:

Lank, lank gelede wou die Kapenaars ’n verklaring vind vir die digte wolk wat soms oor Tafelberg hang.

Daar het ’n storie ontstaan van ’n seerower, ene Van Hunks, wat tussen Duiwels-piek en Tafelberg in ’n kothuisie gewoon het. Op ’n dag het ’n vreemdeling by sy huisie opgedaag. Die vreemde man was deftig uitgevat en het ’n mooi hoed gedra. Hy het homself nie voorgestel nie, maar vir Van Hunks vir ’n bietjie pyp-tabak gevra. Van Hunks nooi hom toe in, en gee vir hom tabak om sy pyp mee te stop. Terwyl hulle so sit en rook, spog Van Hunks dat niemand soveel kan rook as hy nie. Daar en dan daag die vreemdeling vir Van Hunks uit om ’n “rook-wedstryd” met hom te hê. Hulle sou kyk wie die meeste kon rook. Hulle verdeel die tabak, en begin rook.

Teen die volgende oggend was die hele berg toe onder die rook. Skielik stamp die vreemdeling sy hoed per ongeluk van sy kop af. Wat sien Van Hunks? Die man het horings op sy kop! Die vreemdeling was toe al die tyd die duiwel! Skielik is daar ’n donderslag en beide Van Hunks en die duiwel verdwyn. Tot vandag toe het niemand hulle nog ooit weer gesien nie. Maar as die wolk so swaar oor Tafelberg hang, sê die Kapenaars: “Ou Van Hunks en die duiwel stook vandag weer!”

Bron: (External Link)

Umlindi wemingizimu: die bewaker van die suide

  • Daar is baie stories oor die Kaap.

Volgens ’n Afrika-legende het Qamata die wêreld geskape. Maar Nganyamba, ’n nare monster wat onder die see lê en slaap, het probeer om te verhoed dat Qamata droë land maak. Om vir Qamata in sy stryd teen Nganyamba by te staan, het Djobela, die eenogige aardgodin, vier groot reuse gemaak; een om elke rigting te bewaak: noord, suid, oos en wes. Ná groot gevegte is die reuse egter uiteindelik verslaan. Voor hulle dood is, het hulle vir Djobela gevra om hulle in berge te verander sodat hulle hul werk kon voortsit. Umlindi Wemingizimu (Die Bewaker van die Suide) het toe Tafelberg geword. Tot vandag toe hou Tafelberg nog wag oor die suide.

Bron: (External Link)

  • Verdeel in groepe van vier en werk saam aan hierdie aktiwiteit. Vind nog ’n legende, gedig, mite of storie oor die Kaap deur in naslaanboeke of op die internet te soek, of deur ouer mense daaroor uit te vra. Hierdie stories kan met Kaapstad en omgewing (bv. die see, vissermanne, Tafelberg, die Kasteel of mense uit die geskiedenis) verband hou. Probeer om verhale van verskillende Suid-Afrikaanse bevolkingsgroepe te kry, sodat daar diversiteit is. Vertel dan die verhaal aan die res van die klas. Maak ook ’n mooi plakkaat wat later as klasversiering gebruik kan word. Sorg dat elke lid van die groep ’n bepaalde taak het.
  • Die groepe wat luister terwyl hul maats vertel, moet dan vrae vra, die storie evalueer en terugvoering gee. Jul onderwyser sal leiding gee met hierdie deel van die aktiwiteit.

Get Jobilize Job Search Mobile App in your pocket Now!

Get it on Google Play Download on the App Store Now




Source:  OpenStax, Afrikaans eerste addisionele taal graad 8. OpenStax CNX. Sep 11, 2009 Download for free at http://cnx.org/content/col11038/1.1
Google Play and the Google Play logo are trademarks of Google Inc.

Notification Switch

Would you like to follow the 'Afrikaans eerste addisionele taal graad 8' conversation and receive update notifications?

Ask