<< Chapter < Page Chapter >> Page >

Afrikaans huistaal

Graad 9

Module 12

Om vrae oor nasionale vraagstukke te kan vra

Aktiwiteit 1:

Om vrae oor nasionale vraagstukke te kan vra en om gevorderde interaksievaardighede te toon deur aan groepbesprekings deel te neem

[lu 2.4]

1. Groepbespreking:

Gesels oor die nasionale vraagstuk, VIGS, die verspreiding daarvan, hoe groot die probleem eintlik is en watter bydrae elkeen van ons kan lewer. Bring vooraf inligting saam. Wie ken iemand wat HIV-positief is?

Aktiwiteit 2:

Om taalverskynsels te bemeester

[lu 6.1, 6.2, 6,3]

Lees die volgende artikel en beantwoord dan die vrae wat volg:

Sterre verenig teen vigs-euwel
Ek wil nou nie te swaarmoedig raak hier op ‘n Maandag nie, maar my aanvanklike gedagtes sluit aan by ‘n groot musiekpaartie later vandeesmaand, een wat julle maar gerus kan gaan ondersteun omdat dit nie alleen met internasionale musieksterre spog nie, maar ook ‘n goeie saak ondersteun.Die (swaarmoedige) onderwerp is MIV/vigs. Nou ja, dié van julle wat sug en dink boring , dit gebeur net met ander mense, laat ek julle verseker dat hierdie epidemie elkeen van ons raak – enkellopendes, dié wat gekys is, getroudes, gay mense en straight mense. Dit raak mense wat so kuis soos ‘n afgetrede monnik is, dié wat in ‘n ernstige verhouding met een persoon is en daardie rakkers wat lukraak lêplek vind.Die groot probleem is dat mense onkundig daaroor is, dat mense nie weet wat die moets en moenies is nie. Dis hierdie onkunde wat veroorsaak dat mense óf glad nie belang stel om oor MIV/vigs te praat nie, óf eenvoudig blindelings voortgaan met ‘n hoërisiko-lewenstyl.Daar is bv. nog mense wat glo dat die MI-virus deur toiletsitplekke, saunas, storte of in swembaddens oorgedra kan word. Óf dat ‘n mens die virus kan opdoen deur kontak te hê of te raak aan mense wat MIV-positief is.Die boodskap om mee af te sluit, is dat mense die oogklappe moet bêre. Dis ‘n universele probleem wat ons almal se aandag verg. Vind uit omtrent die onderwerp; dis belangrik dat jy weet.Aangepas uit: Jip , Die Burger , 11 November 2002

1. Verskaf ‘n sinoniem vir die volgende woorde:

1.1 swaarmoedig

1.2 lukraak

1.3 universele

1.4 kuis

1.5 rakkers

2. Maak ‘n kort verduidelikende sin met die volgende homofone:

2.1 styl

steil

2.2 sluit

slyt

3. Maak ‘n kort verduidelikende sin met die homoniem van die vetgedrukte woord:

3.1 Ek raak swaarmoedig.

4. Verskaf die meervoudsvorm van:

4.1 monnik

4.2 sauna

  • virus
  • risiko

5. Verskaf die lydende vorm van:

5.1 Die epidemie raak elkeen van ons.

5.2 Mense moet die oogklappe bêre.

5.3 Ons gaan die partytjie ondersteun.

6. Verskaf die bedrywende vorm van die volgende sin:

6.1 Vigs word nie deur toiletsitplekke oorgedra nie.

7. Verskaf die indirekte rede van die volgende sin:

7.1 Die skrywer sê: “Dis ‘n universele probleem wat ons almal se aandag verg.”

8. Verbind die volgende sinne met die voegwoord tussen hakies:

8.1 Hy wil nie swaarmoedig raak nie. Hy moet die probleem onder ons aandag bring. (nietemin)

8.2 Dis ‘n universele probleem. Dit verg ons almal se aandag. (dus)

8.3 Dit is ‘n groot probleem. Ons doen niks daaraan nie. (nogtans)

Get Jobilize Job Search Mobile App in your pocket Now!

Get it on Google Play Download on the App Store Now




Source:  OpenStax, Afrikaans huistaal graad 9. OpenStax CNX. Sep 14, 2009 Download for free at http://cnx.org/content/col11058/1.1
Google Play and the Google Play logo are trademarks of Google Inc.

Notification Switch

Would you like to follow the 'Afrikaans huistaal graad 9' conversation and receive update notifications?

Ask