<< Chapter < Page Chapter >> Page >

Tegnologie

Graad 5

Grafiese kommunikasie

Module 8

Ontwerp

Agtergrond:

Daar is vyf beginsels waaraan ‘n goeie ontwerp moet voldoen, naamlik :

  • Dit moet ‘n funksie (doel) hê.
  • Dit moet ‘n mooi en interessante voorkoms hê.
  • Dit moet van die mees geskikte materiaal wees.
  • Dit moet stewig en sterk gekonstrueer (aanmekaar gesit en geheg) word.
  • Dit moet ‘n positiewe invloed op die mens en sy omgewing hê.

OPDRAG 1:

[LU 1.5]

Jou bordspeletjie moet aan sekere vereistes voldoen, naamlik:

  • Die bord self mag nie groter as 30 cm by 30 cm wees nie. (Die vorm van die bordspel kan enige meetkundige vorm aanneem.)
  • Die bord moet van stewige dik karton wees.
  • Jy moet die plan van jou speletjie noukeurig met soveel meetinstrumente moontlik (liniaal, gradeboog, passer) op ‘n skoon, wit bladsy van ± 25 cm by 25 cm teken.
  • Die agterkant van die bord moet met gekleurde toedraaipapier oorgetrek word en die naam moet op ‘n kreatiewe wyse daarop aangebring word. Die plan moet daarna op die voorkant geplak word.
  • Die bord moet oopvou as jy die speletjie wil begin speel en toevou as jy dit bêre.
  • Enige toerusting kan gebruik word, maar al die toerusting moet in ‘n leë tandepastadosie kan pas.
  • Ten minste een meetkundige figuur wat herhaal, of twee verskillende meetkundige figure, moet op die bord herkenbaar wees.

OPDRAG 2:

[LU 1.5]

Skets nou met behulp van vryhandsketse verskeie idees vir jou bordspel. Voeg byskrifte by. Skets met jou potlood en moenie uitvee nie. Hou jou sketse eenvoudig en so prakties moontlik. Omkring die idees waarvan jy hou.

OPDRAG 3:

[LU 1.6]

Skets nou die vorm van jou bordspel noukeurig en volledig in 'n vierkant. Skets eers met potlood en daarna kan jy slegs die lyne met pen oortrek. Dui met byskrifte rondom aan hoe jy die bordspel gaan versier/inkleur.

Finale idee binne vierkantjie in middel

OPDRAG 4:

[lu 1.6]

Dink aan ‘n oorspronklike naam vir jou bordspel. Skryf alle moontlikhede neer. Omkring jou keuse. Motiveer ook hoekom jy die naam gekies het.

OPDRAG 5:

[LU 1.7]

Stel ‘n pamflet saam waarop jy die reëls van die speletjie verskaf, en wel onder die volgende hofies:

a. Toerusting

b. Die doel van die spel

c. Voorbereiding

d. Hoe die spel gespeel word (nommer die stappe)

e. Aantal spelers

f. Hoe die wenner bepaal word

OPDRAG 6:

[LO 1.10]

Voldoen jóú ontwerp aan die vyf basiese beginsels vir ‘n goeie ontwerp? Motiveer met redes.

a. Het jou ontwerp ‘n doel ?

b. Het jou ontwerp ‘n mooi en interessante voorkoms ?

c. Gaan jou ontwerp van die mees geskikte materiaal gemaak word?

d. Gaan jou ontwerp op die mees geskikte manier aanmekaar gesit/geheg word?

e. Het jou ontwerp ‘n positiewe invloed op die mens en die omgewing?

Assessering

LU 1

Tegnologiese Prosesse en Vaardighede

Die leerder is in staat om tegnologiese prosesse en vaardighede eties en verantwoordelik toe te pas deur toepaslike inligtings- en kommunikasietegnologie te gebruik.

Dit is duidelik wanneer die leerder:

Ondersoek :

1.1 uitvind oor die agtergrondkonteks (bv. mense, omgewing, aard van behoefte) wanneer ‘n probleem, behoefte of geleentheid gegee word en die voordele en nadele wat ‘n tegnologiese oplossing vir mense sou kon inhou, noem;

1.2 uitvind oor bestaande produkte wat relevant vir ‘n probleem, behoefte of geleentheid is, en sommige ontwerpsaspekte (bv. vir wie dit is, waarvoor dit is, hoe dit lyk, waarvan dit gemaak is) identifiseer;

1.3 waar gepas ‘n wetenskaplike ondersoek uitvoer oor begrippe wat relevant vir ‘n probleem, behoefte of geleentheid is deur wetenskapprosesvaardighede te gebruik:1.3.1 beplan die ondersoek;

  • voer die ondersoek uit;

1.3.3 verwerk en interpreteer data;

1.3.4 evalueer en kommunikeer bevindinge;

Ontwerp

1.4 met bystand ‘n kort en duidelike stelling skryf of kommunikeer (ontwerpopdrag) met betrekking tot ‘n gegewe probleem, behoefte of geleentheid en ‘n mate van begrip vir die tegnologiese doel van die oplossing toon;

1.5 minstens twee alternatiewe oplossings vir die probleem, behoefte of geleentheid voorstel wat met die ontwerpopdrag en met gegewe spesifikasies en beperkings (bv. mense, doel, omgewing) skakel, en dit aanteken;

1.6 een van hierdie oplossings kies, redes gee vir die keuse en die idee verder ontwikkel;

Maak

1.7 die stappe beskryf in ‘n plan om iets te maak, insluitend tekeninge of sketse van hoofdele;

1.8 gepaste gereedskap en materiaal gebruik om produkte te maak deur die gekose materiaal af te meet, uit te merk, te sny of te skei, te vorm of te vervorm, aan mekaar te heg, te las of saam te voeg, en af te rond;

1.9 netjies en veilig werk met die minimum vermorsing van materiaal;

Evalueer

1.10 met bystand die produk evalueer volgens die ontwerpopdrag en gegewe spesifikasies en besperkings (bv. mense, doel, omgewing), en verbeteringe en wysigings voorstel, indien nodig;

1.11 die aksieplan wat gevolg is, evalueer en verbeteringe en wysigings voorstel, indien nodig;

Kommunikeer

  • tweedimensionele sketse maak met byskrifte en, indien gepas, kleur gebruik om dit doeltreffender te maak.

Memorandum

Opdrag 1

Leerders moet net kennis neem van spesifikasies.

Opdrag 2

Leerders se sketse sal verskil – let op detail en moeilikheidsgraad.

Opdrag 3

Gekose ontwerp vir bordspel binne vierkant van 5 cm by 5 cm sal verskil van leerder tot leerder – let op detail, interessantheid, moeilikheidsgraad en oorspronklikheid.

Opdrag 4

Antwoorde sal verskil – let op oorspronklikheid.

Opdrag 5

Antwoorde sal verskil – let op volledigheid, oorspronklikheid, kreatiwiteit, bondigheid, duidelike verduidelikings.

Opdrag 6

Leerders behoort elke keer met ‘n rede Ja te antwoord bv.

6. a) Ja, om ons kinders sinvol besig te hou tydens die vakansie, ens.

Get Jobilize Job Search Mobile App in your pocket Now!

Get it on Google Play Download on the App Store Now




Source:  OpenStax, Tegnologie graad 5. OpenStax CNX. Sep 23, 2009 Download for free at http://cnx.org/content/col10978/1.2
Google Play and the Google Play logo are trademarks of Google Inc.

Notification Switch

Would you like to follow the 'Tegnologie graad 5' conversation and receive update notifications?

Ask