<< Chapter < Page Chapter >> Page >

Afrikaans eerste addisionele taal

Graad 4

Dorp toe

Module 21

Winkel-winkel

Aktiwiteit 1

Om winkels te klassifiseer volgens soort [lu 5.2.3]

(Sortering en woordeskat)

(a) Bring prente van artikels, wat by verskeie soorte winkels gekoop kan word, skool toe. Maak gebruik van advertensieblaaie en tydskrifte.

Sorteer die prente uit onder die volgende temas :

skoenwinkel bakkery
supermark groentemark
klerewinkel slaghuis
meubelwinkel troeteldierwinkel
kafee bloemiste
sportwinkel boekwinkel
apteek

(b) Werk in groepe om 'n plakkaat van elke soort winkel saam te stel.

Elke groep kies een van die onderwerpe/winkels bo genoem en maak 'n plakkaat deur die prente van die artikels wat by 'n spesifieke winkel gekoop kan word, te plak en die winkel se naam bo-aan te skryf. Hierdie plakkate kan in die klas aangebring word.

Aktiwiteit 2

Om vir inligting op ‘n gepaste vlak te lees [lu 3.5.1]

EINDE VAN DIE MAAND

('n Leesstuk met woordeskat en spellingaktiwiteite)

Lees die leesstukkie in julle groepe en bespreek dan die vrae wat daarop volg.

"Einde van die maand" het vir elkeen van ons 'n ander betekenis : Vir Pa is dit betaaldag ; die dag waarop hy sy salaris van die werk kry. Vir Ma beteken dit om weer haar koskaste vol te kry, want ons gaan mos dorp toe om inkopies te doen.

Ons kinders weet al dat dit die dag is waarop ons bederf word. By die klerewinkels kry ons elkeen 'n kledingstuk wat ons die nodigste het. Adri het kerkskoene nodig, Manus moet 'n skooltrui kry en ek wil so graag 'n nuwe rok hê, maar Ma sê ek kort frokkies en sokkies en daarom sal die rok eers moet wag tot volgende maand. Manus het verlede week verjaar en Pa het belowe dat hy vir homself 'n geskenk by die speelgoedwinkel kan gaan uitsoek. Ai, en geniet ons dit nie om daar na al die speelgoed te kyk nie !

Pa jaag ons gewoonlik aan, want hy moet by die bank en by die poskantoor wees voor hulle toemaak. Dit is die verveligste van hierdie dag se uitstappie, want daar is altyd sulke lang toue mense wat wag om by die toonbanke deur die klerke bedien te word en ons kinders moet ons mooi gedra anders kry ons nie roomys nie.

Ma het altyd 'n inkopielys by haar en as sy dit uithaal, weet ons dat ons supermark toe gaan. Hier stry ons kinders oor wie eerste die trollie gaan stoot terwyl dit nog lig is en as ons by die lekkergoedrakke kom, is niemand meer lus om verder te gaan nie. Ma glo daaraan om vleis by die slaghuis en groente by die groentemark te koop, maar gelukkig het die supermark hul eie bakkery en kan ons heerlike vars broodrolletjies koop. Die geur van die warm brood maak ons so honger dat Pa altyd inwillig om ons restaurant toe te neem om iets te eet en te drink.

Terwyl Pa die kruideniersware in die motor laai, gaan Ma gou apteek toe om Adri se hoesmedisyne te kry. By die ingang van die winkelsentrum, net buite die bloemiste, koop Pa vir Ma 'n bos blomme. Die motor is gewoonlik volgelaai as ons daar wegry.

Nog net twee keer se stilhou: by die slaghuis en by die groentemark en dan huis toe. Nou is ons kinders al so moeg en weet ons dat die onaangenaamste werk nog voorlê. Ja, die motor moet by die huis uitgepak word en wie is nou lus daarvoor !

Get Jobilize Job Search Mobile App in your pocket Now!

Get it on Google Play Download on the App Store Now




Source:  OpenStax, Afrikaans eerste addisionele taal graad 4. OpenStax CNX. Oct 21, 2009 Download for free at http://cnx.org/content/col11082/1.2
Google Play and the Google Play logo are trademarks of Google Inc.

Notification Switch

Would you like to follow the 'Afrikaans eerste addisionele taal graad 4' conversation and receive update notifications?

Ask