<< Chapter < Page Chapter >> Page >

Afrikaans huistaal

Graad 9

Module 4

Begripstoets

AKTIWITEIT 1

Begripstoets:

Bekkige bedelaars amuseer en frustreer met stories en versoeke

Die Kaap se strate wemel van akteurs wie se storie die manne van Maak ’n Las ore sal aansit. Sommige daarvan is so oorspronklik dat ’n mens hulle selfs die geld gun wat die liegstorie hulle in die sak bring .

Parkeerterreine is gewilde bedelplekke. Hier word ’n ieder en ’n elk ’n paar rand gevra om petrol in te gooi, om ’n trein te haal Worcester toe (hoekom is almal altyd op pad Worcester toe?) of ’n paar sent om vir die gesin kos te koop.

Een van die verbeeldingrykste stories kom egter van die Tygervallei Sentrum. ’n Jong man met rooierige hare nader mense om vir hom R9,50 te gee. Dis die presiese bedrag wat hy nodig het om vir hom en sy suster treinkaartjies na Stellenbosch te koop.

Hulle is sonder geld omdat hulle op Bellville se stasie van honderde dollars en hulle paspoorte beroof is. Hy praat met ’n Amerikaanse aksent en hy vertel dat hulle van Santiago in Amerika kom.

Buitelanders

Hy en sy suster is hier saam met hulle pa, wat as deel van ’n konsortium onderhandel om ’n bekende wynplaas in die omgewing te koop. By die aanhoor van hierdie oortuigende inligting sak ’n mens se moed in jou skoene omdat nog beleggingsmoontlikhede daarmee heen is en nog buitelanders met die verkeerde kant van ons land se mense kennis gemaak het.

Die man verseker almal dat die saak by die polisie in Bellville aangegee is. In die meeste gevalle sal niemand sommer gaan navraag doen of dit wel die waarheid is nie.

Die man het egter onlangs ’n kollega met hierdie storie genader. Sy nuussin is dadelik geprikkel, maar aangesien hy self ’n tyd lank in Amerika gewoon het, het hy ook effens gewonder oor die Amerikaanse aksent.

Net ’n bietjie té Amerikaans, het hy gereken. En daardie vuil broek. Die kind van ’n miljoenêr?

Op sy aanbeveling het dieTyger Burger navraag gedoen by die polisie in Bellville. Niemand met die naam Smithy het enige saak van hierdie aard aangemeld nie. Dalk was daar êrens ’n misverstand en dis moeilik om alles as onsin af te maak, maar dit lyk tog of die man met ’n goeie storie vele mense ingeloop het.

’n Ander kollega vertel dat ’n man op ’n parkeerarea in Bellville haar ’n moersleutel aangebied het in ruil vir ’n paar rand om petrol te koop. In ’n oomblik van swakheid kon sy nie anders as om hom iets toe te snou nie. Die eerste deel van van die stuk gereedskap se naam is toe sommer in ’n ander konteks gebruik.

’n Karakter wat in Bellville se strate oorbekend is, is Ou Vlokkie, soos hy homself noem. Wanneer hy bedel, is dit altyd net ’n skamele “ou fifty sentjies.” Sy versoek word vinnig opgevolg met: “Ag, die skaamte van Ou Vlokkie, die skaamte.”

Die einste Vlokkie skroom nie om jou te roskam as jy niks wil gee nie. Vir die uwe het hy na ’n afjak toegevoeg: “Antie, van jou gesig hou ek net niks.”

Die meeste mense skrik hulle lam as hy skielik sy gesig aan die passasierskant van die motor druk en sy geldjie vra, maar eintlik is hy onskadelik en deel van die groot aantal slenteraars en bedelaars in die stadskern van Bellville.

Get Jobilize Job Search Mobile App in your pocket Now!

Get it on Google Play Download on the App Store Now




Source:  OpenStax, Afrikaans huistaal graad 9. OpenStax CNX. Sep 14, 2009 Download for free at http://cnx.org/content/col11058/1.1
Google Play and the Google Play logo are trademarks of Google Inc.

Notification Switch

Would you like to follow the 'Afrikaans huistaal graad 9' conversation and receive update notifications?

Ask