<< Chapter < Page Chapter >> Page >

GROEP:

Maak nou ‘n lys van die voordele en nadele van spesialisasie, soos wat uit die tweede groepwerk geblyk het.

Ten einde vir RUILHANDEL voorsiening te maak, was dit dus noodsaaklik dat die volgende tekortkominge verreken moes word:

  • Iemand moes gevind word wat binne die “dubbele ooreenstemming van behoefte” kon pas;
  • Daar moes genoeg produkte vir die ruil beskikbaar wees;
  • Die produkte moes maklik deelbaar wees;
  • Die produkte moes redelik maklik vervoerbaar wees; en
  • Daar moes ‘n standaardeenheid gevind word waarin die waarde van die verskillende produkte uitgedruk kon word.

Die probleem wat met bogenoemde ruilhandel gepaard gegaan het, het mense na ‘n middel wat almal in ruil vir hul produkte sou aanvaar, laat soek. Enigiets wat in algemene gebruik was en algemeen aanvaarbaar was, kon as RUILMIDDEL gebruik word.

In die mens se soeke na sodanige RUILMIDDELS kan ons die volgende ontwikkelingstadiums identifiseer:

Die eerste fase:

Een produk is vir ‘n ander produk verruil, sonder die tussenkoms van “geld” of ‘n “derde produk”, met ander woorde een stel kledingstukke is vir een sak koring verruil. Hierdie ruilverhouding het dus later die norm geword:

  • Een stel kledingstukke = Een sak koring

Die tweede fase:

In dié fase is ‘n “derde iets” gebruik in terme waarvan die waarde van alle goedere uitgedruk kon word. Sodanige “derde iets /artikel” was normaalweg ‘n produk wat as waardevol binne sekere gemeenskappe gereken is, byvoorbeeld ‘n skaap of skape, wat aanduidend van ‘n persoon se rykdom was. Ruiltransaksies is dus aangegaan in verhouding tot die waarde van ‘n skaap of ‘n aantal skape, byvoorbeeld:

  • Twee stelle kledingstukke = Een skaap = Twee sakke koring

Die derde fase:

In hierdie stadium het die behoefte aan ‘n ruilmiddel wat steeds algemeen aanvaarbaar was, maar wat terselfdertyd ook die tekortkominge soos hierbo genoem, te bowe kon kom, na vore getree. Sekere metale wat in daardie tyd as “kosbaar” beskou is, soos onder andere koper, silwer en goud, was besonder geskik om in die verband te gebruik en om algemeen as ruilmiddel aanvaar te kon word. In terme van ons voorbeeld, kan die volgende dus gestel word:

  • Een stel kledingstukke = Een ons silwer = Een sak koring

Die vierde fase:

Weens die gevare daaraan verbonde om die “kosbare metale” oor lang afstande saam te neem wanneer met verafgeleë gebiede handel gedryf is, het die gebruik toe ontstaan om die metale by erkende goudsmede in te lewer en dan ‘n erkenningbewys (goudsertifikaat) ten opsigte van jou deposito te verkry. Hierna het dit gebruik geword om slegs die sertifikate by ‘n ruiltransaksie as bewys voor te lê. Die volgende ontwikkeling was dat die goudsmede later bewyse in verskillende denominasies uitgereik het, wat met verloop van tyd die algemeen aanvaarde ruilmiddel geword het.

Die vyfde fase:

Toe die goudsmede agterkom dat goud of silwer nie so dikwels vir die goudbewyse opgevra word nie, het hulle begin om meer goudbewyse (papiergeld) as wat daar goud in hul kluise was, uit te reik. Dit was die begin van ons moderne papiergeld.

Die sesde fase:

Die mees onlangse ontwikkeling, benewens die druk van note en die aanmunt van muntgeld, is die gebruik van die tjek en ook krediet. Bedrae word by ’n bank op ’n lopende rekening inbetaal en die houer van die rekening kan ’n tjek uitskryf en dit as betaling aanbied. Die ontvanger van die tjek kan die bedrag by die bank op sy eie rekening inbetaal of dit in kontant onttrek. Op hierdie wyse het die tjek al die funksies van geld vervul.

