<< Chapter < Page Chapter >> Page >

LU 3.4

In die vorige module is die aa, ee en oo klanke aangeleer. In hierdie module hersien ons bogenoemde klanke en leer ook die uu en oe klanke aan. Agterin hierdie module is weer klankekaartjies wat die leerders kan uitknip om woorde mee te bou. Laat hulle hierdie kaartjies gereeld uithaal en daarmee woorde bou. (Dit is verkieslik dat die kaartjies op karton gekopieer word.)

LU 6.1

Leer die volgende woorde vir die leerders aan: sport, visvang, rugby, krieket, netbal, hokkie, sokker. Onthou om hierdie, asook woorde uit vorige modules, gereeld vir die leerders te flits.

LU 3.4

Laat die leerders die storie op die volgende bladsy eers in groepe, en daarna individueel lees en die prentjie teken.

Laat leerders nou ‘n klasstorie in groepe skryf. Verdeel die klas in groepe en gee aan elke groep ‘n skoon papier en een van die prentjies op p 16. (Prente kan vergroot word soos nodig.) Daar moet genoeg groepe wees sodat elkeen ‘n prentjie kan kry. Groot klasse kan twee stories skryf. Elke groep moet nou vier sinne skryf wat by die prent pas. Op die ou end word die bladsy saamgebind as ‘n storie. Die onderwyser beweeg tussen die groepe en help met die spel van woorde waar nodig. Gee vir elke leerder ‘n takie, byvoorbeeld knip en plak die prentjie, kleur dit in, doen die skryfwerk, soek woorde in die woordeboekie, kontroleer, ens. Elke leerder in die groep moet op die ou end sy groep se storie lees om seker te maak dat hy / sy tevrede is en om te verseker dat daar so min as moontlik foute is.

Leerders afdeling

Inhoud

Willie se vangs

“Jy het ‘n vis gevang, jy het ‘n vis gevang”, skree Makkie opgewonde en val sommer van Willie se skouer af, so opgewonde is hy. “Trek hom uit! Trek die vis uit!”

Enige visserman sal vir jou vertel dat mens soms nogal spook en spartel om die vis uit die water te trek. Willie se voorkop is op ‘n plooi getrek van die konsentrasie! Hierdie is ‘n groot vis, hy kan dit sommer voel! Dis baie swaar en dit gaan nie maklik wees om hom uit die water te trek nie! Hy sal moet stewig staan, anders gaan hierdie vis hóm vang en dan beland hulle dalk albei in die water!

Willie trek en trek. Makkie en Vollie juig! Almal is baie opgewonde! Hulle moedig vir Willie aan. Vollie het nou skoon vergeet dat hy eintlik op soek was na sy eie aandete. Vlakvarke eet mos nie vis nie en hy sal nie kan saameet aan hierdie lekker vis nie.

Willie sukkel. Hy sit later plat op die grond en Vollie en Makkie sit agter hom en help hom. Makkie is eintlik te klein om regtig te help, maar hy is so opgewonde dat hy enigiets sal doen om hierdie vis van Willie uit te trek.

Skielik val al drie plat op hulle rug! “Die vis, waar is die vis?”, skree Makkie. Vollie en Willie staan verslae en kyk na die hoek van sy visstok. Daar is nie ‘n vis nie! Daar is ‘n groot stuk plant aan sy hoek! Willie het sy stok te ver ingegooi. Sy hoek het aan ‘n plant aan die oorkant vasgehaak sonder dat hulle dit gesien het! Dit was nooit ‘n vis wat gebyt het nie. Dit was maar sommer die plant wat die vislyn laat styftrek het! Ai, en hy was so opgewonde oor sy vis!

Skielik raak Vollie opgewonde. “Dis ‘n plant met ‘n baie lekker knol! Kan ek dit maar kry, Willie? Ek wil dit vir my aandete hê!” Skielik begin almal lag! Willie het sowaar ‘n plant gevang vir Vollie se aandete! Hy kon nou wel nie sy eie aandete vang nie, maar ten minste kon hy vir Vollie help! Saam stap hulle terug huis toe. “Volgende keer gaan jy ‘n regte vis vang,” troos Vollie. “Vir jou aandete!” Almal lag weer. “Ja, volgende keer”, sê Willie.

  • Kyk of jy beter as Willie kan visvang! Omkring die woorde wat jy kan lees.

LU 6.1
  • Kies die regte klankie om die woord te bou.
LU 1.6
LU 4.4
  • Lees die storie en teken die prentjie.

Willie wil gaan krieket speel. Sy pappa het sy kolf vir hom gemaak. Dit is ‘n baie mooi kolf. Willie hou baie daarvan. Makkie, Vollie, Kassie en Bienkie gaan ook saam. Hulle speel langs die rivier. Bienkie gooi die bal. Willie slaan eerste. Hy slaan die bal hard. Hy slaan die bal in die rivier. Almal soek en soek. Makkie kry die bal. Dit was langs ‘n groot klip. Nou is almal bly. Hulle kan weer speel.

LU 3.4
LU 4.1
  • Kies die regte woord om die blokkiesraaisel te voltooi.
krieket netbal rugby hokkie
atletiek tennis sokker

1. In hierdie sport moet jy probeer om ‘n drie te druk.

2. Hierdie sport word slegs deur meisies en vroue gespeel.

3. Jy kan nie hierdie sport sonder ‘n raket speel nie,

4. As jy hierdie sport wil speel, moet jy ‘n groot ronde bal skop.

5. Aan watter sportsoort neem Shaun Pollock deel?

6. As jy hieraan wil deelneem, moet jy vinnig hardloop!

LU 5.3

Assessering

Leeruitkomste 3: LEES EN KYK : Die leerder is in staat om vir inligting en genot te lees en te kyk en krities op die estetiese, kulturele en emosionele waardes in tekste te reageer.

Assesseringstandaard 3.4: Dit is duidelik wanneer die leerder letters en woorde herken en betekenis uit geskrewe teks skep.

Leeruitkomste 4: LEES EN KYK : Die leerder is in staat om verskillende soorte feitelike en verbeeldingstekste vir ‘n wye verskeidenheid doeleindes te skryf.

Assesseringstandaard 4.1: Dit is duidelik wanneer die leerder toenemend leesbaar skryf.

Assesseringstandaard 4.4: Dit is duidelik wanneer die leerder ‘n konsepweergawe van ‘n skryfstuk skryf en dit hersien.

Leeruitkomste 5: DINK EN REDENEER : Die leerder is in staat om taal vir dink en redeneer te gebruik en inligting vir leer te verkry, verwerk en gebruik.

Assesseringstandaard 5.3: Dit is duidelik wanneer die leerder taal gebruik om te ondersoek.

Leeruitkomste 6: TAALSTRUKTUUR EN –GEBRUIK : Die leerder ken en is in staat om die klanke, woordeskat en grammatika van die taal te gebruik om tekste te skep en te interpreteer.

Assesseringstandaard 6.1: Dit is duidelik wanneer die leerder klanke in verband bring met letters en woorde.

Get Jobilize Job Search Mobile App in your pocket Now!

Get it on Google Play Download on the App Store Now




Source:  OpenStax, Afrikaans huistaal graad 1. OpenStax CNX. Sep 08, 2009 Download for free at http://cnx.org/content/col11010/1.1
Google Play and the Google Play logo are trademarks of Google Inc.

Notification Switch

Would you like to follow the 'Afrikaans huistaal graad 1' conversation and receive update notifications?

Ask