<< Chapter < Page Chapter >> Page >

BRON

VAN VLOERE SKROP TOT RESTAURANTEIENAAR

Nellie Brand

Me. Jessica July is die enigste swart eienaar van ‘n Juicy Lucy -winkel in die Wes-Kaap.

Verlede jaar, toe sy die winkel oorgeneem het, was sy die enigste swart eienaar in die land van ‘n Juicy Lucy -winkel. Dié sakevrou wat nog verlede jaar gesukkel het om ‘n banklening te kry om haar Juicy Lucy -winkel, in die Kenilworth-winkelsentrum te koop, wil binnekort nog twee van die winkels koop.

July, wat in Guguletu gebore is, word as ‘n teksboekgeval beskou van iemand wat met niks begin het nie en nou ‘n klein onderneming besit wat winsgewend is.

July is vandeesmaand as die entrepreneur van die maand deur Business Partners , ‘n instansie wat in entrepreneurs belê; aangewys. Die organisasie het haar gehelp om finansiering te kry toe sy nie by banke kon regkom nie.

July, wat 27 jaar gelede as ‘n “kombuishulp” by Juicy Lucy begin werk het, het in 2001 die geleentheid gekry om die Kenilworth-winkel van haar voormalige werkgewers te koop. Sy het 10 jaar daar gewerk en selfs die winkel bestuur.

Sy sê die Here het Colleen en Jeremy Chennells, wat wou hê sy moet die winkel by hulle koop, na haar gestuur. “Met hulle het die ligte begin groen raak,” vertel sy.

Sy het toe reeds aandele in die onderneming gehad. Haar grootste probleem was egter om finansiering te kry om die onderneming te koop.

Sy meen ook sy is ‘n toonbeeld van wat mense uit voorheen benadeelde gemeenskappe kan bereik as hulle wil. Sy kon destyds ná sy matriek geslaag het nie ander werk kry nie. Sy sê mense moet besef dit hang van hulself af wat hulle in die lewe wil bereik.

Nadat sy as ma van twee op 22 jaar by die eerste konsessiehouer van Juicy Lucy in Kaapstad begin werk het, het sy van vloere skrop en skottelgoed was binne ‘n paar jaar gevorder tot assistent-bestuurder en is toe na bestuurder bevorder.

Dit was ook haar taak om nuwe Juicy Lucy -winkels te open en vir ‘n maand te bestuur tot hul sake in orde was. Een van haar groot prestasies was toe sy in 1985 as bestuurderes R5 000 gewen het vir die winkel wat die vinnigste groei getoon het asook vir die skoonste winkel met die beste diens.

Van haar klante is gereelde besoekers wat haar op haar voornaam ken. Sy bestuur haar winkel self en werk steeds in die pruimkleurige geruite Juicy Lucy -bestuurderuniform. Op die koperetiket op haar bors staan Jessica July, bestuurder.

July meen dit is haar betrokkenheid by haar winkel as bestuurder wat haar sukses verseker. “Ek is deel van die personeel,” sê sy. Dit is ook een van haar wenke aan winkeleienaars – “moenie by die huis sit nie, bestuur eerder die plek self.”

Volgens haar het die winkel die afgelope twee jaar ‘n 22 %-groei in omset getoon. Sy verskaf werk aan ses permanente werkers en twee afloswerkers.

July, het nou nog twee winkels in die oog. Sy is amper so lank by Juicy Lucy as wat die kettinggroep oud is en wat in 1973 bekendgestel is as ‘n gesonder alternatief vir kitskosrestaurante.

Sy sê sy het nie gedink sy sal ooit ‘n Juicy Lucy besit nie.

(Bron: Die Burger , 3 Julie 2003)

VRAE:

1. Noem die voordele wat ‘n BK aan ‘n entrepreneur bied.

2. Verduidelik hoekom dit voordelig mag wees om ‘n konsessie te neem as jy ‘n besigheid wil begin. Noem ook een moontlike nadeel.

Assessering

Leeruitkomstes(LUs)
LU 4
Entrepreneurskennis en VaardighedeDie leerder is in staat om entrepreneurs-kennis, -vaardighede en -houdings te ontwikkel.
Assesseringstandaarde(ASe)
Ons weet dit as die leerder:
4.1 finansiële instansies en organisasies wat entrepreneurskap bevorder, kan identifiseer;
4.2 verskillende idees om ‘n besigheid te begin, kan bespreek (insluitend idees om toeriste te lok en konsessiemodelle);
4.3 tussen die vorme van eienaarskap in die informele en formele sektore kan onderskei (alleeneienaarskap, beslote korporasie);
4.4 die finansiële lewensvatbaarheid van ‘n besigheid kan evalueer (bv. aanvangskoste, produksiekoste, verkope en wins); en
4.5 ‘n besigheidsaktiwiteit wat aankope, vervaardiging en bemarking behels, onderneem (behoort die finansiering van die besigheid met eie of geleende geld in te sluit – bv. oortrokke bankfasiliteite).

Get Jobilize Job Search Mobile App in your pocket Now!

Get it on Google Play Download on the App Store Now




Source:  OpenStax, Ekonomiese en bestuurswetenskappe graad 8. OpenStax CNX. Sep 11, 2009 Download for free at http://cnx.org/content/col11039/1.1
Google Play and the Google Play logo are trademarks of Google Inc.

Notification Switch

Would you like to follow the 'Ekonomiese en bestuurswetenskappe graad 8' conversation and receive update notifications?

Ask