<< Chapter < Page Chapter >> Page >

Afrikaans huistaal

Graad 8

Module 5

Luister vir spesifieke inligting en kerngedagtes

AKTIWITEIT 1

Om vir spesifieke inligting en kerngedagtes te luister

  • Luister terwyl die onderwyser die onderstaande stuk hardop lees.

Teks A

Studente omtower papierpulp tot kunstige meubels ( aangepas uit “Die Burger”)

Die Ruth Prowse Kollege vir Kuns en Ontwerp in Woodstock span her­wonne papier in om sy deel te doen teen die toenemende werkloosheids­probleem wat groot kommer in die land se stedelike en plattelandse ge­biede wek.

Vir minstens 25 studente van die Kaapse Vlakte, en selfs so ver as Montagu, wat ’n paar jaar gelede nog werkloos en moedeloos was, het die woord “bemagtiging” ’n werk­likheid geword toe hulle by dié kollege se deure ingestap het. Geen eise behalwe ’n gewilligheid om hard te werk en ’n visie om bo hul omstandighede uit te styg, is aan die studente, wie se ouderdom van 16 tot 60 wissel, gestel nie.

Potte van papier

Die projek, genaamd Appropriate Paper Technology, behels die maak van voorwerpe soos stoele, potte en krale met papiermaché. Enige soort papier, van koerant tot karton, word verpulp, gevorm en dan geverf. Dit is maklik verwerkbaar en is volgens die skool se direkteur, Edwine Simon, van dieselfde gehalte as soortgelyke voorwerpe wat volgens konvensionele metodes gemaak word. Dit is selfs reënbestand. Die helder kleure van die voorwerpe, met tipies Afrika- en Suid-Afrikaans geïnspireerde patrone, dra daartoe by om hierdie produkte in kuns­werke te omtower. Dit neem sowat 180 uur om so ’n stoel te maak.

Die produkte gaan moontlik aanstaande jaar op ’n veiling verkoop word om ’n prys te bepaal, het Simon gesê. Volgens haar het die studente, wat bo verwagting goed gepresteer het in die kursus, self besluit hoe die eindproduk moet lyk.

Ten toon gestel

Die werke word tans ten toon gestel en kan deur die publiek by die kollege in Birkdalestraat, Woodstock, besigtig word.

Dié interkulturele projek is deur Simon en ’n dosent by die kollege, me. Simoné de Villiers, geïnisieer as ’n uitreikaksie na minder bevoorregte gemeenskappe. Die program strek oor ’n jaar en word deur die Kaapse Stadsraad gefinansier. Studente is in Julie verlede jaar betrek. Van hulle is reeds so bedrewe dat hulle na hulle gemeenskap kan teruggaan en hulle nuwe vaardighede daar oordra.

Die sukses van hierdie besonderse projek het daartoe gelei dat grafiese ontwerp-studente in hulle eerste jaar by die Kollege ook die kursus oor ses maande volg.

  • Beantwoord die volgende vrae elke keer in ’n netjiese volsin. Gebruik asb. sover moontlik jou eie woorde.

1. Op watter twee maniere help die papier-kunsprojek van die Ruth Prowse Kollege die mense én die omgewing?

2. Hoe word studente deur hierdie projek “bemagtig”?

3. Waarom word die stoele as “kunswerke” beskryf?

4. Wat moet die uiteenlopende groep studente uiteindelik met die kennis maak wat hulle in die kursus opgedoen het?

5. Watter gevolg het die sukses van hierdie projek vir ander studente aan die Kollege?

LU 1.2

Aktiwiteit 2

Om die impak van spesifieke woorde, frases en sinne te verduidelik en taalvariëteite te herken en te aanvaar

Get Jobilize Job Search Mobile App in your pocket Now!

Get it on Google Play Download on the App Store Now




Source:  OpenStax, Afrikaans huistaal graad 8. OpenStax CNX. Sep 11, 2009 Download for free at http://cnx.org/content/col11037/1.1
Google Play and the Google Play logo are trademarks of Google Inc.

Notification Switch

Would you like to follow the 'Afrikaans huistaal graad 8' conversation and receive update notifications?

Ask