<< Chapter < Page Chapter >> Page >

Ekonomiese en bestuurswetenskappe

Graad 7

Suksesvolle sakebestuur

Module 6

Kernbeginsels van suksesvolle besighede

A. Kernbeginsels van suksesvolle besighede

Die volgende beginsels (fondamente) is altyd noodsaaklik om ‘n besigheid suksesvol te bedryf:

1. Kennis van die produk of diens wat jy moet lewer

Wanneer jy besluit om ‘n besigheid te begin, is dit altyd voordelig om vertroud te wees met die tipe produk of diens wat jy wil lewer. Jy sal mense moet oortuig dat jou produk of diens van ‘n hoë kwaliteit is en ook dat hulle dit werklik nodig het.

Hoewel jy later, namate die besigheid groei, bemarkers sal aanstel om jou produk of diens te verkoop, bly jy die een wat hulle moet inspireer en inlig oor die voordele van die produk.

Dit is eers baie later dat die produk of diens homself begin verkoop. Onthou ook om altyd op hoogte te bly van ander soortgelyke produkte of dienste in die mark, aangesien jy voortdurend jou produk moet verbeter om kompeterend te bly. As jy moet kies tussen twee motors en albei ewe aanloklik is, sal jy jou waarskynlik laat oortuig deur die verkoopsman met die mees uitgebreide kennis van sy produk.

2. Kapitaal

Geen besigheid kan bedryf word sonder kapitaal (geld) nie. Die vraag is altyd waar jy die kapitaal kan bekom om jou eie besigheid te begin. Hier speel kennis van jou produk ‘n groot rol! Banke is gewoonlik bereid om ‘n aanvanklike lening beskikbaar te stel sodat jy jou onderneming kan begin. Jy sal hulle egter moet oortuig dat genoeg mense in jou produk belangstel sodat jy gaandeweg ‘n wins sal toon. Banke sal ook slegs ‘n lening toestaan as jy bepaalde sekuriteite kan aanbied. As dinge nie verloop soos wat jy in jou sakeplan voorspel het nie, sal die bank sy geld wil terugkry. Indien jy nie self die sekuriteite kan verskaf nie, sal jy ‘n vennoot moet kry om dit te doen.

Baie suksesvolle besighede het hulle ontstaan te danke gehad aan twee stigters: een met die kennis van die produk of diens wat suksesvol sal verkoop, en een vennoot met bepaalde kapitaalvermoë. Moet nooit toelaat dat ‘n gebrek aan kapitaal jou verhinder om ‘n besigheid te begin nie!

3. Fokus

Dit neem tyd voordat ‘n onderneming werklik begin om ‘n wins te toon en deur die gemeenskap gereken word. ‘n Besigheid kan selfs ‘n hele paar jaar neem om werklike wins te begin toon. Baie entrepreneurs wat besighede begin het, het iewers langs die pad moed opgegee omdat die besigheid nie volgens hulle gou genoeg wins begin toon het nie. In baie gevalle moes hulle nog net ‘n paar maande langer betrokke gebly het. Hulle het in der waarheid by die spreekwoordelike wenpaal omgedraai en moed opgegee. Die noodsaaklikheid van ‘n goeie sakeplan moet weer eens beklemtoon word. Jou sakeplan dui aan wanneer die besigheid behoort wins te toon. Indien dit aantoon dat jy eers na drie of vier jaar ‘n aantreklike wins sal maak, sal dit jou help om gefokus te bly op die produk of diens wat jy lewer deur ander oënskynlik suksesvolle besighede. Hulle verskuif dan hul aandag van die een tipe besigheid na die ander om na ‘n paar jaar slegs te vind dat hulle nie van die een of ander ‘n sukses kon maak nie. Bly dus gefokus op die produk of dienslewering wat jy gekies het. Trouens, jy moet jou onderneming tyd gee om homself te vestig. Bly dus lank genoeg gefokus op jou produk!

Get Jobilize Job Search Mobile App in your pocket Now!

Get it on Google Play Download on the App Store Now




Source:  OpenStax, Ekonomiese en bestuurswetenskappe graad 7. OpenStax CNX. Sep 09, 2009 Download for free at http://cnx.org/content/col11024/1.1
Google Play and the Google Play logo are trademarks of Google Inc.

Notification Switch

Would you like to follow the 'Ekonomiese en bestuurswetenskappe graad 7' conversation and receive update notifications?

Ask