<< Chapter < Page Chapter >> Page >

En op ‘n ander plek op aarde, op die verlate kaalte van die oop see, worstel ‘n vulkaan op uit die water om binne ‘n kort tydjie vir hom ‘n plekkie in die son te verseker. ‘n Splinternuwe eiland is gebore. Tsunami’s ontstaan en kan laagliggende baaie en eilande oorstroom en verwoes.

Onder die dobberende kors van ons woelige planeet is ‘n ander woelige wêreld van gesmelte gesteentes. Dié kan uitbars om hier bo te verwoes, maar soms verrassend, ook om dinge te skep. ‘n Proses wat deur die eeue aan die gang is.

[ Huisgenoot se Jongspan , 4 Junie 1987 ]

Ons het reeds gesien dat vulkane ook positiewe gevolge kan hê. As die lawa stol, vorm stollingsgesteentes waarin edelstene soos diamante gevorm word. Dit kan finansiële welvaart vir ‘n land beteken.

As hierdie lawarots of stollingsgesteentes oor miljoene jare verweer, vorm dit vrugbare grond wat goed is vir die aanplant van gewasse. Voedsel word dus aan die wêreld voorsien.

Warmwaterbronne kom volop naby vulkane voor. Die warmwaterbronne is natuurlik groot toeriste-aantreklikhede. In kouer lande word dit selfs gebruik om warm water aan geboue te verskaf en ook vir die verhitting van geboue.

Aktiwiteit 1:

Om die gevolge van vulkane op mense en die omgewing te bespreek

[lu 2.1, 2.2]

1. Lees die voorafgaande tydskrifartikel sorgvuldig deur. Bespreek nou in groepe die gevolge wat vulkane het op:

a) Die mens

b) Die omgewing

  1. Versamel prentjies, foto’s en uitknipsels van vulkane. Bring dit na jou klaskamer en hou besprekings daaroor. Vul jou aantekeninge daarmee aan.

3. Hoekom sommige mense ’n hoër risiko as ander is

Rampe ken geen perke nie, maar as jy na figuur 8 kyk, sal jy sien dat vulkane meer dikwels in sekere areas voorkom as in ander.

Mense maak dus ‘n bewustelike keuse om naby ‘n vulkaan te bly. Soms is daar selfs baie digbevolkte gebiede baie naby ‘n vulkaniese area. Ekonomiese oorwegings soos werkvoorsiening en finansiële welvaart tel baie keer meer as veiligheid teen die potensiële gevaar van ‘n vulkaan wat moontlik kan uitbars.

Net soos by aardbewings kan ontwikkelde gebiede die impak van ‘n vulkaan baie beter hanteer. Waarskuwings kan betyds uitgesaai word en ontruiming kan vooraf plaasvind. Nasorgdienste is bykans onmiddellik beskikbaar en menselewens kan betyds gered word.

Dit is egter waar digbevolkte gebiede in die ontwikkelende lande naby ‘n vulkaan gekonsentreer is dat daar groot probleme ontstaan. Kommunikasiestelsels is baie swak en vroegtydige waarskuwings kan nie by die mense uitkom nie. Gesondheidsorg is baie swak en nooddienste kom bykans nie voor nie. Brande wat uitbreek, verwoes lewens en eiendom. Nasorgdienste is swak en baie mense sterf omdat hulle nie betyds gehelp word nie.

4. Voorkomende maatreëls: die bestuur van gevare en gevaarvermindering

Wetenskaplikes bestudeer ook gedurig die aktiewe vulkane van die wêreld en probeer voorspellings maak. Soms is hulle suksesvol, maar baie keer nie. Ons kan nie sien wat in die dieptes van die aardkors aangaan nie en daarom is die daarstelling van nasorg- en noodmaatreëls so belangrik in vulkaniese gebiede.

Get Jobilize Job Search Mobile App in your pocket Now!

Get it on Google Play Download on the App Store Now




Source:  OpenStax, Aardrykskunde graad 7. OpenStax CNX. Sep 09, 2009 Download for free at http://cnx.org/content/col11020/1.1
Google Play and the Google Play logo are trademarks of Google Inc.

Notification Switch

Would you like to follow the 'Aardrykskunde graad 7' conversation and receive update notifications?

Ask