<< Chapter < Page Chapter >> Page >

'n Wenner aanvaar verantwoordelikheid

Ek ken ma's wat doodmoeg is na eksamens en pa's wat nagte omsit voor die rekenaar om Seunie of Sussie se projek die heel beste en mooiste in die klas te maak. Ken julle ook sulke mense?

Dis lekker as iemand jou werk vir jou doen. En baie lekker as iemand jou altyd beskerm as jy in die moeilikheid kom. Maar hoe gaan iemand wat so oorbeskerm word eendag op eie voete staan en verantwoordelikheid vir sy of haar eie werk aanvaar? Mense wat nooit op hul eie voete leer staan nie, word maklik onseker, indien hulle met enige nuwe dinge gekonfronteer word.

Natuurlik is almal op ondersteuning geregtig. Indien jy ongelukkig is, is jy geregtig op die steun van die mense wat vir jou omgee. Hulle moet net nie namens jou al jou bagasie dra nie - want dan leer jy nooit om jou foute te erken en reg te maak nie. Dis soms vir ouers moeilik om te weet wanneer jy reg is om sekere verantwoordelikhede te aanvaar.

Elke mens het sekere verantwoordelikhede. Op 3 jaar mag dit dalk wees om te onthou om "asseblief" en "dankie" te sê en op 13 mag dit wees om jou sakgeld verantwoordelik te spandeer.

Vrae

Antwoord die volgende vrae en bespreek die antwoorde daarna in die klas.

Onthou, julle mag verskil! Julle omstandighede is verskillend, julle persoonlikhede verskil, julle ouers verskil...

Hoe oud moet jy wees om verantwoordelikheid te kan aanvaar vir die volgende?

1. jou eie persoonlike higiëne

2. die aan-die kant maak van jou kamer

3. jou daaglikse huiswerk en studietyd

4. die uitslae van jou toetse en eksamens

5. jou gedrag op 'n partytjie

6. leuens wat jy vertel

7. seksuele aktiwiteite

8. die besteding van jou sakgeld

9. 'n deeltydse werk

10. inligting deurgee van en na die skool

Bespreking

1. Het die antwoorde van die verskillende leerders baie verskil? Sê ja of nee en gee redes.

2. Waar het die grootste ooreenkomste en verskille gelê? (Waaroor het die meeste van julle saamgestem en waaroor het julle erg verskil?)

3. Wat, dink jy, is die rede vir die verskillende antwoorde wat julle gegee het?

4. Dink jy dat jy meer of minder verantwoordelikheid dra as jou klasmaats? Gee redes vir jou antwoord.

[LU 3.1]

3 'n Wenner het 'n positiewe selfbeeld

'n Mens se selfbeeld (hoe jy jouself sien en hoe jy dink ander mense jou sien) bepaal in baie gevalle jou sukses of mislukkings.

Jou selfbeeld is soms gekoppel aan bepaalde omstandighede, soos bv. die sportveld, die akademie, jou sosiale lewe. Dit kan wees dat Boel 'n uitstekende sportman is, maar dat hy sukkel met die akademie. Boel gaan dus positief ingestel wees teenoor sport, terwyl hy nie so positief gaan voel oor die akademie nie.

Jou selfbeeld bepaal hoe hard jy gaan probeer en hoe jy sukses en mislukking gaan hanteer. Gaan gerus terug na die bladsy wat handel oor "Jy word wat jy dink..." en neem weer kennis van die belangrikheid van positiewe selfspraak. Ons het reeds aan die begin van die module gekyk watter faktore selfbeeld beïnvloed: familie, vriende, skool, jou omgewing, ens.

Dis belangrik dat 'n mens weet wat jou sterkpunte en wat jou swakpunte is. Stel realistiese mikpunte en werk om die mikpunte te bereik. Daar is 'n gesegde: "Nothing succeeds like success." Bou sukses in jou lewe in om jou te motiveer.

Eie werk!

(Jy hoef dit nie te deel as jy nie wil nie)

1. My beste eienskap is _________________________

2. My swakste eienskap is ___________________________

3. Wat kan ek doen om aan hierdie swak area aandag te gee?

Ek kan ______________________

4 'n Wenner kan ook verloor

Ons samelewing is hoogs kompeterend, of 'n mens nou daarvan hou of nie. Daarom is dit ook nodig om 'n verloorsituasie te leer hanteer. Verloor is nie die einde van die wêreld nie. Raak gewoond daaraan dat daar altyd iemand wat slimmer, sterker, vinniger, mooier of gawer as jy is iewers sal uitdop.

Die positiewe kant van kompetisie is dat dit jou kan motiveer om jou beste te lewer. Die negatiewe is dat jy so daarop ingestel kan wees om te wen, dat die aktiwiteit die bysaak word en jy dit nie meer geniet nie.

Voorbeeld: Om 'n instrument te kan bespeel, is wonderlik. As 'n mens musiek neem, moet 'n mens natuurlik oefen. Daar is egter min van ons wat so saamgestel is dat ons soos konsertpianiste kan oefen, ure op 'n dag, en dit kan geniet. Dieselfde met sport. As jy tennis speel, sal jy nie altyd wen nie - al oefen jy ook hoe hard. 'n Mens moet realisties wees. As jy jou bes doen en dit geniet - dan is jy mos 'n wenner!

Twee blitsbesprekings!

Voltooi die tabel nadat julle saam gesels het oor hoe goeie en swak verloorders hulle gedra.

Goeie verloorders Swak verloorders
  • Is jy 'n goeie of 'n swak verloorder?[LU 3.2]

Assessering

Leeruitkomstes(LUs)
LU 3
PERSOONLIKE ONTWIKKELINGDie leerder is in staat om verworwe lewensvaardighede te gebruik om persoonlike potensiaal te verwesenlik en uit te brei ten einde doeltreffend op uitdagings in sy of haar wêreld te reageer.
Assesseringstandaarde(ASe)
Dit is duidelik wanneer die leerder:
  • faktore wat selfbeeldvorming en selfmotivering beïnvloed, ontleed en bespreek;
3.2 besin oor gepaste gedrag in verskillende soorte interpersoonlike verhoudings.

Get Jobilize Job Search Mobile App in your pocket Now!

Get it on Google Play Download on the App Store Now




Source:  OpenStax, Lewensorientering graad 8. OpenStax CNX. Sep 12, 2009 Download for free at http://cnx.org/content/col11047/1.1
Google Play and the Google Play logo are trademarks of Google Inc.

Notification Switch

Would you like to follow the 'Lewensorientering graad 8' conversation and receive update notifications?

Ask