<< Chapter < Page Chapter >> Page >

Aardrykskunde

Graad 5

Bevolking: verspreiding en digtheid

Module 31

Gedwonge verskuiwings

AKTIWITEIT 1

OM TUSSEN FEITE EN MENINGS TE ONDERSKEI

[LU 1.2; 1.7]

Lees die koerantberigte, bespreek die inhoud in jul groepe en beantwoord dan die vrae.

DISTRIK 6 WORD HAASBEK, STIL . . .

KAAPSTAD - Distrik Ses raak haasbek. Sowat 10 persent van die huise is al gesloop en die tempo sal binne die volgende paar maande versnel.

Eens woelige strate raak verlate en stil. Dit lyk of nog net die vismark in Hanoverstraat sy ou gang gaan. Die stof van die slopery styg oral op en rye van die krotte staan sonder vensters of dakke. Die kaal kolle word al groter.

Die opruiming skep heelwat praktiese probleme. Nie alle huise wat ontruim word, kan onmiddellik gesloop word nie, want dit is so styf teen mekaar gebou en bouvallig dat as een gesloop word, aangrensendes wat nog bewoon word ook ineenstort.

Die Kaapse stadsraad bou as deel van sy huisvestigingsprojekte sekere tye net ekonomiese en dan weer sub-ekonomiese huise. Net mense uit hierdie groepe kan dan uit Distrik Ses verskuif word. Daarom het sekere huise oorgebly.

Die Minister van Gemeenskapsbou, mnr. Blaar Coetzee, het in die Volksraad gesê dat 9 936 Kleurlinge en 30 Indiërs reeds uit Distrik Ses verskuif is. Nog 33 918 Kleurlinge, 1 494 Indiërs en 144 Bantoes moet verskuif word.

Altesame 355 wooneenhede is al gesloop en 6 063 moet nog gesloop word. Dit sal ‘n paar jaar deur voordat die berugte agterbuurte heeltemal opgeruim is.

Uit: Die Burger, 29 Maart 1972

DIE SKANDE VAN DISTRIK SES

Pieter Swardt

KAAPSTAD - Dertig jaar is ‘n lang tyd – ‘n tyd waarin herinneringe vervaag tot ‘n prentjie waarvan die detail ontbreek. Dis gewoonlik met intense geluk of droefheid wat ná soveel dekades nog helder in die geheue bly.

Maar vir baie oud-inwoners van Distrik Ses voel dit soos gister toe hulle vir die eerste keer hoor hulle gaan verskuif word van hul woongebied in die skoot van Tafelberg na die sanderige en windverwaaide Kaapse Vlakte, waar die meeste vandag nog woon.

En daar was geen lekkerte vir enige van die 40 000 mense wat van hul geboortegrond verwyder is voordat die stootskrapers ingestuur is nie.

Mnr. Joe Schaffers (60), een van die mense wat verskuif is, sê al waaroor hy vandag bly is, is dat sy bejaarde ouers gesterf het voordat hulle die vernedering moes smaak om sonder enige inspraak weggeruk te word van die plek waar hulle gebore is en hulle hul kinders grootgemaak het.

“Toe ons vir die eerste keer van die verskuiwing hoor, kon ons dit nie glo nie. Niemand het dit geglo nie. Ons het nie geglo enige mens sou in staat kon wees om so iets aan ‘n ander te doen nie.

En toe dit eindelik gebeur, was dit asof die mense te verslae was om enige weerstand te bied. Hier en daar het ‘n paar ondergronds geprobeer om opstandigheid aan te blaas, maar dit het nooit posgevat nie. Die mense het stil en gedweë hul lot aanvaar.”

Schaffers, ‘n inligtingsbeampte by die Distrik Ses-museum langs die Kaapse Technikon, sê hy is in 1939 in die Bloemhof-woonstelgebou gebore – die jongste van vyf broers en ‘n suster. Die woonstelle was pas klaar gebou. “Die sement was nog nat”.

Get Jobilize Job Search Mobile App in your pocket Now!

Get it on Google Play Download on the App Store Now




Source:  OpenStax, Sosiale wetenskappe: aardrykskunde graad 5. OpenStax CNX. Sep 22, 2009 Download for free at http://cnx.org/content/col10985/1.2
Google Play and the Google Play logo are trademarks of Google Inc.

Notification Switch

Would you like to follow the 'Sosiale wetenskappe: aardrykskunde graad 5' conversation and receive update notifications?

Ask