<< Chapter < Page Chapter >> Page >

Afrikaans huistaal

Graad 7

Module 11

Mark shuttleworth

Mark shuttleworth - die man in die wolke

Op 25 April 2002 is 'n vuurpyl vanaf Baikonoer gelanseer en minder as agt minute later het dit die aarde se atmosfeer verlaat. Sover as wat die oog kon sien, was die ganse woestyn bedek met vroeë lenteblommetjies – ‘n veelkleurige tapyt wat gestrek het tot op die horison. Die enkele wit rookpluim wat deur die vuurpyl agtergelaat is, en bokant die blommeplaat uitgestyg het, kon vir kilometers ver gesien word. Binne in die klein en beknopte kapsule wat deel van die vuurpyl uitmaak, was 'n span van drie ruimtereisigers, die Rus en ook die vlugkaptein, Juri Gidzenko, Roberto Vittori, die Italiaanse vlugingenieur, en Mark Shuttleworth, die Suid-Afrikaanse internet-miljoenêr. Die posisie wat hy tydens die vlug beklee het, was dié van tweede vlugingenieur. Die hoof verskil tussen hom en sy twee mede-ruimtemanne was dat hy R208 miljoen uit sy eie sak betaal het vir die voorreg om die ruimtereis te kon meemaak. Mark Shuttleworth was nie net 'n ruimtetoeris nie; trouens, hy het 'n sleutelstap verder gegaan: hy het homself maande voor die tyd aan 'n streng en byna moordende ruimte-opleidingsprogram onderwerp.

Opdrag 1:

Om as ‘n groep te dink en te redeneer

[lu 5.1.4]

  1. Groepbespreking
  1. Oor watter persoonlikheidseienskappe moet 'n ruimtevaarder beskik?
  2. Hoekom?
  3. Sal jy met jou persoonlikheidseienskappe 'n ruimtevaarder kan word?

Baikonoer : poort na die sterre

Toe die eerste werkspanne in 1955 begin het met die konstruksie van wat vandag bekend staan as Baikonoer, die dorp vanwaar die Russe hul ruimtetuie lanseer, het hulle nie geweet wat hulle bou nie. Aanvanklik het dit bloot bekend gestaan as Terrein 10. Die posadres was Moskou-400, maar die werkers was in die woestyn van Kazachstan, 2 300 km suidoos van die hoofstad.

Op die vlaktes rondom Terrein 10 het die ander "terreine" een vir een vorm aangeneem. Terrein 9 was 'n sementfabriek en Terrein 15 was 'n aanloopbaan vir vliegtuie. Die Sowjet-elite is by Terrein 17 in luukse akkommodasie gehuisves. Terrein 3 was 'n vuurpylbrandstoffabriek. En toe, in 1956, Terrein 10.

Om mee te begin, is 'n enorme trog in die grond gegrawe, blykbaar die grootste mensgemaakte gat in die wêreld. Rondom die gat is vier reuse-pilare opgerig met 'n dik betonblad bo-op. Dit sou dien as die lanseerblad waarvandaan Spoetnik in 1957, en Joeri Gagarin in 1961 gelanseer is.

Na Gagarin se historiese vlug moes die Sowjet-Unie die naam van die lanseerterrein aan die Internasionale Lugvaartfederasie bekend maak sodat dit amptelik as vlugrekord erken kon word. Die politieke base van die Sowjet-Unie wou aanvanklik die ligging van Terrein 10 geheim hou, en het die naam van die naaste dorp ingedien - Baikonoer, 'n myndorpie 300 km verder.

Vir bykans veertig jaar was Baikonoer sinoniem met die Russiese ruimteprogram. Ten spyte van die feit dat die dorp die afgelope klompie jare erg verval het, is dit nog steeds die episentrum van die Russiese bemande ruimteprogram.

By die ingangshek is 'n sekuriteitshuisie met die woorde "Poort na die sterre" teen die muur. In die dorre woestynlandskap anderkant die heining is daar 15 lanseerterreine, monteeraanlegte, antennevelde, aanloopbane, beheersentrums, lanseerblaaie en spoorlyne.

Get Jobilize Job Search Mobile App in your pocket Now!

Get it on Google Play Download on the App Store Now




Source:  OpenStax, Afrikaans huistaal graad 7. OpenStax CNX. Sep 09, 2009 Download for free at http://cnx.org/content/col11016/1.1
Google Play and the Google Play logo are trademarks of Google Inc.

Notification Switch

Would you like to follow the 'Afrikaans huistaal graad 7' conversation and receive update notifications?

Ask