<< Chapter < Page Chapter >> Page >
  1. Maak vrede met risiko’s

Suksesvolle entrepreneurs is bereid om risiko’s te loop. Dit beteken dat daar altyd ‘n kans is dat dit soms goed sal gaan met ‘n besigheid en dat jy soms moeilike tye sal beleef. Speel oop kaarte met die bank (of met die persoon wat die kapitaal verskaf het). Verduidelik waarom daar ‘n tekort aan kontantvloei is en waarom daar afgewyk is van die sakeplan. Aanvanklik kan jy dit dalk moeilik vind om rustig te gaan slaap terwyl jy weet dat jou besigheid moeilike tye beleef.

Met die tyd leer ‘n mens dat moeilike tye (risiko-belaaide tye) deel uitmaak van enige besigheid, groot of klein, en dat daar kreatiewe maniere bestaan om deur hierdie tye te kom. Die een goue les om te leer, is om die bank ten volle in te lig oor redes waarom jou besigheid swaar trek en om hulle in te lig oor jou planne om die probleem te oorkom. Hoe meer jy daarin slaag om hierdie tye met die bank as jou grootste vennoot deur te sien, hoe meer sal die bank jou vertrou. Later kan jy ‘n groter besigheid deur dieselfde bank finansier, want dit is juis deur die belewing van moeilike tye in jou besigheid dat daar ‘n besondere vertrouensverhouding tussen jou en die bank ontstaan.

5. Elke kliënt is ‘n spesiale kliënt

Dis moeilik om in woorde te beskryf hoe opgewonde ‘n mens word wanneer die eerste kliënt jou produk koop. Ons het hierdie kliënt baie spesiaal laat voel en kontak behou om te verneem of hy nog tevrede is met die produk en hoe ons hom kan ondersteun. Namate jou kliënte egter meer word, word dit al hoe moeiliker om almal gereeld ewe spesiaal te behandel. In hierdie verband wil ek aanbeveel dat enige entrepreneur die vaardigheid moet aanleer om treffende briewe te kan formuleer. Ondervinding het geleer dat kliënte positief geïnspireer word as hulle gereeld inligting deur middel van korrespondensie ontvang.

Luister altyd met noukeurige aandag na positiewe en negatiewe kritiek deur jou kliënte. Kliënte wil in die meeste gevalle sien dat jy bereidwillig is om na hulle behoeftes om te sien. In die meeste gevalle kan jy ongelukkige kliënte met goeie en eerlike kommunikasie tevrede stel. Leer ook van kleins af om negatiewe kritiek te verwerk.

6. Bestuur jou kontantvloei

Baie ondernemings toon oor die mediumtermyn (een jaar) ‘n potensiële wins, maar vind soms dat daar in sekere maande te min geld is om al die uitgawes te delg. Hier geld veral twee goue reëls: pas goeie debiteurekontrole toe, en betaal die groot uitgawes eers as genoeg kliënte hul rekenings betaal het. Miskien is die woord debiteurekontrole vir julle vreemd. Debiteure is mense wat aan julle geld verskuldig is. Hulle is veronderstel om op ‘n maandelikse basis ‘n faktuur (rekeningstaat) te ontvang. Debiteurekontrole beteken dat iemand in die onderneming moet toesien dat hulle wel hul rekenings betaal. ‘n Vriendelike telefoonoproep of briefie ter herinnering slaag in die meeste gevalle daarin om gelde wat agterstallig is in te vorder.

7. Skep stelsels wat werk

Jy sal gou agterkom dat suksesvolle besigheidsbestuur jou uitdaag om gereeld goeie besluite te neem. ‘n Mens het egter bestuursinformasie nodig om goeie besluite te neem. Informasie wat hier ter sprake is, is byvoorbeeld:

  • Hoeveel kliënte het ons onderneming?
  • Hoe lyk die geografiese verspreiding van ons kliënte, met ander woorde, hoeveel van hulle is naby ons onderneming, en hoeveel kom van ver?
  • Watter uitgawes het ons hierdie maand gehad?
  • Hoeveel geld het ons nodig om al ons uitgawes te betaal sodat ons nog kapitaal in reserwe ook kan hou?
  • Watter maande moet ons BTW betaal, en indien al ons debiteure hulle rekenings vereffen en ons al ons uitgawes delg, hoeveel BTW moet ons aan die Ontvanger van Inkomste oorbetaal? (In graad 8 gaan ons aandag skenk aan BTW- berekenings).
  • Groei my onderneming nog?
  • s daar enige ontevrede kliënte?

Assessering

LU 3
BESTUURS-, VERBRUIKERS- EN FINANSI Ë LE KENNIS EN VAARDIGHEDE Die leerder is in staat om kennis en die vermoë te toon om verskeie bestuurs-, verbruikers- en finansiële vaardighede toe te pas.
Dit is duidelik wanneer die leerder die volgende doen:
3.1 verduidelik die rol van beplanning, organisering leierskap en beheer (bv. finansiële en prosedurele kontrole) in ‘n sakeonderneming;
3.2 verskillende benaderings tot leierskap en bestuur bespreek;
3.3 beskryf die belangrikheid van administrasie in die bestuur van ‘n sakeonderneming (rekordhouding, die bewaar van dokumentasie);
3.5 stel ‘n elementêre staat van netto-waarde op deur persoonlike rekords te gebruik.

Memorandum

Kernbeginsel van suksesvolle besighede

  • Die doel is om die leerder te voorsien van genoegsame kennis ten einde die kernbeginsels van suksesvolle besighede beter te begryp. U sou opmerk dat daar geen opdrag is om hierdie kennis te assesseer nie. Gevolglik word daar voorgestel dat die opvoeder ‘n leergesprek met die leerders moet voer waartydens bepaalde vrae aan hulle gestel word.

Get Jobilize Job Search Mobile App in your pocket Now!

Get it on Google Play Download on the App Store Now




Source:  OpenStax, Ekonomiese en bestuurswetenskappe graad 7. OpenStax CNX. Sep 09, 2009 Download for free at http://cnx.org/content/col11024/1.1
Google Play and the Google Play logo are trademarks of Google Inc.

Notification Switch

Would you like to follow the 'Ekonomiese en bestuurswetenskappe graad 7' conversation and receive update notifications?

Ask