<< Chapter < Page Chapter >> Page >

AFRIKAANS EERSTE ADDISIONELE TAAL

Graad 4

SKOOLPRET

Module 37

GEDIGTE

Aktiwiteit 1

Om gedigte te lees en vrae daaroor te beantwoord [LU 3.3.5]

('n stilleesaktiwiteit)

Lees die volgende gedigte en beantwoord die vragies deur die korrekte antwoord te omkring. Doen dit eers op jul eie en vergelyk dan julle antwoorde in jul groepe.

DIE SKOOL

My Juffrou

My juffrou is die mooiste mens

Wat op die aarde woon.

Haar hare is so mooi gekam;

Haar naels is altyd skoon.

Haar stem is sag en vriend'lik

Behalwe as ons raas;

Dan sit sy stouterds op hul plek

En wys hul wie is baas.

Ons het ons juffrou baie lief -

Daar's niks wat sy nie weet.

En nooit sal sy die antwoord

Van twee maal twee vergeet.

Juffrou Smal

Ek is lief vir juffrou Smal

Want al maak die seuns haar mal

Is sy lief vir elke kind

Elke ouer is haar vrind.

Juffrou Smit

Juffrou Smit is baie kwaai;

Sy wil Piet se nek omdraai.

Dit is snaaks maar tog ook waar,

Ons is baie lief vir haar.

Ons Skool

Skool is amper soos 'n huis;

Hier is baie kinders tuis.

En die hoof is hier ons pa

En my juffrou is my ma.

As ek stout is in die klas

Moet ek oppas vir my bas.

As ek aandag gee en mooi leer

Stuur hul my hopelik na graad vier.

Ons meneer het 'n kantoor -

Almal is so bang daarvoor.

Hy het glo streepsuikerkoek

Vir die stouterds wat so vloek.

Ons Klaskamer

Alles netjies weggepak;

Elke boekie op sy rak.

Nêrens lê papiere rond

Of dalk boeke op die grond.

Elke ding het hier sy plek;

Ook nie hoog dat ons moet rek.

Hoë goed is juffrou s'n –

Laag gaan al ons goedjies in.

As ons goed laat rondlê –

Boeke of 'n bal,

Kan 'n mens so maklik

Oor die dinge val.

(a) Wie se naels is altyd skoon?

  • die kinders
  • Juffrou
  • Meneer

(b) Juffrou is slim, want sy ken haar

  • tafels
  • skoolkinders
  • maniere.

(c) Die boeke is netjies weggepak

  • op die kas
  • op die tafel
  • op die rak.

(d) Die skoolhoof het streepsuikerkoek vir kinders wat

  • lief is vir eet
  • stout is
  • soet is.

(e) Juffrou raas met die kinders om

  • hulle mooi te laat werk
  • haar stem te oefen
  • stouterds op hul plek te sit.

(f) Juffrou Smit is

  • kwaai
  • gaaf
  • onvriendelik.

(g) Wat mag nie op die grond lê nie?

  • boeke en tasse
  • balle en tasse
  • balle en boeke

(h) Die kinders voel die skool is soos ‘n

  • kantoor
  • huis
  • speelplek.

(i) Die gr. 3’s gaan gr. 4 toe as hulle

  • leer en aandag gee
  • soet is
  • al hul boeke gelees het.

(j) Die ouers hou baie van

  • die skoolhoof
  • Juffrou Smal
  • Juffrou Smit.

Aktiwiteit 2

Om deur rolspel vrae te vra en taal speel-speel te leer [LU 2.1.1]

Kom ons soek ('n mondelinge en skriftelike aktiwiteit)

Hierdie speletjie kan deur die hele klas gespeel word.

Een leerder staan voor in die klas en dink aan 'n plek waar hy/sy kamma-kamma 'n bal versteek het. Die leerder mag nie vir die ander vertel of wys nie. Die klas moet nou raai waar die bal is deur vrae te vra soos:

Is die bal op die kas? Is dit onder die bank? Is dit langs die boekrak?

Herken julle hierdie prentjie? Dit is 'n baie netjiese klas en alles is op die regte plek. Hierdie klas is die netjiesste klas in die skool.

Aktiwiteit 3

Om van voorsetsels te leer [LU 6.2.10]

Lees die volgende sinne en vul die ontbrekende woorde in. Maak gebruik van die woorde in die raampie.

(i) Die aardbol is ........................... die boekrak.

(ii) Die mat lê .......................die tafel .................die vloer.

(iii) Daar is 'n tafeldoek ............................... die tafel.

(iv) Die onderwyseres staan ............................... die tafel.

(v) Die boekrak staan .............................. die muur.

(vi) Die banke staan ...................................... mekaar.

(vii) Die opvoeder skryf met die kryt wat ..........................

haar hand is .........................die bord.

(viii) Die leerders luister ................................ haar en hou baie

................................. haar.

langs, na, bo-op, oor, van, op, teen, in, onder, agter, na

Assessering

Leeruitkoms 2: praat

Die leerder is in staat om vrymoedig en doeltreffend in gesproke taal binne ‘n wye verskeidenheid situasies te kommunikeer.

Assesseringstandaard

Dis duidelik wanneer die leerder:

2.1 interaksie in sy/haar addisionele taal voer:

2.1.1 eenvoudige vrae vra (soos vrae om duidelikheid te verkry).

Leeruitkoms 3: lees en kyk

Die leerder is in staat om vir inligting en genot te lees en te kyk en krities op die estetiese, kulturele en emosionele waardes in tekste te reageer.

Assesseringstandaard

Dis duidelik wanneer die leerder:

  • lees vir inligting:

3.3.5 met ondersteuning ‘n opsomming van ‘n paragraaf maak (vul byvoorbeeld ontbrekende woorde in ‘n paragraaf in).

LEERUITKOMS 6: TAALSTRUKTUUR EN –GEBRUIK

Die leerder ken en is in staat om die klanke, woordeskat en grammatika van die taal te gebruik om tekste te skep en te interpreteer.

Assesseringstandaard

Dis duidelik wanneer die leerder:

6.2 verskillende eenvoudige taalvorme en sinstrukture gebruik om mondelings en skriftelik te kommunikeer:

6.2.10 alledaagse voorsetsels, byvoorbeeld om plek aan te dui (soos: in, onder, bo, langs).

Memorandum

Aktiwiteit 1

(a) juffrou

(b) tafels

(c) op die rak

(d) stout is

(e) stouterds op hul plek te sit

(f) kwaai

(g) balle en boeke

(h) huis

(i) leer en aandag gee

  • Juffrou Smal

Aktiwiteit 3

  1. bo-op
  2. onder; op
  3. oor
  4. agter
  5. teen
  6. langs
  7. in
  8. op
  9. na
  10. van

Get Jobilize Job Search Mobile App in your pocket Now!

Get it on Google Play Download on the App Store Now




Source:  OpenStax, Afrikaans eerste addisionele taal graad 4. OpenStax CNX. Oct 21, 2009 Download for free at http://cnx.org/content/col11082/1.2
Google Play and the Google Play logo are trademarks of Google Inc.

Notification Switch

Would you like to follow the 'Afrikaans eerste addisionele taal graad 4' conversation and receive update notifications?

Ask