<< Chapter < Page Chapter >> Page >

Sosiale wetenskappe: geskiedenis

Graad 5

Die antieke romeinse ryk: 500 v.c. – 500 n.c.

Module 14

Drie besienswaardighede in rome

Ek gaan nou ‘n uitstappie onderneem na antieke Rome se belangrikste besienswaardighede. Jul kan ook saamkom!

AKTIWITEIT

OM BRONNE TE GEBRUIK EN VERSLAG TE DOEN OOR ROME SE BESIENSWAARDIGHEDE

[LU 1.2; 1.3]

  1. Skryf die name van die onderskeie geboue en plekke neer.

Soos die meeste Romeine, het ek ook vanoggend lekker vroeg opgestaan en pap met wyn in my villa geniet. Later het vier slawe my in my draagstoel deur die bedrywige strate gedra na 'n plein in die middel van Rome – - genoem die Forum (vandag die Forum Romanum). Rondom dié plein is ook regeringsgeboue, ongelooflike pilare en standbeelde.

Naby is Caesar se mark , waar heelwat speserye te koop is. Die meeste winkels maak soggens vroeg oop, sluit middae vir 'n ruk en bly dan tot skemeraand oop.

Daar is ook klerehandelaars, bakkers, barbiere, kruideniersware-handelaars, aptekers, goudsmede, vleisverkopers, boek- en pluimveehandelaars. Olieverkope is beslis die winsgewendste. (Hoekom?) Baie handelaars het langs of bo-op hul winkels gebly.

Verder aan is die Trajanus-mark met sy tipiese klein winkeltjies.

Nou gaan ons na die rivier toe. (Watter een?) Op pad stap ons verby die reusagtige Colosseum waar toeskouers op grusame wyse vermaak is. Dit is van marmer, klip, baksteen en graniet gebou. Materiale is met trekskuite op die Tiberrivier vervoer. Die antieke amfiteater (omtrent 100 m hoog) kon meer as 50 000 toeskouers huisves. Daar is ook meer as 80 verskillende uitgangstrappe sodat die toeskouers die stadion binne drie minute kon verlaat!

Die Colosseum is in 80 n.C. ingewy met 'n spele wat meer as 100 dae geduur het. Daarvoor is duisende diere in Noord-Afrika gevang om in die arena te veg. Die keiser het selfs al 'n skyngeveg op water hier laat plaasvind!

Colosseum

b) Voltooi meegaande sleutel tot die Colosseum, wat natuurlik vandag nog in Rome bestaan. Skryf slegs die korrekte syfer regoor die ooreenstemmende beskrywing in.

Looplys vir boogskutters Reuse sonskerm
Ingang vir wildediere Houtpilare vir sonskerm
Keiser se losie Groot uitgang vir swaardvegters
Buitenste marmervoorkant Verhoog waarop belangrike mense kan beweeg
'n Groot uitgang

c) DINKSKRUM – in pare!

Waarvoor was daar:

80 groot uitgangstrappe?

'n rioolstelsel van klip?

'n looplys vir boogskutters?

d) Jy is een van die opgewonde skare in die Colosseum. Rolspeel die geveg!

of

Voer ‘n kort onderhoud met ‘n swaardvegter vir jul skoolkoerant.

Vra hom gerus ook uit oor al die verskillende kleure, reuke en geluide in die arena.

Ons stap ook onderdeur 'n Akwaduk (waterleiding) wat reeds in die tyd van keiser Claudius gebou is om vars water oor valleie en heuwels na Rome te bring. (Die Aqua Claudia is 65 km lank; Aqua Marcia is 55 km lank.) Slawe is gebruik om dit te bou en te herstel. Reuse hyskrane en katrolle is gebruik om die groot rotsblokke op te hys en reg neer te sit. Daarvandaan is pype na huise en ander geboue aangelê. (Vier van dié akwadukte na Rome is vandag nog in gebruik).

