<< Chapter < Page Chapter >> Page >

Afrikaans huistaal

Graad 7

Module 9

Loeloeraai

Inleiding

Dit was 'n geskiedkundige dag toe Mark Shuttleworth op 25 April 2002 op 'n reis van 10 dae na die Internasionale Ruimtestasie (IRS) wat 400 km bokant die aarde wentel, vertrek het.

Hy was die eerste Afrikaan om so 'n reis te onderneem. Of was hy ...?

In hierdie module gaan ons 'n reis deur die Afrikaanse letterkunde onderneem om te bepaal wat reeds ten opsigte van wetenskapfiksie geskryf is. Terselfdertyd gaan ons ook probeer vasstel wie inderdaad die eerste Afrikaan was om 'n ruimtereis te onderneem!

Wie was loeloeraai?

C.J. Langenhoven was die eerste skrywer van ruimte-eeuse wetenskapfiksie in Afrikaans. Sy verhaal, Loeloeraai, wat in 1923 verskyn het, het die kinders van daardie dae gaande gehad met die gedagte dat 'n besoeker uit die buitenste ruim in 'n ruimteskip op Oudtshoorn kon land.

Dit is die verhaal van Loeloeraai, die man van Venus, wat met 'n ruimteskip by Arbeidsgenot , die woning van die Langenhovens, land en 'n tyd lank by Kerneels, Vroutjie en Engela tuisgaan. Hy is vriendelik en flink van begrip en Engela leer hom Afrikaans praat.

Na 'n tydjie hoor die plaaslike landdros van die vreemde besoeker sonder toegangspermit of paspoort, en Loeloeraai besluit om maar eerder die aarde te verlaat. Hy neem egter eers die familie op 'n reis na die maan.

Ons sluit nou by die familie aan waar hulle die ruimtetuig betree . . .

Takhaar-opleiding

Met 'n trapleertjie het ons ingeklim. Binne was 'n ronde vertrek, met 'n vloer en 'n plafon waaragter die bergplek was van toestelle en voorrade. In die rondte om was sofas teen die muur, en in die middel deur die kompartement 'n gordyn sodat die vroumense hulle by slapenstyd kon afsonder.

"Sit, vriende," sê Loeloeraai. "En gespe tog die rieme wat teen die muur hang om julle lyf vas."

Ek en oom Stoffel kyk vir mekaar. Loeloeraai sien die vraag in ons blik. "Dit help nie om nou kleingelowig te word nie," sê hy. "Julle sal die rede vir die spantoue aanstons ontdek."

Toe draai hy die ronde skyf vas, en hy slaan die lig aan.

"Ons sal vensters hê om deur te kyk," sê hy, "so gou as ons onder die lug uit is. Anders slaan hulle aan van die waterdamp. Is julle klaar? Nou!"

En hy druk op 'n knoppie.

Toe Loeloeraai op die knoppie druk, voel ons meteens dat ons opgelig word; en omdat die snelheid aanvanklik gering was en al meer en meer toeneem, het die gevoel van drukking van onder af gebly. Maar ná 'n paar minute, toe die maksimum snelheid behaal was en ons vaart dus eengalig aanhou, was dit dadelik of ons rus onder ons wegraak. Toe ons sien, hang ons almal los in ons spantoue.

"O magtig, Kerneels," sê ou Stoffel, "ons val! Die ding raak onder ons uit. Hy begin te makeer. Ons sweef almal los nes erte in 'n geskudde blaas."

"Nee, Stoffel," sê Loeloeraai, "ons styg nou op ons vinnigste. Maar die swaartekrag is afgesny: al wat binne die sfeer is, is absoluut sonder gewig - anders kon ons nie van die aarde weggekom het nie. Strek uit jou arm, Stoffel. So. Nou voel jy - jy hoef hom nie reguit te hou nie, hy bly self so. Daarom het ek ons in die spantoue laat gespe. Hierbinne is ons net soos ontliggaamde geeste. Wil julle sien? Kerneels, maak vir Engela tog los en gee haar 'n effentjiese stootjie."

Get Jobilize Job Search Mobile App in your pocket Now!

Get it on Google Play Download on the App Store Now




Source:  OpenStax, Afrikaans huistaal graad 7. OpenStax CNX. Sep 09, 2009 Download for free at http://cnx.org/content/col11016/1.1
Google Play and the Google Play logo are trademarks of Google Inc.

Notification Switch

Would you like to follow the 'Afrikaans huistaal graad 7' conversation and receive update notifications?

Ask