Opsommend kan die historiese ontwikkeling van geld in vier ontwikkelingsfases beskou word:

  • ONTWIKKELING VAN GOEDEREGELD toe daar in die primitiewe gemeenskappe weens die selfvoorsienendheid van hul bestaan, geen behoefte aan geld was nie.
  • DIE ONTWIKKELING VAN METAALGELD (MUNTGELD) wat makliker hanteerbaar, makliker herkenbaar en meer konstant in waarde was, en sodoende ‘n verbetering in die ruilhandel meegebring het.
  • DIE ONTWIKKELING VAN PAPIERGELD omdat metaalgeld te duur, te omslagtig en te onveilig was om alleen as geld diens te doen.
  • DIE ONTWIKKELING VAN TJEKS EN TJEKDEPOSITO’S wat tans die grondslag vorm van ruil- en betalingstransaksies in die moderne ekonomie.

Die ontwikkeling van geld duur steeds voort en daar word tans al meer beweeg in die rigting van ‘n “kontantlose” gemeenskap, waar daar meer en meer van alle vorme van kredietkaarte en “elektroniese” oorplasings vir binnelandse sowel as buitelandse vereffenings, gebruik gemaak word.

Aktiwiteit 4

LU 1.1

ONTWIKKELING VAN GELD

SELF

Maak ‘n lys van al die vorme van geld en geld-geassosieerde middels wat tans in Suid-Afrika gebruik word.

Aktiwiteit 5

LU 1.1

ONTWIKKELING VAN GELD

GROEP:

Verdeel die “geld” wat elkeen in die groep geïdentifiseer het, volgens die volgende indeling:

  • GELD
  • GELD-GEASSOSIEERDE BETAALMIDDEL

Aktiwiteit 6

LU 1.1

FUNKSIES VAN GELD IN DIE EKONOMIE

GROEP:

Bepaal of lei nou uit die voorgaande af watter funksies daar binne die ekonomie aan geld geheg kan word. Verskaf voorbeelde van elk.

Aktiwiteit 7

LU 1.1

ROL VAN KREDIETKAARTE

GROEP:

Maak ‘n lys van al die verskillende vorme van kredietkaarte waarvan julle bewus is.

Assessering

Leeruitkomstes(LUs)
LU 1
DIE EKONOMIESE KRINGLOOPDie leerder sal in staat wees om kennis en begrip van die ekonomiese siklus binne die konteks van ‘die ekonomiese’ probleem te toon.
Assesseringstandaarde(ASe)
Dit is duidelik wanneer die leerder:
  • 1.1 die historiese ontwikkeling van geld en die rol daarvan in samelewings en hul ekonomieë kan beskryf;
  • 1.2 die wyse kan bespreek waarop handel (invoer en uitvoer) die ekonomiese probleem (keuse- en geleentheidskoste) aanspreek, asook die rol van banke in belegging in die ekonomie;
  • 1.3 kan verduidelik hoe verskillende ekonomiese sisteme die ekonomiese probleem aanspreek (bv beplande, mark- en gemengde ekonomieë);
  • 1.4 die rol, regte en verantwoordelikhede van vakbonde kan bespreek; (en)
  • 1.5 kan verduidelik wat inflasie is en redes vir veranderinge in die inflasiekoerse kan bespreek.

Get Jobilize Job Search Mobile App in your pocket Now!

Get it on Google Play Download on the App Store Now




Source:  OpenStax, Ekonomiese en bestuurswetenskappe graad 8. OpenStax CNX. Sep 11, 2009 Download for free at http://cnx.org/content/col11039/1.1
Google Play and the Google Play logo are trademarks of Google Inc.

Notification Switch

Would you like to follow the 'Ekonomiese en bestuurswetenskappe graad 8' conversation and receive update notifications?

Ask