Uiteindelik bereik ons Trojon se winkel langs die groot Waterwiel op die wal van die pragtige Tiberrivier. Die slawe is juis besig om 'n vlot met koring hawe toe te sleep sodat dit afgelaai kan word. Hy reël dat die koring môre na een van sy Graanmeulens oorkant die rivier vervoer word. Daar was meer as 250 meulens in en rondom Rome – waarvan omtrent 20 met waterkrag werk.

Op pad terug maak ons vir oulaas tyd om die dag se "moeg" by 'n Badhuis af te spoel. Terwyl 'n slaaf jou toga vashou, kan jy rustig in die warm water ontspan. Daarna word jy met geurige olies ingesmeer. Ongelukkig het ons nie vandag ook tyd om die gimnasium, tuine, biblioteek en winkeltjies hier te besoek nie.

Badhuis

Vanaand gaan ons die dag op 'n hoogtepunt afsluit met 'n vertoning in die Circus Maximus .

Dié stadion kan omtrent 250 000 toeskouers hanteer. Strydwawedrenne word daagliks aangebied – met die eindrondtes saans. Die sanderige roete is omtrent 2 km lank, met skerp draaie aan die ente. In die middel is 'n muur om te verhoed dat drywers kortpad neem. Dié drywers, meestal opgeleide slawe, word soos helde behandel. Sommige kan met meer as 1 000 oorwinnings spog, terwyl andere na slegs enkele wedrenne verongeluk. Die karre, getrek deur twee tot vier perde, is lig en baie onvas en moes deur die drywer(s) self gebalanseer word. Daarom kan die karre maklik omgeslaan, en word drywers dan saamgesleep en kom dikwels so aan hul einde. Groot bedrae geld word op die vier spanne (wit, blou, rooi en geel) aangegaan.

  1. Ontwerp nou jou eie strokiesprent, met byskrifte, oor 'n besonder opwindende strydwaresies by die Circus Maximus.

Na 'n wonderlike dag sit ons laataand en gesels oor die Romeinse teaters. Die akteurs het gewoonlik maskers gedra. Vra nou eers jul onderwyser om jul die pragtige verhaal te vertel van Andracolus en die leeu. (Hy was 'n ontsnapte slaaf wat weer gevang is en teen 'n leeu moes veg ....)

f) Ontwerp nou jou eie masker vir 'n toneelstuk oor dié storie en bring dit saam klas toe!

Assessering

LEERUITKOMS 1: HISTORIESE ONDERSOEK – Die leerder is in staat om ondersoekvaardighede te gebruik om die verlede en die hede te ondersoek

1.1 Bekom die bronne. Begin om ekstra vrae oor gebeure, artefakte, plekke, mense te vra wat in moeilikheidsgraad wissel

1.2 Gebruik die bronne. Kan bladsyverwysings gebruik

Weet watter bronne (boeke) oor spesifieke onderwerpe inligting verskaf vir ‘n taak/uitstalling

  • Kommunikeer inligting uit bronne (verslaggewing).

Kan inligting op ‘n diagram, kaart, skets verduidelik

Kan mondeling of skriftelik ‘n gebeurtenis uit die verlede verduidelik

Memorandum

AKTIWITEIT

(a)

(b)

1 Looplys vir boogskutters 3 Reuse sonskerm
7 Ingang vir wildediere 4 Houtpilare vir sonskerm
6 Keiser se losie 5 Groot ingang vir swaardvegters
9 Buitenste marmervoorkant 8 Verhoog waarop belangrike mense kan beweeg
2 'n Groot uitgang

Get Jobilize Job Search Mobile App in your pocket Now!

Get it on Google Play Download on the App Store Now




Source:  OpenStax, Sosiale wetenskappe: geskiedenis graad 5. OpenStax CNX. Sep 23, 2009 Download for free at http://cnx.org/content/col10987/1.2
Google Play and the Google Play logo are trademarks of Google Inc.

Notification Switch

Would you like to follow the 'Sosiale wetenskappe: geskiedenis graad 5' conversation and receive update notifications?

Ask